Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jongste oor Wilgenhof-koshuis
Outeur: Corporate Communication & Marketing/Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 14/02/2024

​Ons bevestig graag dat ons jaarlikse verwelkomingstydperk suksesvol afgeloop het en ons sien uit na ’n konstruktiewe 2024 waar ons kan voortbou op ons pogings om te verseker dat alle studente ’n insiggewende, inklusiewe en transformerende ervaring het wanneer hulle by die US aansluit.

Vir dié doel, en na aanleiding van die vroeëre aankondiging in hierdie verband, kan die US bevestig dat die Rektoraat ’n paneel van drie lede aangestel het om ’n ondersoek te loods na die inhoud wat in twee kamers in die Wilgenhof-koshuis gevind is. Die Rektoraat beoog om deur dié ondersoek te verseker dat die paneel die verwesenliking van US se kulturele transformasie rugsteun in ooreenstemming met die Universiteit se Visie 2040. 

Die mandaat van die paneel is gefinaliseer en sluit onder meer die volgende sleuteldoelwitte in:

Om ’n begrip te vorm van die historiese, kulturele en simboliese dimensies van die inhoud en funksies van die twee vertrekke en dit teen die agtergrond van enkulturasiepraktyke by Wilgenhof-koshuis te oorweeg, en die Rektoraat dienooreenkomstig van raad te bedien.
Om in detail die betekenis van die inhoud en funksies van die twee vertrekke binne die breër institusionele kultuur en werksaamhede van US-koshuise te oorweeg;
Om te evalueer of, en in watter mate, die rekords, praktyke en algemene kultuur van Wilgenhof teenstrydig is met die waardes van die Universiteit en inbreuk kan maak op die menswaardigheid van huidige en voormalige US-personeel en studente.
Om te bepaal of onaanvaarbare praktyke in Wilgenhof met verloop van tyd deur Universiteitspersoneel, alumni of studente verswyg of verdoesel is; en
Om te bepaal of daar bewyse is van gedrag deur vorige en/of huidige studenteleierskap en/of bestuur van Wilgenhof wat strydig is met enige beleide, regulasies, reëls of die Dissiplinêre Kode vir Studente van die US.

Die paneel sal gelei word deur advokaat Nick De Jager. De Jager sal bygestaan word deur dr Dereck Swemmer, die voormalige Registrateur van die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van die Vrystaat; en Penny van der Bank, Adjunkregistrateur: Oorsigbestuursondersteuning aan die US.
As deel van die proses sal die Universiteit akademiese en professionele kundigheid van die Universiteit aan die paneel beskikbaar stel om oorleg te pleeg oor verskeie aspekte wat met die geskiedenis, tradisies, sosiologie, sielkunde en kultuur van die US en sy koshuise verband hou.

Noudat die paneel amptelik aangestel is, sal hulle werk ’n aanvang neem. Verdere kommunikasie sal volg sodra die voorsitter van die paneel tyd gehad het om die metodologie te finaliseer. ’n Verslag sal na verwagting teen einde Februarie, of so gou moontlik daarna, aan die Rektoraat voorgelê word.

Klik hier om die terme van verwysing te lees.