Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldleier in kwantumberekening praat by die US
Begin: 03/09/2019, 18:30
Einde: 03/09/2019, 20:00
Kontak:Nancy Payne -
Plek: Room A1001, Engineering General Building, Stellenbosch University

'n Wêreldleier in kwantumberekening, IBM se Dr Heike Riel, sal op Dinsdag 3 September 2019 by die Universiteit Stellenbosch (US) 'n openbare lesing oor die nuutste ontwikkelings in die ontwikkeling van kwantumrekenaars aanbied.

Dr Riel sal in Suid-Afrika wees as gasspreker tydens die vyfde Kwantum Afrika 5 konferensie, wat vanaf 2 tot 6 September in Stellenbosch plaasvind. Sedert 2010 verseker 'n internasionale reëlings- en programkomitee dat navorsers in Suid-Afrika en Afrika aan die nuutste en beste navorsing in kwantum fisika blootgestel word.

Dr Hermann Uys, bekleër van die WNNR/US navorsingsleerstoel in Kwantum-, Optiese en Atomiese Fisika in die US se Departement Fisika, sê Dr Riel is 'n wêreldleier op die gebied van nanoskaal elektronika: “Haar besoek is 'n fantastiese geleentheid vir ons om meer te wete te kom van die baanbrekerswerk wat in kwantumberekening by IBM plaasvind."

Die lesing sal vanaf 18:30-20:00 in die Algemene Ingenieurswese-gebou, lokaal A1001, plaasvind. RSVP teen Vrydag 30 Augustus by quantumafrica5@gmail.com

Meer oor Dr Heike Riel

Dr Heike Riel is 'n IBM-genoot en hoof van die wetenskap en tegnologie afdeling by IBM Navorsing. Sy is verantwoordelik vir die departement se navorsingsagenda, met die doel om wetenskaplike en tegnologiese deurbrake te maak in die fisika van kunsmatige intelligensie, kwantumberekening en tegnologieë, nanowetenskap en nanotegnologie, presisie diagnostiek en slim sisteemintegrasie.

Haar navorsing het reeds bygedra tot vooruitgang in OLED vertoontegnologie, molekulêre elektronika en semigeleier nanoskaal material en toestelle. Meer onlangs fokus haar navorsing op topologiese toestande van saamgestelde halfgeleier nanodrade vir die prosessering van kwantuminligting.

Dr Riel het 'n graad in fisika by die Universiteit van Erlangen-Nuremberg in Duitsland verwerf, en ontvang haar doktorsgraad in fisika in 2003 by die Universiteit van Bayreuth. In 2011 gradueer sy met 'n MBA van die Henley Sakeskool.