Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rondom die wêreld in ’n week – Globale Week 2023
Outeur: SU International
Gepubliseer: 17/10/2023

Vanjaar se aflewering van Globale Week het van 9 tot 12 Oktober plaasgevind. Die week word aangebied deur die Eenheid vir Globale Onderwys (UGE) van Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal en bestaan uit verskeie geleenthede om gesprekke oor studentemobiliteit, volhoubaarheid en wêreldburgerskap aan die gang te sit.

Volgens Bantubonke Louw, UGE-programbestuurder van Semestermobiliteit, het die Globale Week-inisiatief begin in antwoord op die behoefte om doelbewus 'n internasionale, interkulturele en globale element by die US-kampuservaring in te sluit. Dít maak deel uit van die Universiteit se strategiese doelwit om sowel plaaslike as internasionale studente 'n transformerende ervaring te bied. “Die doel was om alle studente en personeellede kans te gee om aan programme, geleenthede en aktiwiteite vir 'tuis-internasionalisering' deel te neem. Dit het nie net wêreldburgerskap bevorder nie, maar ook integrasie en interkulturele bewustheid aangemoedig," sê hy. “Die aktiwiteite en geleenthede het alles bygedra tot die verwesenliking van die US se graduandi-eienskappe en 'n transformerende studente-ervaring."

Die week het begin met die Volhoubaarheidswêreldkafee op 9 Oktober, wat in samewerking met die SDG/2063 Impaksentrum aangebied is. Uiteenlopende stemme en sienings uit verskeie omgewings en sektore is hier gehoor. “Die Wêreldkafee was 'n verrykende ervaring wat die belang van onderwys, individuele inisiatief, samewerking en leierskap op ons gesamentlike reis na 'n meer volhoubare wêreld onderstreep het," sê Corina du Toit, programbestuurder van die SDG/2063 Impaksentrum. “Die gesprekke het ook beklemtoon hoe belangrik samewerking is as 'n hoeksteen van alle volhoubaarheidspogings. Deur saam te werk, idees uit te ruil en hulpbronne saam te voeg, kan ons méér bereik en blywende verandering op 'n wêreldskaal teweegbring."

Op 10 Oktober het studente by die Krotoagebou byeengekom vir die somer- en winterskooluitstalling, waar vorige deelnemers aan die US se somer- en winterskole met portuur oor hulle ervarings gesels het. Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het ná die uitstalling 'n inligtingsessie oor studentefinansiering aangebied.

Studente en personeel is later daardie dag op 'n gratis anime-rolprentvertoning in samewerking met die US Japan Sentrum getrakteer. In pas met die doel van Globale Week, naamlik om internasionalisering, interkulturele bevoegdhede en gesprekvoering onder studente en personeel te bevorder, het die rolprent, Spirited, studente 'n blik op die Japannese kultuur gebied. Die prent speel af in 'n Japannese badhuis waar verskeie figure uit die Japannese folklore, waaronder kami (die gode of heilige magte wat in die Sjinto-geloof aanbid word), kom bad het.

Die week is afgesluit met 'n Study Abroad-uitstalling en die uiters gewilde internasionale kosaand.

Bantubonke sê dit was bevredigend om te sien hoe studente en personeellede informeel deelneem aan sinvolle gesprekke oor belangrike onderwerpe soos die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte en elkeen van ons se rol om dit te bereik, die voordele van en beskikbare finansiering vir Study Abroad-geleenthede, 'n waardering vir diversiteit, en bewustheid van ander se kultuur. “Die week het studente en personeel in wese 'n geleentheid gegee om rondom die wêreld te 'reis', net hier op kampus, en het beslis volop moontlikhede gebied om te verken, te gesels en meer oor hulleself en ander uit te vind," sê hy.