Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekroonde US-afwentelmaatskappy beïndruk by COP28 met sy plastiekafvalbestuursoplossing
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 11/12/2023

'n Afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch (US), Urobo Biotech, het hom as 'n wêreldwye navorsingsleier gevestig deur deelname aan COP28, die VN se klimaatberaad. Urobo Biotech is ook in Suid-Afrika beloon toe die maatskappy skoonskip gemaak het in die Entrepreneurskapontwikkeling in Hoër Onderwys (EDHE) Intervarsity Nasionale Finale se navorsingsgebaseerde besigheidskategorie. Die prysuitdeling is in Gauteng gehou. 

Twee nagraadse studente aan die US se Departement Mikrobiologie, Wessel Myburgh en Dominique Rocher, het Urobo Biotech met behulp van die US se Innovus-afdeling gestig om tegnologie te kommersialiseer wat mikrobiese ensieme gebruik om sekere soorte plastiek – veral bioplastiek – af te breek en dit moontlik tot waardevolle brandstowwe en chemikalieë te herwin.

“Ons beoog om die koste wat deur organiese afvalverwerkingsfasiliteite aangegaan word (as gevolg van verbranding en storting van bioplastiekafval) met minstens 50% te verminder. Voorts toon voorlopige evaluering van ons tegnologie vir hierdie doel dat ons die biogasproduksie in 'n fasiliteit wat ons tegnologie gebruik, met 54% kan verhoog," sê Myburgh.

Internasionale erkenning

In die afgelope vier jaar kon die maatskappy deur sy vennootskap met die Universiteit van Padova (UniPD), waar die twee studente by 'n gesamentlike PhD-program betrokke is, met maatskappye in Italië saamwerk om sy tegnologie te toets. Urobo se navorsing maak reeds opslae en dit is uit byna 3 000 aansoeke uit 100 lande gekies om 'n aanbieding te doen by COP28 se Protypes for Humanity, 'n inisiatief wat gegradueerdes, akademici en leiers in verskeie velde byeenbring om aan innoverende oplossings met werklike impak saam te werk.

Myburgh, wat Urobo in Doebai verteenwoordig het, sê die US word as 'n wêreldleier in innovasie beskou. “Urobo se uitstalling by Prototypes for Humanity en die bywoning van COP28 was vir ons 'n ongelooflike geleentheid om ons tegnologie op 'n globale platform ten toon te stel. Dit het ook die geleentheid gebied om werklik terug te staan en ons rol in die wêreldwye poging om die geweldig komplekse kwessie van klimaatsverandering aan te pak, krities te bekyk," sê Myburgh.

Die EOHO-entrepreneurskapskompetisie identifiseer top-entrepreneurs van Suid-Afrikaanse universiteite en bied blootstelling aan potensiële beleggers. Volgens Rocher was dit “werklik inspirerend om sy aan sy met verteenwoordigers van 26 Suid-Afrikaanse universiteite 'n uitstalling by die EOHO-kompetisie aan te bied. Dit gaan nie net oor wen nie, maar om deel te wees van 'n diverse gemeenskap van innoverende denke wat daaraan toegewy is om 'n positiewe impak te maak. Die ervaring het die belangrikheid van die oorbrugging van die gaping tussen die akademie en die nywerheidsektor benadruk. Om die eerste plek in die kategorie Navorsingsgebaseerde Besighede te wen, is 'n bewys van ons span se verbintenis tot innovasie en volhoubaarheid."

Pak die plastiekprobleem

Hoewel dit dikwels as die voorkeuralternatief vir tradisionele plastiek beskou word, kan bioplastiek – gemaak van bio-afbreekbare materiale van hernieubare bronne – ook probleme vir afvalbestuurfasiliteite skep deur pompe, filters en siwwe te verstop, verduidelik Myburgh. Dit beteken dat afvalbestuurfasiliteite dikwels kies om hierdie plastiek na verbrandingsoonde of stortingsterreine te stuur. Dit is nie net strydig met volhoubare afvalbestuurspraktyke nie, maar is ook duur.

In Europa word die meeste bioplastiek na organiese afvalbestuurstelsels gestuur, waar kos en organiese afval ook hergebruik word om energie en CO2 in die vorm van biogas te produseer. Baie van hierdie fasiliteite is egter nie ontwerp om hierdie groot toevloei van bioplastiekafval te hanteer nie. Dit kos 'n enkele mediumgrootte fasiliteit in Italië sowat €800 000 per jaar om afval na verbrandingsoonde of stortingsterreine te stuur, sê Myburgh.

Bioplastiek is ook 'n uitdaging vir gevestigde herwinningsfasiliteite van poliëtileentereftalaat (PET) – die basiese onverwerkte materiaal waaruit plastiekprodukte gemaak word – aangesien groot hoeveelhede PLA (polilaktied), 'n tipe bioplastiek, die termomeganiese herwinningsproses wat vir dié doel gebruik word, kan ontwrig. Dit veroorsaak visuele en fisiese veranderinge aan die herwonne hars, wat die gehalte en verkoopbaarheid van die herwonne PET verlaag, verduidelik Myburgh.

Urobo pak hierdie uitdagings aan deur voorbehandelingsprosesse te bied wat mikrobiese ensieme gebruik om die bioplastiek af te breek. Die afgebreekte produkte (hidrolisaat) kan dan na die bestaande verteertoestelle van organiese afvalverwerkingsfasiliteite gestuur word om die bestaande mikrobiese konsortium in staat te stel om hierdie hidrolisaat na biogas om te skakel. "Vir PET-herwinnaars kan die PLA-fraksie in die mengsel van PLA en PET selektief deur ons ensiemoplossings afgebreek word om melksuur te produseer wat gesuiwer en as 'n waardevolle chemiese produk verkoop kan word," verduidelik Myburgh.

“Ons is bewus daarvan dat bestaande fasiliteite huiwerig is om 'n nuwe tegnologie te implementeer wat van hul normale bedrywighede afwyk. Maar ons glo ons het 'n sterk saak wat bykomende voordele vir hulle bied (wat kostevermindering en verhoogde waarde/inkomste betref). Dit sal verskeie nywerheidsfasiliteite hopelik in die toekoms oortuig om van ons tegnologie gebruik te maak."

Die Urobo-span het befondsing bekom vir 'n nuwe projek om saam met nywerheidsfasiliteite in Italië te werk om hul tegnologie in 2025 by een van hul terreine in werking te stel. “Dit sal ons 'n idee van die kommersiële lewensvatbaarheid van ons prosesse gee en sal ook as die eerste kommersiële gevallestudie van ons tegnologie dien."

 Urobo se teenwoordigheid by COP28 het ook 'n geleentheid gebied om met potensiële beleggers te skakel, voeg Myburgh by. “Ons is vol vertroue dat dit Urobo in staat sal stel om sy kommersialiseringstrategie in die komende jare te implementeer."

Myburgh benadruk dat Urobo nog nooit sy tegnologie as die allerantwoord vir plastiekafval voorgestel het nie. “Dit sal 'n menigte tegnologieë, beleidsingrypings en openbare betrokkenheid verg om werklik 'n impak te maak op die probleme wat met ons plastiekverbruik as 'n samelewing geassosieer word. As Urobo deel kan wees van daardie proses om impak en klimaataksie te verwesenlik, het ons ons deel gedoen - net soos baie ander bydraers nodig is om hul deel te doen."

Prof Sibusiso Moyo, Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies van die US, het gesê “die Universiteit Stellenbosch wens die Urobo-span, en veral prof Marinda Viljoen-Bloom, geluk met wat sy met hierdie studente bereik het.

“Prof Alf Botha, Hoof van die Departement Mikrobiologie, is 'n wonderlike leier wat 'n lewendige omgewing skep vir kreatiewe denke, innovasie en die omskepping van hierdie idees in beginnerbesighede en nuwe oplossings wat direkte oplossings bied vir probleme wat ons samelewing en gemeenskappe ervaar. Ek wil graag die Departement, die Fakulteit Natuurwetenskappe, die Launchlab-span en Innovus bedank vir die ondersteuning wat hulle deurgaans aan die US-ekosisteem bied."

Onderskrif: US-studente Dominique Rocher en Wessel Myburgh het Urobo Biotech met behulp van die US se Innovus-afdeling gestig om tegnologie te kommersialiseer wat mikrobiese ensieme gebruik om sekere soorte plastiek – veral bioplastiek – af te breek en dit moontlik tot waardevolle brandstowwe en chemikalieë te herwin.

Foto: Stefan Els