Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Personeel vol energie en inspirasie na Turkye-besoek
Outeur: SU International
Gepubliseer: 07/09/2023

​“Die mobiliteitservaring stel jou in staat om jou in 'n ander se kultuur te verdiep, hulle kos, strate en vervoerstelsel te ervaar, en persoonlik te sien hoe hulle universiteit werk," sê administratiewe beampte Michelle Masango-Plato. Sy was een van sewe personeellede van Universiteit Stellenbosch Internasionaal (US Internasionaal) wat in Julie 'n opleidingsweek by Sabanci-universiteit in Turkye bygewoon het.

Die program het die potensiaal vir vennootskappe met Sabanci-universiteit ondersoek en personeel aan hulle eweknieë oorsee bekend gestel. US Internasionaal glo hierdie tipe blootstelling gee personeel die geleentheid om hulle werkstandaard met internasionale beste praktyke te vergelyk en te belyn. Die reisigers keer terug as internasionaliseringsagente, wat die internasionaliseringsagenda deur die hele US bevorder.

Hier is wat 'n paar van die personeellede oor hulle Turkse avontuur te sê het:

Wat het hierdie geleentheid vir jou werk as internasionaliseringspraktisyn beteken?

 Michelle, wat in Korttermynmobiliteit werk, sê: “Die ervaring het my besonder trots gemaak om 'n internasionaliseringspraktisyn te wees. Dit het my 'n nuutgevonde waardering gegee vir my werk én vir hoe ver ons as 'n kantoor al gevorder het om ons planne te implementeer. Ons het nog baie om te leer, maar terselfdertyd is ons bitter goed in wat ons doen." 

Arlynn Fielies, 'n administratiewe beampte wat huisvesting vir internasionale studente en besoekende akademici reël, beaam Michelle se woorde: “Die besoek was 'n openbaring wat my 'n persoonlike kykie gegee het na die bedryfsdinamiek van 'n ander universiteit se internasionale kantoor. Dit het my laat besef dat ons kantoor nie 'n enkele tree vir ons internasionale eweknieë hoef terug te staan nie. Ons blink uit in ons dienslewering aan internasionale studente. Ons doen dikwels eintlik méér as wat van ons verwag word om te sorg dat hulle behoorlik inskakel sodra hulle op Stellenbosch aankom."

Waarom is dit belangrik dat professionele steundienstepersoneel aan personeeluitruilprogramme deelneem?

“'n Uitruilgeleentheid bied jou toegang tot nuwe kennis, vaardighede en sienings oor jou ontwikkeling, terwyl die deelnemende universiteit sy navorsings- en innovasievermoë uitbrei," sê Meneshia Koopman, 'n administratiewe beampte wat by US Internasionaal se ontvangs werk. “Personeeluitruilbesoeke bied dikwels geleenthede om uit diverse werkskulture te leer, dinge nuut te beskou, en waardevolle insigte na jou eie werksomgewing terug te bring."

Sy voeg by: “Danksy die kommunikasievaardighede wat ek aangeleer het, het my selfvertroue byvoorbeeld verbeter, wat my weer gehelp het om 'n professionele netwerk op te bou deur die interaksies wat ek daar gehad het."

Wat van die ervaring sal jou altyd bybly?

“Hoewel ek nie alles wat ek by Sabanci geleer het direk kon toepas nie omdat ons stelsels en strukture verskil, het ek heelwat by hulle kantoor geleer ten opsigte van die prosesse wat hulle volg voordat studente by die universiteit aankom," sê Arlynn. 'n Verdere hoogtepunt was die geleentheid om die stad se polsende energie te ervaar en die attraksies te besoek wat sy voorheen net op foto's gesien het.

Ook vir Michelle was die kans om haar fisies in die hele ervaring te verdiep opwindend en insiggewend. “My hoogtepunt was die geleentheid om Turkye se treinstelsel, die lewendige strate en die bekoorlike Kappadosië-streek te ervaar."

Dit was Meneshia se eerste keer oorsee, en sy was dankbaar om dit saam met haar kollegas te kon ervaar. “Dit het aan die einde van die besoek gevoel asof ek werklik my geriefsone verlaat het en nuwe geleenthede vir my persoonlike en professionele groei aangegryp het. 'n Besliste hoogtepunt was om plekke soos die Hagia Sophia-moskee te kon verken."