Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-afvaardiging bou netwerke in Japan
Outeur: Stellenbosch University International
Gepubliseer: 14/09/2023

​'n Afvaardiging van die Universiteit Stellenbosch (US) het in Augustus na Japan gereis om met universiteitsvennote te skakel en aan verskeie geleenthede van die Internasionale Netwerk van Universiteite (INU) deel te neem. INU bestaan uit 13 liduniversiteite uit 11 lande wêreldwyd, en die US beklee tot en met 2025 die voorsitterstoel.

Besige INU-program

Die INU-aktiwiteite het 'n leiersberaad, studenteseminaar en 'n raadsvergadering by die Universiteit van Hirosjima ingesluit. Die US is verteenwoordig deur Rektor en Visekanselier prof Wim de Villiers, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake prof Hester Klopper, Sarah van der Westhuizen (direkteur van US Internasionaal se Sentrum vir Globale Skakeling) en Thami Mahlobo (koördineerder van die US Japan-sentrum). 

Die leiersberaad, wat oor die rol van universiteite in veranderende politieke en maatskaplike wêreldkontekste gehandel het, het uitgeloop op die ondertekening van 'n INU-handves deur die onderskeie universiteitsleiers om hulle instellings se toewyding aan INU se doelwitte en aktiwiteite te bevestig.


INU leaders Summit.jpg

Vir die INU-studenteseminaar oor wêreldburgerskap en -vrede het studente van die liduniversiteite oor klimaatsnood en -optrede gesels, terwyl ander onderwerpe van internasionale belang bespreek is by die studentesimposium, waaraan sowel universiteitsleiers as studente deelgeneem het. ​

Tyd om te besin

Die aktiwiteite in Hirosjima het spesiale betekenis gehad: Dit was nie net 'n viering van INU se 25ste verjaardag en die 75ste bestaansjaar van die Universiteit van Hirosjima nie, maar ook 'n herdenking van die atoombomaanval op Hirosjima in Augustus 1945. Verskeie Hirosjima-vredesgedenkaktiwiteite was dus deel van die INU-program. Gaste het geluister na die persoonlike verhaal van me Keiko Ogura, wat die bomaanval oorleef het. Hulle het ook besoek afgelê by die Hirosjima-vredesgedenkpark en -museum, 'n vredesgedenkplegtigheid bygewoon, en aan 'n lanternseremonie deelgeneem.

Hierdie geleenthede het deelnemers laat nadink oor hoe universiteite daarna behoort te streef om politieke en maatskaplike kontekste wêreldwyd ten goede te help verander.

Bou verdere netwerke

Die US-afvaardiging het ook hulle tyd in Japan benut om 'n aantal huidige en voornemende vennote te besoek. Kort ná hulle aankoms in Tokio, voordat hulle na Hirosjima gereis het, het hulle vergaderings met Waseda-universiteit, Meiji-universiteit, die Universiteit van Tokio, die Verenigde Nasies-universiteit en Sophia-universiteit gehad. Die doel was om bestaande vennootskappe te versterk en bewustheid te wek van die sesde Suid-Afrika–Japan Universiteitsforum (SAJU), waarvoor die US in 2024 medegasheer sal wees.

Ná die INU-aktiwiteite het party lede van die afvaardiging boonop die kampus van Kansai-universiteit in Osaka besoek en met kollegas van die Tokio Universiteit vir Buitelandse Studie vergader. Prof De Villiers het ook die ISPS-sportwaardeberaad in Tokio bygewoon.