Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
HELTASA “[un] Conference” 2023
Outeur: Dr Anthea H M Jacobs
Gepubliseer: 07/11/2023

Hoogtepunte van HELTASA-konferensie 2023


Die 2023 HELTASA-konferensie is van 24 tot 26 Oktober deur die Noodwes-Universiteit (NWU) op hulle Vanderbijlpark-kampus aangebied. Die konferensie was ʼn hibridiese geleentheid, met 212 deelnemers in persoon en 108 aanlyn. Daar was 86 verskillende aanbiedings, werksessies, kritiese dialoë, plakkate en paneelsessies. Die tema van die konferensie was “Celebration of Scholarship: Connecting the Lights" (Viering van Akademieskap: Koppeling van die Ligte), met subtemas wat met die ervaring van onderrig, leer en assessering (OLA), digitale transformasie in hoër onderwys (HO), akademieskap in HO, en HO OLA-praktyke in veranderende tye verband hou.

In sy openingrede het prof Robert Balfour (NWU Adjunk-visekanselier: Onderrig en Leer) deelnemers uitgedaag om die geleentheid van die post-Covid-oomblik aan te gryp om hulle af te vra wat hulle anders ten opsigte van onderrig, leer en assessering kan doen. Dit sou behels dat ons in die oomblik teenwoordig moet wees en ons daaraan moet herinner dat ons OLA-praktyke ons persoonlike handelsmerk is. Een vraag waaroor deelnemers moes besin, was: “Hoe verbeter *dit* die studente-ervaring?"

ʼn Hoogtepunt van die tweede dag was studente se menings wat by die paneelbesprekings oor Generatiewe KI in HO gelug is. Die gesprekke het beklemtoon dat, hoewel die aangryp van hierdie tegnologie aan jou ʼn voorsprong kan besorg, dit ʼn tweesnydende swaard is wat individualiteit kan belemmer. Een paneellid het genoem dat Generatiewe KI graag onderrig. Ons moet dus nadink oor hoe ons dit kan gebruik om ons OLA-praktyke uit te brei. Nog ʼn hoogtepunt van die tweede dag was ʼn paneelbespreking van die implikasies van 'publiseer of gaan onder' ten opsigte van vakkundigheid in HO en hoe opkomende navorsers publisering op verskillende maniere kan benader. En natuurlik was die galadinee ʼn hoogtepunt vir sommige deelnemers. By hierdie geleentheid is die Onderrigbevordering aan Universiteite-toekenning (OBU-) vir 2023 aan prof Elmarie Costandius van die Universiteit Stellenbosch toegeken.

Een hoogtepunt van die derde dag was die kritiese gesprek oor ontwrigting en die akademieskap van onderrig en leer. Deelnemers het die (on)konferensie-metodologie as ontwrigting van akademieskap en OLA-praktyke skeppend deur sang, dans, woorde en aksies verken.

In hierdie drie dae het HELTASA-afgevaardigdes as ʼn gemeenskap van HO-opvoeders, ‑studente, ‑denkers en -innoveerders byeengekom om te verken, grense te ontwrig en hulle denke by mekaar te laat aansluit. Die geleentheid was suksesvol danksy die aktiewe deelname van die afgevaardigdes en hulle passie vir HO OLA. Baie dankie aan die reëlingspan van die NWU. HELTASA moedig lede en deelnemers aan om die gesprekke voort te sit, die kennis wat bekom is, te deel en die insigte wat tydens die konferensie opgedoen is, te implementeer.