Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ouerskap vir verandering: Hoe om kinders van toestemming en liggaamlike outonomie te leer
Begin: 29/07/2022, 10:30
Einde: 29/07/2022, 12:30
Kontak:Grizelda Adams -
Plek: MS Teams

​'n Mens kan met sekerheid sê dat die meeste ouers/versorgers dit moeilik vind om met hul kind(ers) oor toestemming en liggaamlike outonomie te gesels. Dalk weet ons nie hoe om dit te doen nie of hoe om dit “reg" te doen – of wat die regte ouderdom, stadium en woorde daarvoor is nie. Miskien het ons nooit dié omvattende gesprek met ons eie ouers gehad nie.

Alhoewel daar heelwat verander het sedert ons kinders was, hoef dit nie 'n gevreesde deel van ouerskap te wees om met kinders oor toestemming en liggaamlike outonomie te gesels nie. Wil jy so gou as moontlik met dié gesprekke begin? Hierdie werkswinkel beklemtoon die belang van duidelike en eerlike gesprekke oor toestemmingsake, liggaamlike outonomie, en fisiese grense deur 'n ruimte vir refleksie en konneksie vir ouers te skep. Ons bespreek verder strategieë en maniere hoe ons effektiewe gesprekke met ons kinders oor hierdie onderwerpe kan voer, sodat hulle ons vertrou en hul vertroue in ons kan stel wanneer hulle vrae en bekommernisse het.

Omtrent die fasiliteerder:

Me Qaqamba Mdaka is getroud met Sivuyile en die ma van die 8-jarige Phawulothando (Phawu), asook 'n 3‑jarige seuntjie Mduduma (Joshy). Sy werk as 'n gevallekoördineerder in die Eenheid vir Gelykwaardigheid van die Universiteit Stellenbosch (US). Sy is gebore en getoë in Port Elizabeth, Oos-Kaap, en studeer aan die Universiteit van Fort Hare, waar sy 'n baccalaureus in Maatskaplike Werk behaal. In 2016 verwerf sy 'n nagraadse diploma in MIV‑/Vigs-bestuur aan die US en doen tans 'n meestersgraad in Maatskaplike Werk. 

Voor sy haar by die Universiteit Stellenbosch aansluit, werk Qaqamba vyf jaar lank vir die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling as 'n maatskaplike werkster wat in slagofferbemagtiging spesialiseer. Deel van die verantwoordelikheid sluit in 'n groot verskeidenheid statutêre werk, soos die skryf van slagofferimpak‑verslae vir die hof in gevalle van seksuele aanranding, en die rol as tussenganger in die hooggeregshof vir kinders wat die slagoffer van seksuele aanranding was – wat haar op haar huidige rol voorberei het.

By die US is Qaqamba verantwoordelik vir die koördinering en bestuur van die assesserings- en verslagdoenproses van sake wat met onbillike diskriminasie, seksuele teistering, bekruiping, en viktimisasie verband hou. Sy is ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van institusionele opleidings‑ en interaksiegeleenthede vir studente en personeel in verskeie onderwerpe oor sosiale geregtigheid, onder meer toestemmingkwessies onder studente, konflikoplossing, en basiese empatie en bemiddeling. Sy doen graag voorspraak vir regverdigheid, die verandering van perspektiewe, en die verskuiwing van geestelike ingesteldhede.

Ms Qaqamba Mdaka.png