Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Frederik Van Zyl Slabbert-erelesing
Begin: 14/08/2018, 17:30
Einde: 14/08/2018, 19:00
Kontak:Heidi October - (021) 808 2312
Plek: Stias

​Die maatskaplike entrepreneur, agent vir die ontwikkeling van mensekapitaal, denkleier en skrywer, me Wendy Luhabe, lewer vanjaar die Frederik Van Zyl Slabbert-erelesing van die Universiteit Stellenbosch.

Die jaarlikse erelesing, wat daarop gemik is om kritiese en prikkelende dialoog oor ons land en die vasteland aan te moedig, word deur die Frederik Van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling met die finansiële steun van die Konrad Adenauer-stigting aangebied.

Me Luhabe is 'n pionier op die gebied van die ekonomiese bemagtiging van vroue en het met haar rewolusionêre idees Suid-Afrikaanse vroue bemagtig om vir die eerste keer in die middel-90's, ná Suid-Afrika se demokratisering, beleggers te word. Die afgelope 20 jaar was sy die voorsitter en lid van verskeie rade in Suid-Afrika en oorsee, onder meer die stigtersvoorsitter van Suid-Afrika se Internasionale Bemarkingsraad wat deur die voormalige president Thabo Mbeki in die lewe geroep is. Sy is 'n mentor vir jonger generasies en 'n ontvanger van verskeie toekennings en eerbewyse. Sy het vier eredoktorsgrade vir haar werk met vroue ontvang en is 'n voormalige Kanselier van die Universiteit van Johannesburg (UJ), terwyl Koningin Elizabeth II van Groot-Brittanje haar in 2014 as Ere-Luitenant van die Koninklike Victoriaanse Orde (LVO) aangestel het. Me Luhabe is passievol oor leierskapsontwikkeling in Afrika en intergenerasionele dialoog met die doel om nuwe oplossings vir Afrika se uitdagings te vind.

“Aangesien ons vanjaar die Universiteit Stellenbosch se eeufees vier, en in pas met die voorbeeld wat wyle dr Frederik Van Zyl Slabbert dwarsdeur sy lewe as gerespekteerde politikus, sakeleier, kritiese denker en US-kanselier gestel het, verken ons leierskap deur die eeue heen en kyk ons spesifiek hoe 21ste-eeuse leierskap aansluit by die bestaande uitdagings en geleenthede waarmee jongmense vandag te make het," se me Heidi October, Hoof van die FVZS Instituut.

RSVP teen 3 Augustus 2018 by fvzs@sun.ac.za.