Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geestesgesondheid is kompleks, kan nie net tot kontrolelys van simptome gereduseer word nie
Outeur: Mark Tomlinson
Gepubliseer: 10/10/2023

​Wêreldgeestesgesondheiddag word elke jaar op 10 Oktober gevier. In ʼn meningsartikel vir die Daily Maverick skryf prof Mark Tomlinson van die Instituut vir Lewensloop-gesondheidsnavorsing dat geestesgesondheid kompleks is en nie net tot 'n kontrolelys van simptome gereduseer kan word nie. Ons moet eerder fokus op die rol wat die diep menslike behoeftes van behoort, sosiale verbondenheid, dankbaarheid, vriendelikheid en hoop in ons welstand speel.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Mark Tomlinson*

Wêreldgeestesgesondheiddag word elke jaar op 10 Oktober gevier. Die dag is bedoel om die aandag wêreldwyd op kwessies rondom geestesgesondheid en geestesversteuring te vestig. Vanjaar se tema is “Geestesgesondheid is 'n universele mensereg" en vanjaar se doel is om bewustheid te verhoog en tot aksie oor te gaan om die geestesgesondheid van almal as 'n universele mensereg te bevorder en te beskerm.

Daar is die jongste tyd hernude fokus op geestesgesondheid. Daar is baie redes hiervoor. Miskien is die grootste rede die reperkussies van die Covid-19-pandemie. Inperkings, skoolsluitings, afsondering en miljoene mense wat gesterf het, het tot 'n toename in bekommernis, angs en depressie en selfdood gelei.

Hierdie hernude fokus op geestesgesondheid moet verwelkom word. Daar is nie 'n enkele land in die wêreld waar alle mense wat aan 'n geestesversteuring ly, die nodige sorg ontvang nie. En hoe armer die land, hoe groter is die gaping tussen behoefte en behandeling. Tot op hede was baie van die fokus op die identifisering van simptome, diagnose en verwysing vir sorg. En dit is natuurlik noodsaaklik. Maar ek het my al hoe meer begin bekommer oor die tegniese aard van baie hiervan. Ons sien toenemend 'n samesmelting van geestesgesondheid met geestesversteuring. Waar die telling bo 11 op 'n 27-punt-graderingskaal 'n teken van depressie geword het. Dit is nie. En waar heel normale reaksies op teëspoed (soos verlies) 'n mediese toestand word, en waar ons die diep kompleksiteit van mense se lewens in 'n kontrolelys van simptome indruk. 

Ek het onlangs die voorreg gehad om as adviseur op 'n leerplatform op te tree wat geestesgesondheidsinnoveerders onder die jeug wêreldwyd ondersteun (gefinansier deur Grand Challenges Canada). Een van hierdie innoveerders is “Organización de los Pueblos Indígenas de la Amazonía Colombiana" (OPIAC). OPIAC werk in Colombia in Latyns-Amerika in vennootskap met inheemse jongmense. Die streek word gekenmerk deur historiese trauma, verlies aan grondgebied, geweld, diskriminasie, ekonomiese onsekerheid en die agteruitgang van baie sosiale instellings.  Ontbossing, houtkappery en gedwonge verskuiwings het daartoe gelei dat baie jongmense hulle voorvaderlike huise en hulle verbintenis met die oerwoud en die rivier verloor het.

Daar was die afgelope paar jaar 'n beduidende toename in die aantal jongmense in hierdie streek wat probeer om hulle eie lewens te neem. In my eerste gesprekke met die jongmense het hulle vinnig vir my (beleefd, kragtig en met volle oortuiging) gesê: “Ons wil nie jou kontrolelyste van depressie of angs hê nie." Hulle het dit as irrelevant beskryf vir die situasie waarin hulle hulself bevind – ongeag wat die diagnostiese handleidings sê. “Wat ons ervaar, is geestelike verlies, die verlies van ons verbintenis met die rivier, die oerwoud en ons voorvaderlike huise." “Moet asseblief nie met ons oor depressie praat nie."

Daar was die afgelope tyd – danksy die werk van filantrope soos die Templeton World Charity Foundation (TWCF) – 'n wêreldwye poging om ons begrip van wat welstand en geestesgesondheid werklik is, te verbreed. 'n Belangrike beginsel hiervan is die konsep van menslike florering. Die TVCF verstaan “florering" as iets holisties wat fisiese én geestelike welstand insluit. Die kern daarvan is die idee van sosiale verbintenis, en daardie agentskap en die vermoë om op 'n gefokusde manier in die wêreld op te tree, wat deur sterk sosiale verhoudings omhoog gehou word. Om te floreer, is om doelgerig, nederig, met empatie en met 'n diep gevoel van nuuskierigheid oor die wêreld in die wêreld op te tree. Vir sommige omvat dit die geestelike – in sy breedste definisie – 'n gevoel van iets groter as onsself.  Vir sommige mag dit God wees. Vir ander is dit die gevoel van ontsag wat jy voel wanneer jy na die melkweg kyk, of die wonder van die geboorte van 'n kind.

Ek wil kortliks aan drie sterkpunte aandag gee – en dit tydelik te plaas – wat ek glo 'n integrale deel van florering is. Dit sluit in dankbaarheid (vir die dinge waarvoor ons dankbaar is in ons verlede), goedhartigheid (om vriendelik te wees in die huidige oomblik) en hoop (hoe staar ons 'n onseker toekoms in die gesig). Ons het 'n ingesteldheidsverskuiwing nodig wat op uitdagings in die verlede, hede en toekoms gerig is, deur dankbaarheid, vriendelikheid en hoop te gebruik.

Dankbaarheid: Dit is selde dat iemand niks het om voor dankbaar te wees nie. Vir baie wie se lewens deur seer en teleurstelling gekenmerk is, is dit dalk nie onmiddellik voor die hand liggend nie. Maar dit kan 'n onderwyser wees wat belangstelling getoon het. 'n Buurman. Dit kan selfs 'n vreemdeling wees wat 'n opoffering gemaak het vir iets wat jy nou het. In Suid-Afrika is dit dalk die duisende aktiviste wat hul lewens gegee het in die stryd teen apartheid. Dankbaarheid, byna per definisie, laat ons op die positiewe fokus. Op dít wat ons het, eerder as dít wat ons nie het nie. Om dankbaar te wees, maak ons ook minder angstig.

Goedhartigheid: Goedhartigheid is die daad om 'n ander te help sonder enige belofte van beloning of straf. Funksioneel is dit dankbaarheid in die huidige oomblik. Goedhartigheid is 'n belangrike bydraende faktor tot sosiale samehorigheid en sosiale verbintenis. Dit is ook baie goed vir albei – die gewer en die ontvanger. En uiteindelik is dit nou gekoppel aan empatie.

Hoop: Hoop is die idee dat doelwitte deur aksie en agentskap bereik kan word, hoewel dit nie altyd duidelik is of die doelwitte werklik bereik kan word nie. Hoop is nie optimisme nie. Daar is 'n mate van onsekerheid in hoop, en soos Rebecca Solnit daarop gewys het, kies mense met hoop, anders as optimiste en pessimiste wat reeds die uitkoms ken, eerder om op te tree om dinge te laat gebeur. Hoop gaan oor aktivisme. Vir Solnit is “hoop nie 'n deur nie, maar 'n gevoel dat daar die een of ander tyd 'n deur kan wees, een of ander uitweg uit die probleme van die huidige oomblik nog voordat daardie weg gevind of gevolg word".

Ek voer nie in hierdie stuk aan dat die identifisering en behandeling van geestesversteurings nie noodsaaklik is nie. Dit is. Soos ek vroeër gesê het, is daar nie 'n land in die wêreld waar die voorsiening van geestesgesondheidsorg aan die werklike behoefte voldoen nie. Maar wat ek voorstel, is dat daar meer as dit is. Ons is altyd meer as ons huidige simptome. Ons het kontak verloor met die rol wat die diep menslike behoeftes van behoort, sosiale verbondenheid, dankbaarheid, vriendelikheid en hoop in ons welstand speel, en hoe dit in werklikheid waarskynlik die enigste uitweg sal wees uit ons huidige oomblik van psigiese ontevredenheid.

  • Foto deur Sam Moghadam Khamseh by Unsplash.

*Prof Mark Tomlinson is die mededirekteur by die Instituut vir Lewensloop-gesondheidsnavorsing in die Departement van Globale Gesondheid by die Universiteit Stellenbosch.​