Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-studie lig tekortkominge in sorgafhanklikheidstoelaag vir kinders met gestremdhede uit
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 11/12/2023

Die sorgafhanklikheidstoelaag (SAT) vir kinders met gestremdhede in Suid-Afrika is onvoldoende om in die behoeftes van hierdie kinders te voorsien en om die maatskaplike beskerming van hul gesinne te verseker. Vir gesinne met 'n minimale of geen ander inkomste nie, kan die SAT nie die bykomende koste dek om kindergestremdheid te bestuur nie, en selfs diegene wat toegang verkry, loop die risiko van uiterste armoede.

Só sê dr Zara Trafford van die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing in die Departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Nie een van die Suid-Afrikaanse regering se kontantoordragprogramme (“toelaes") is bedoel om as selfstandige maatskaplike beskerming te dien nie, maar daar is 'n besonder ernstige gebrek aan verantwoordelikheid vir gestremdheid en ondersteuning vir gestremde kinders vanaf regeringsliggame buite die departement van maatskaplike ontwikkeling," sê Trafford, wat Maandag (11 Desember 2023) haar doktorsgraad in die Sielkunde by die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang het. Sy het vir haar doktorsgraad die perspektiewe van verskillende belanghebbendes met betrekking tot die implementering en administrasie van die SAT ondersoek.

Volgens Trafford is daar nog bitter min navorsing oor die SAT as 'n navorsingsonderwerp gedoen in vergelyking met die kinderonderhoudstoelae (vir armoedeverligting) en die volwasse ongeskiktheidstoelaag. Sy voeg by dat die SAT nie 'n topprioriteit vir politici is nie omdat die regering gestremdheid nie genoeg geprioritiseer het nie.

Trafford het as deel van haar navorsingstudie onderhoude gevoer met ouers wat die SAT ontvang, asook amptenare van die Suid-Afrikaanse Maatskaplikesekerheidsagentskap (SASSA), dokters wat SAT-assesserings doen, maatskaplike werkers, aktiviste, akademici en volwassenes met gestremdhede. Sy het ook fokusgroepgesprekke met van die ouers gevoer.

Trafford sê hoewel die SAT broodnodige ondersteuning aan gesinne gebied het, dit eenvoudig nie genoeg was om kinders met gestremdhede te ondersteun nie weens hoë werkloosheid, die gebrek aan versorging en 'n gebrek aan aanvullende dienste en bepalings van ander staatsdepartemente.

“Alle belanghebbendes was bewus van die buitensporige koste verbonde aan kindergestremdheid, maar het geweet die SAT word gewoonlik by 'n inkomstepoel gevoeg en gebruik om almal in die huishouding te versorg, en om vir ander dienste te betaal wat eintlik gratis moet wees of swaar deur die regering gesubsidieer moet word, soos toeganklike vervoer, toepaslike onderwys en gestremdheid-inklusiewe gesondheidsorg vir hulle kind met gestremdhede."

Sy voeg egter by dat belanghebbendes verskil het in hulle begrip van die beoogde doel van die SAT.

“Omdat hulle dikwels van die werk af moes wegbly om hulle kind behoorlik te versorg, het versorgers gevoel dat die SAT ten minste in al hulle gestremde kind se behoeftes moet voorsien.

“Dokters het die SAT as 'n fonds gesien wat gesinne in staat sou stel om in die ontwikkelingsbehoeftes van hulle gestremde kind te voorsien, maar het ook besef dat staatsbegrotings onder baie druk verkeer en bekommerd is dat daar probleme met regverdigheid regoor die land kan wees.

“SASSA-amptenare het die SAT as 'n erkenning gesien van die voltydse sorg wat dikwels vir kinders met gestremdhede vereis word, maar het ook beklemtoon dat die SAT nie bedoel is as totale inkomstevervanging nie."

Uitgesluit

Trafford sê hierdie verskillende interpretasies spruit deels uit die vaagheid van die Wet op Maatskaplike Bystand, wat die SAT as 'n toelae definieer wat bedoel is vir die primêre versorger van 'n persoon onder 18 wat permanente sorg of ondersteuningsdienste benodig weens hulle fisiese of geestelike gestremdheid. Die aard en omvang van die sorg en dienste in hierdie definisie is nie andersins verder uiteengesit nie, wat ruimte laat vir botsende interpretasies en verwarring, voeg sy by.

“Baie kinders wat by die SAT sal baat (en tegnies in aanmerking kom) word klaarblyklik uitgesluit, deels weens die verwarring rondom doel en geskiktheid en die hekwagtermag wat aan administrateurs en gesondheidswerkers in die voorste linie gegee is."

Trafford wys daarop dat maatskaplike werkers en assesseringsdokters ook aangedui het dat gesinne gesukkel het om vroeg genoeg toegang tot die SAT te kry vir 'n optimale uitwerking op die gesondheid en welstand van kinders wie se versorgers daarvoor in aanmerking kom.

“Regeringsentiteite is bekommerd oor 'insluitingsfoute' (dit wil sê mense wat nie in aanmerking kom vir spesifieke toelaes nie, maar wat onregmatig toegang tot daardie toelaes verkry), maar dit blyk dat uitsluitingsfoute 'n baie groter probleem vir die bevolking is wat veronderstel is om voordeel uit die SAT te trek.

“Hoewel die versorgers wat aan my studie deelgeneem het, uiteindelik toegang tot die SAT gekry het, het dit dikwels jare lank gesloer. In die meeste van hierdie gevalle het ouers eers toegang verkry ná herhaalde afkeuring deur voorstelinie-SASSA-amptenare, hoewel hierdie amptenare tegnies nie veronderstel is om hierdie besluite te neem nie."

“Trafford sê die implementering van hierdie toelae word ook belemmer deur die assesseringsproses om te bepaal of 'n kind in aanmerking kom om dit te ontvang.

“Die dokters met wie ek onderhoude gevoer het, was almal spesialiste in pediatriese ontwikkeling en het goed toegerus gevoel om hierdie assesserings te doen. Dit is egter nie noodwendig die geval in landelike gebiede en provinsies met minder hulpbronne nie, waar die gebrek aan beskikbare dokters tot wagtye en frustrasies rondom (vermeende en werklike) onbillikheid in die toekenning van hierdie toelaes bydra. Daar is ook voortdurende vertragings in die registrasie van geboortes, wat toegang tot bronne van staatsgesubsidieerde ondersteuning kan belemmer."

Trafford noem dat ouers ook bekommerd was oor hulle kinders se oorgang na volwassenheid omdat die volwasse gestremdheidstoelaag nie outomaties aan diegene wat voorheen 'n SAT ontvang het, toegeken word nie.

Sy doen 'n oproep om intersektorale samewerking en die prioritisering van gestremde kinders se regte om die impak van die SAT te verhoog en om te verseker dat kinders met gestremdhede 'n beter lewensgehalte het.

  • Foto: Dr Zara Trafford by gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els