Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Richard Pitcher is ’n kampvegter vir gelykheid in gesondheid
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 17/10/2023

Prof Richard Pitcher, hoof van die Afdeling Radiodiagnose en uitvoerende hoof van die Departement Mediese Beelding en Kliniese Onkologie aan die Universiteit Stellenbosch, het verlede week (12 Oktober 2023) sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was “Radiologie in my leeftyd – elke dag 'n nuwe diagnostiese deurbraak".

Pitcher het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy werk in radiologie (die diagnose en behandeling van siektes deur verskeie beelde van liggaamsdele te gebruik) help om gesondheidsgelykheid in Afrika te bevorder.

Vertel ons meer van jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke veld belanggestel het.

My navorsing spreek breedweg beeldingsuitdagings op die vasteland van Afrika aan en is gesamentlik deur die Universiteit se visie vir internasionalisering en deur die globale gesondheidsperspektiewe van my voormalige dekaan, professor Jimmy Volmink, geïnspireer.

Die werk is aangespoor deur die besef dat die belangrikste radiologiese vooruitgang in my leeftyd, soos die bekendstelling van ultraklank, rekenaartomografie en magnetiese resonansbeelding, paradoksaal bygedra het tot verhoogde ongelykheid in globale toegang tot beelding. Aan die een kant van die wêreldspektrum is lande met goeie hulpbronne met oorvloedige moderne toerusting, waar die grootste uitdaging oormatige en onvanpaste gebruik van beelding is, terwyl nagenoeg twee-derdes van die wêreldbevolking aan die ander kant nie eens die mees basiese radiologiese dienste het nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie doen aan die hand dat een gewone X-straal- en ultraklankmasjien vir elke 50 000 mense sowat 90% van alle radiologiese behoeftes sal aanspreek. Aan die begin van my loopbaan by die Universiteit Stellenbosch in 2010 kon ek egter geen gedetailleerde data oor radiologiese bronne in Afrika vind nie. Ek het my voorgeneem om hierdie kennisgaping in samewerking met nasionale departemente van gesondheid en regulerende owerhede regoor die vasteland aan te spreek. Tot op hede het ons breedvoerig oor radiologiese bronne in Afrika geskryf. Hierdie hulpbrondata op landsvlak is die mees gedetailleerde vir enige wêreldstreek en het die maatstaf vir soortgelyke werk in ander streke geword.

Navorsing oor die benutting van bestaande radiologiese hulpbronne – iets wat ook wêreldwyd nie goed verstaan word nie – het as uitbreiding op hierdie werk gedien. Ons het onlangs 'n reeks samewerkende projekte op hierdie gebied saam met die Wes-Kaapse regering voltooi deur gebruik te maak van die provinsie se unieke omvattende radiologiese data.

Hoe sal jy die relevansie van jou werk beskryf?

Die werk spreek direk tot die wekroep tot gesondheidsgelykheid soos in die Verenigde Nasies se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling 2030 vervat is.

Jy het reeds baie jare in die uitdagende omgewing van hoër onderwys deurgebring. Wat hou jou aan die gang wanneer dinge moeilik raak?

Die Fakulteit en die Universiteit was tot dusver 'n buitengewone ondersteunende omgewing wat 'n mens in onstuimige tye staande gehou het. Die samewerkende netwerk wat met die verloop van tyd tussen akademiese radiologiedepartemente landwyd ontwikkel het, is ook van onskatbare waarde.

Waarvan hou jy die meeste van jou werk?

Die institusionele verantwoordelikhede van 'n akademiese departementshoof by 'n Suid-Afrikaanse geneeskundige fakulteit strek baie wyd en sluit kliniese werk, onderrig, navorsing en bestuur in. Die pos bied ook unieke geleenthede vir samewerking op nasionale en internasionale vlak. Ek vind die wydte en verskeidenheid van die werk, asook die geleentheid om op verskillende vlakke van gesondheidsorg met soveel groepe om te gaan, uiters bevredigend.

Wat is jou boodskap aan jongmense wat 'n loopbaan as diagnostiese radioloog nastreef?

Moenie die diepgaande bevrediging van 'n akademiese loopbaan in gesondheidsorg in hierdie land onderskat nie.

Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.

Ek swem dwarsdeur die jaar daagliks 40 minute buite vir oefening. (Mense sal dit seker nie baie opwindend vind nie, maar dalk onverwags!)

Hoe bring jy jou vrye tyd 'n?

My geliefkoosde tydverdryf is 'n lang wandeling saam met my vrou, Stevie, en ons Staffordshire-bulterriër, Baxter (en enigiemand anders wat wil saamstap), of enige van die ontelbare skouspelagtige roetes (bos, berg, kus) rondom die Skiereiland.