Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​ Food Dialogue-sessie: BFAP leier prof. Ferdi Meyer gaan oor kommersiële landbou praat
Begin: 18/11/2021, 12:00
Einde: 18/11/2021, 12:00
Kontak:Anneke Muller -
Plek: Stellenbosch

Die kollig sal op die Suid-Afrikaanse landbousektor se rol in die handhawing van voedselsekerheid in Suider-Afrika val tydens die volgende Food Dialogue-sessie wat op 1 Desember 2021 deur die Universiteit Stellenbosch aangebied word. Die rol van bestaans- en kleinboere om die informele voedselsektor en dus ook voedselsekerheid te ondersteun sal ook bespreek word. Die gesprek word gelei deur prof. Ferdi Meyer, besturende direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP). Hy is 'n spesialis op die gebied van landboumarkte, handels- en beleidsanalises, die landbouwaardeketting, strategiese vooruitskattings en scenariobeplanning.

Die Food Dialogue-sessies word aangebied deur die Southern Africa Food Lab, 'n inisiatief in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Dit bring op 'n gereelde grondslag 'n verskeidenheid van invloedryke belanghebbendes in die Suider-Afrikaanse voedselsektor byeen om op kreatiewe maniere te besin oor sistemiese kwessies, en om verandering te help inspireer oor hoe daar oor komplekse sosiale uitdagings gedink word, en wat daaraan gedoen kan word.

Prof. Meyer het sy PhD-graad aan die Universiteit van Missouri in die VSA verwerf, en was 'n stigterslid van BFAP in 2004. Hy is sedert 2020 'n buitengewone professor in die US Departement Landbou-Ekonomie. Hy was vir twee dekades as 'n medeprofessor in die Departement Landbou-Ekonomie, Voorligting en Landelike Ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria verbonde.

BFAP is 'n internasionaal-gerekende organisasie in Afrika wat navorsing gebruik om besluitneming deur belangegroepe (in sowel die privaat- as openbare sektore) in die agro-voedsel, vesel- en dranksektore te beïnvloed. Dit was reeds oor die jare betrokke by strategiese nasionale en internasionale projekte, soos Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan en die Meesterplan vir Landbou- en Agroprosessering, asook talle waardekettingprojekte in verskeie Oos- en Suider-Afrikaanse lande. BFAP werk saam met talle plaaslike universiteite, insluitend die US, en ondersteun die opleiding van nagraadse studente.

As deel van die Food Dialogue-sessies sal prof. Meyer ook nagraadse studente van die Fakulteit Agriwetenskappe op kampus toespreek.

  • . Die Food Dialogue-sessie vind op 1 Desember 2021 plaas om 13:00 in die biblioteek van die Herehuis by die STIAS Wallenburg Navorsingsentrum, Maraisstraat 10, Stellenbosch. 'n Ligte ete sal volg na afloop bedien word. Ingevolge Covid-19 protokol kan slegs 40 mense in persoon die sessie bywoon. Daarom is dit belangrik om 'n plek betyds te reserveer.
  • Die geleentheid sal ook via die MS Teams-platform op die internet uitgesaai word.
  • Om te registreer vir die in persoon-sessie of die aanlyngeleentheid, RSVP asb hier: https://forms.office.com/pages/responsepage.aspx?id=Azv6pjwKWEKEM6Eg3_zTSOeCaCJU0shKqTbdugWNYN9UMEFOVVE4OVNGQkFYWURYSEVPV0FMSElORC4u teen 25 November 2021.

Vir navrae, kontak Anneke Müller by annekem@sun.ac.za.​