Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boodskap van die Rektor - assesseringswense en belangrike inligting oor US-ondersteuningsdienste
Outeur: Prof Wim de Villiers
Gepubliseer: 01/11/2023

​Beste studente

Ek wil graag aan die begin van die November-assesseringstydperk by die Universiteit Stellenbosch (US) alle studente baie sterkte toewens vir die assesseringstydperk, julle finale studies vir die jaar, die skryf van vraestelle en die indiening van jaareinde-opdragte en voorleggings. Mag julle regtig beloon word vir al die harde werk en toewyding gedurende 'n moeilike jaar. Dit is nou die tyd om vir oulaas te fokus en skouer aan die wiel te sit vir hierdie laaste uitdaging, maar onthou, dit is ook belangrik om genoeg te slaap en na julleself te kyk.
 
Ek wil dus graag hierdie geleentheid gebruik om julle aan belangrike en waardevolle ondersteuningsdienste by die US te herinner wat ook gedurende die assesseringstydperk aan studente beskikbaar is. Lees asseblief die inligting oor sekuriteits- en pendeldienste, sielkundige ondersteuning, akademiese ondersteuning, maatreëls tydens beurtkrag, lokale met Wi-Fi en toegang tot oop eetsale en spysenieringsdienste vir PSO- en pendelstudente hieronder.
 
Gebruik asseblief die verskeie ondersteuningsdienste en vra vir hulp wanneer julle dit nodig het.
 
Baie sterkte! Ons dink aan julle en ons beste wense vergesel julle.
 
Saam vorentoe.
 ​
Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier 


ONDERSTEUNINGSDIENSTE EN HULP VIR US-STUDENTE
 
Saamstapdiens – Stellenbosch-kampus
Ons raai studente aan om die saamstapdiens te gebruik wat elke aand vanaf 18:00 beskikbaar is. Hierdie diens is die hele jaar beskikbaar. Studente kan vra dat 'n veiligheidsbeampte saans saam met hulle stap wanneer hulle tussen geboue en parkeerterreine op kampus beweeg. Stuur 'n versoek via WhatsApp na 082 808 2333 of skakel Kampussekuriteit by 021 808 4891.
 
Nagpendeldiens – Stellenbosch-kampus
Studente word aangemoedig om die nagpendeldiens te gebruik. Dit is 'n bespreekte diens vir studente wat nog tot laat saans op kampus studeer om vanaf die oplaaipunt by die Neelsie-studentesentrum tot by private verblyf elders in die dorp vervoer te word. Die pendelbussie vertrek elke uur op die uur vanaf die Neelsie-studentesentrum en vervoer studente binne 'n radius van 7 km van die kampus af. Bespreek asseblief via die MySun-platform: MySun > Dienste > Besprekings: Pendeldiens.
 
Meer inligting oor die pendeldiens op die Stellenbosch-kampus.
 
Pendeldienste – Tygerberg-kampus
Meer inligting oor die pendeldiens op die Tygerberg-kampus.
 
Kampussekuriteit
Meld asseblief enige sekuriteitsverwante voorvalle telefonies by Kampussekuriteit aan. Hulle is 24/7 beskikbaar.

  • 0800 02 5827 (tolvry)
  • 021 808 2333 (Stellenbosch-kampus)
  • 021 938 9507 (Tygerberg-kampus)

 
Terapeutiese en akademiese ondersteuningsdienste
Die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) bied professionele ondersteuning en berading aan studente met sielkundige, emosionele, persoonlike of maatskaplike behoeftes.
 
Die SSVO bied ook gedurende assesseringstydperke ondersteuning en terapie aan studente. Die dienste is gratis en vertroulik.
 
Om terapeutiese ondersteuning tydens kantoorure te versoek (08:00-16:00), kontak asseblief die SSVO by supportus@sun.ac.za of 021 808 4994 (Stellenbosch-kampus) of 021 927 7020 (Tygerberg-kampus).

In geval van 'n krisis ná ure, bel asseblief die ER24-krisislyn by 010 205 3032.

Studente wat akademiese berading benodig, kan die SSVO by 021 808 4707 skakel of 'n e-pos stuur na studysuccess@sun.ac.za.
 
Meer inligting oor die SSVO se dienste.
 
ER24-noodnommer
010 205 3032
 
Beurtkrag – lokale met elektrisiteit en Wi-Fi
Ons herinner studente graag aan die beskikbaarheid van ruimtes met deurlopende kragtoevoer en Wi-Fi-toegang wat op die interaktiewe kampuskaart aangedui word. Die kaart is hier beskikbaar. Klik op “Layers" en dan op “Campus Loadshedding". Tree gerus met ons in verbinding by communication@sun.ac.za indien jy enige probleme ondervind om hierdie ruimtes te vind.
 
Beurtkrag tydens assesserings
Die US wil verseker dat daar voldoende gebeurlikheidsmaatreëls getref is indien daar tydens die jaareinde-assesserings ontwrigtings weens beurtkrag sou voorkom. Sien asseblief die skrywe van die Elektrisiteitskrisisgebeurlikheidskomitee op 17 Oktober vir meer inligting.
 
Klik hier vir gebeurlikheidsmaatreëls met betrekking tot beurtkrag tydens assesserings.
 
Skryflaboratorium
Die Skryflaboratorium bied tot vroeg in Desember gratis skryfkonsultasies aan. Studente kan konsultasies aanvra om enige skryfwerk te bespreek, insluitende assesseringsvrae en die antwoorde daarop; beursaansoeke; CV's; tesisse; voorleggings; ensovoorts. Die Skryflaboratorium sal studente help om te bepaal of hulle assesseringsvrae korrek geïnterpreteer het en hoe hulle hul antwoorde kan verbeter sodat dit duideliker en meer gefokus is.
 
Sessies duur 50 minute. Aanlyn sessies (via MS Teams) en persoonlike sessies (by Banghoekweg 44, Stellenbosch) is beskikbaar. Klik hier vir die Skryflaboratorium se elektroniese besprekingstelsel.
 
Vir meer inligting of hulp, stuur asseblief 'n e-pos na Anne-Mari Lackay by amlackay@sun.ac.za of Vinelene Hartley by vhartley@sun.ac.za.
 
Maaltyd van die dag – oop eetsale – PSO-studente
PSO- en pendelstudente het toegang tot spysenieringsdienste in koshuise. Elke PSO/pendelstudent word by hulle eerstejaarregistrasie by 'n kluster ingedeel. Hulle het dan toegang tot die oop eetsale in hierdie klusters. Kyk hier om te sien by watter kluster jy ingedeel is: MySun > Akkommodasie > Akkommodasie-status.
 
Voordat enige ete bespreek kan word, moet studente seker maak hulle is vir COB geregistreer en om etes te kan bespreek. PSO-/pendelstudente moet eers hulle eterekeninge aktiveer. Sien asseblief hierdie dokument vir inligting oor hoe om hierdie diens te aktiveer, betalings en waar die oop eetsale is.
 
Studente moet op die MySun-portaal registreer om etes op die Fasiliteitsbestuurstelsel (FMS) te bepreek. Klik op “meal booking". Nadat studente geregistreer het, is hulle welkom om via die stelsel etes in hulle toegewysde eetsaal te bespreek. Die FMS is beskikbaar via MySun en ook hier: https://fmsweb.sun.ac.za/
 
Spyskaarte en die koste is beskikbaar op die FMS. Indien studente enige navrae oor etes het, is hulle welkom om 'n e-pos aan Lynique Bergstedt by lab@sun.ac.za te stuur.
 
Meer inligting oor Private Studente-organisasies (PSO's).
 
Meer inligting oor klusters.
 
Openingsure van die US-biblioteke
Klik asseblief hier vir die openingstye van die onderskeie biblioteke.