Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Gabeba Baderoon lewer die 5de Stellenbosch Universiteit se Jaarlikse Afrikadaglesing
Begin: 22/05/2023, 17:00
Einde: 22/05/2023, 19:00
Kontak: - 021 808 4032
Plek: Stellenbosch University Museum

Prof Gabeba Baderoon lewer die 5de Stellenbosch Universiteit se Jaarlikse Afrikadaglesing, aangebied deur die Visekanselier.

Die Universiteit Stellenbosch maak reg om die vyfde jaarlikse reeks Afrikadag-lesings aan te bied – ʼn tradisie sedert 2018. Die reeks lesings word deur die Sentrum vir die Bestudering van die Nagevolge van Geweld en die Strewe na Herstel (NGeSH) en die Sentrum vir Medewerking in Afrika gekoördineer en is daarop gemik om ʼn platform te bied aan uitgelese vakkundiges, wetenskaplikes, skrywers, kunstenaars, openbare intellektuele en praktisyns uit verskillende vakgebiede van regoor die wêreld, om in die openbaar in gesprek te tree. Vanjaar se lesing sal deur professor Gabeba Baderoon, ʼn bekende skrywer en vakkundige, gelewer word.

Professor Baderoon se lesing, “The University and its Hinterland: A Relief Map" (Die Universiteit en sy Hinterland: ʼn Reliëfkaart), sal put uit memoires, die geskiedenis en resensies om oor die akademie en die betekenis daarvan in die era ná apartheid te besin. Deur poëtiese meditasie sal sy die geskiedkundige afstande en gespanne intimiteite van die Suid-Afrikaanse universiteit verken. Sy verwys hierna as die universiteit se verwantskap met sy talle hinterlande. In haar nuwe skryfwerk oor koloniale argiewe en verbeeldings van landskap, afwesigheid en behoort, wat tydens professor Baderoon se dekadelange buitengewone professorskap in Engels aan die Universiteit Stellenbosch begin is, sal sy die insigte en nuwe moontlikhede wat vir die universiteit en sy gemeenskappe na vore kom deur rekenskapneming van sy geskiedenisse, afstande en nabyhede oordra.

Professor Baderoon is ʼn hoog aangeskrewe digter en vakkundige. Sy het reeds drie digbundels op haar kerfstok, naamlik The Dream in the Next Body, A Hundred Silences, en The History of Intimacy. Professor Baderoon dien in die redaksiekommissie van die African Poetry Book Fund en is ook die mededirekteur van die African Feminist Initiative aan die Staatsuniversiteit van Pennsylvania, waar sy ʼn medeprofessor in Vroue-, Gender- en Seksualiteitstudies, Afrikastudies en Vergelykende Letterkunde is.

Buiten vir haar bydraes tot die poësie, is professor Baderoon ook ʼn produktiewe akademiese skrywer. Sy is die outeur van Regarding Muslims: From Slavery to Post-Apartheid en mederedakteur van die essaybundel, Surfacing: On Being Black and Feminist in South Africa, saam met Desiree Lewis. Haar kritiese en skeppende werke het vir haar al baie eerbetoon verdien, waaronder haar benoeming as die 2023 Sarah Baartman Senior Genoot aan die Universiteit van Kaapstad. As die hoofspreker by die jaarlikse reeks Afrikadag-lesings, beloof professor Baderoon se insigte in die universiteit en sy verwantskap met sy hinterland om leersaam en diepsinnig te wees, omdat dit op haar wye ervaring as skrywer en vakkundige steun.

Daar word van die Afrikadag-lesing verwag om tot kennisproduksie binne die akademie by te dra, terwyl dit ook ʼn impak op die openbare debat het en gehore op die breër vlak van die burgerlike samelewing beïnvloed. Die jaarlikse reeks Afrikadag-lesings is nou al ʼn noodsaaklike forum vir bespreking en die uitruil van idees, en professor Baderoon se lesing beloof om ʼn prikkelende en insiggewende bydrae tot hierdie voortgesette gesprek te wees.

Die Visekanselier is die gasheer van die geleentheid wat op 22 Mei 2023 sal plaasvind. Die lesing is oop vir die publiek en almal word uitgenooi om dit by te woon.

Om te registreer, klik HIER

Datum: Maandag, 22 Mei 2022

Tyd: 17:00

Plek: Stellenbosch Universiteitsmuseum

Formaat: Slegs in persoon

Vir meer inligting, kontak asseblief vir Ceasar (ceasar@sun.ac.za, of 021 808 4032).