Navorsing oor die oorsprong van goudneerslae in die Kibali-streek van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), het aan 'n geologiestudent van die Universiteit Stellenbosch (US) die toekenning vir die beste studentevoordrag besorg by die tweejaarlikse vergadering van die Society for Geology Applied (SGA) to Mineral Deposits wat onlangs in Zürich, Switserland plaasgevind het.
Yann Mpaka Waku, 'n PhD-student in ekonomiese geologie en mineraalgeochemie in die Departement Aardwetenskappe by die US, werk voltyds as 'n geoloog vir Barrick Gold Corporation by Kibali Goudmyn in die noordooste van die DRK. By Kibali, wat as een van die grootste goudmyne in Afrika beskou word, is sy rol om die Argeaanse goudneerslag wat in die Kongo-kratonskild voorkom, beter te verstaan ten einde verdere eksplorasiestategieë te help ontwikkel.
Waku se navorsing onder die studieleiding van Dr Bjorn von der Heyden, is voorgedra tydens die sessie oor: “Advances in analytical techniques applied for ore deposits research and mineral exploration". In sy aanbieding bied hy 'n nuwe benadering vir die klassifikasie van piriete, deurdat tradisionale tekstuuranalise, mineraalspoorelementchemie, en 'n nuwe hulpmiddel vir die visualisering van hoëdimensionele data bekend as Uniform Manifold Approximation and Projection (UMAP), met mekaar te kombineer.
Waku verduidelik dat dit baie moeilik is om die tyd en meganisme (die wanneer en hoe) van hoe goud gemineraliseer is binne Argeaanse groensteengordels −soos die een wat onder meer by Baberton in Suid-Afrika, asook by Kibali in die DRK gevind is − vas te stel. Hierdie gebiede het deurgaans komplekse en uitgerekte geologiese geskiedenisse wat oor miljoene jare strek.
Dit is hoekom geoloë eerder die mineraalchemie van piriete begin ontleed het, aangesien piriete die volopste mineraal is in ertsafsettings waarin goud voorkom. Die Kibali-gouddistrik is geen uitsondering nie en piriete is volop in die verskeie erstssones.
“Ons ontleed dus die spoorelement -“handtekeninge" in piriete om die toestande wat aanleiding gegee het tot ertsvorming, te verstaan," verduidelik hy.
Waku het 91 monsters ontleed wat afkomstig is uit 26 diamantboorgate uit ag verskillende gebiede in die Kibali-gouddistrik, deur die gebruik van 'n metode genaamd laserablasie induktief-gekoppelde plasmamassaspektrometrie en sekondêre massaspektrometrie. In die praktyk beteken dit dat 'n laser gebruik word om die in-situ minerale op te breek , waarna hulle chemiese en isotopiese samestellings onderskeidelik gemeet word deur gebruik te maak van 'n massaspektrometer. Die groot en ryk datastelle wat deur hierdie ontledings geproduseer is, is dan onderwerp aan verdere gedetailleerde ondersoeke deur gebruik te maak van dimensievermindering en ander “groot data"-tegnieke.
Deur hierdie groot data-tegnieke te gebruik, was hy in staat om ag verskillende tipes piriete te kategoriseer (op grond van hul chemiese samestellings), waardeur hy beter begrip kon kry van die toestande waaronder hulle oorspronklik gevorm is.
Volgens Waku, sal hierdie nuwe benadering 'n belangrike metode word om die klassifikasie en interpretasie van spoorelemente in piriete te verbeter.: “Ek glo ons benadering het die potensiaal om 'n rewolusie in mineraalchemie teweeg te bring, veral in die era van toenemende dataverkryging," sluit hy af.
Op die foto bo, PhD student Yann Mpaka Waku. Fotograaf: Wiida Basson