Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Langsame Intimiteit Uitstallings
Begin: 12/10/2022, 18:00
Einde: 28/10/2022, 16:00
Kontak:Prof Stella Viljoen - x9087
Plek: Gallery University Stellenbosch (GUS)

As 'n reaksie op die sistemiese skade van 'langsame geweld', bring hierdie uitstallings die kuns en ontwerp van uitgesoekte kunstenaars en juweliers bymekaar as 'n manier om 'langsame hoop' te kweek. Die uitstallings strek oor drie lokale (GUS, IS Art en Oude Leeskamer) en gee uitdrukking aan die langsame intimiteite wat betrokke is by die maak van kuns, maar betrek ook intimiteit as onderwerp. Die uitstallings is 'n samewerking tussen die Departement Visuele Kunste aan die Universiteit Stellenbosch en die kurators by die satelliet-lokale.

 

Die kunstenaars en juweliers in Langsame Intimiteit I (GUS) word saamgebind deur strategieë van nes, rus, collage en versamel, veral met betrekking tot 'huis' as 'n plek van liggaamlike intimiteite. In Langsame Intimiteit II (IS Art) ondersoek die kunstenaars die uitdagings verbonde aan die kweek van tydsame intimiteit en die skadukant van hierdie oënskynlik hoopvolle konsep. In Langsame Intimiteit III val die klem op 'n intermediale voyeurisme wat ons verhouding met die intersubjektiewe wêreld om ons bemiddel. Hier strek die werk tussen die verlede en toekoms.

Van die kunstenaars sluit in: Sitaara Stodel, Stephane Edith Conradie, Nomusa Mtshali, Carine Terreblanche, Joani Groenewald, Mariambibi Khan, Elizabeth Gunter, Cow Mash, Katherine Bull.

In die werk van elke kunstenaar sien 'n mens 'n voorlopige antwoord op die vraag of tyd ook 'n politieke probleem is.

Die uitstallings open om 18:00 by GUS op Woensdag die 12de Oktober. Kykers kan van daar na die ander uitstalruimtes stap ná 'n glasie wyn. Daar is ook 'n rondleiding 17:00 13 Oktober by GUS.