Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ope uitnodiging aan kunstenaars
Begin: 25/03/2018, 06:00
Einde: 31/07/2018, 16:00
Kontak:Ulrich Wolff - 0827833350 / 0218083029
Plek: University Museum

Die Universiteit Stellenbosch Museum nooi graag ontluikende sowel as gevestigde kunstenaars uit om deel te neem aan 'n komende uitstalling getiteld Vorentoe? Vorentoe! Vorentoe ...

 

Die oogmerk met die uitstalling is om 'n versameling van 100 kunswerke byeen te bring wat die toekoms van die Universiteit Stellenbosch en dié van hoër onderwys in Afrika herbedink. 'n Ope uitnodiging word gevolglik gerig aan kunstenaars om voorstelle in te dien vir kunswerke wat met idees omtrent die toekoms van hoër onderwys in die volgende 100 jaar (2018 tot 2118) in gesprek tree. Dit is 'n vooruitskouende uitstalling. Kortweg gestel, is ons op soek na boeiende en innoverende werke wat stof tot nadenke bied en as katalisators sal dien vir debatvoering en betrokkenheid by die toekoms van die Universiteit. Die uitstalling maak deel uit van die Universiteit Stellenbosch (US) se Eeufeesviering en open op 5 Desember 2018.

 

Voornemende deelnemers word aangemoedig om hulle voorstelle in te dien vir oorweging deur 'n keurpaneel. Alle gekose werke sal vir die duur van die uitstalling by die US Museum vertoon word.

 

Alle kreatiewe uitdrukkings word verwelkom: visuele kunswerke, video's, installasies, 3D's, opvoerings, intervensies, musiek, poësie, asook enige ander.

Voorstelle moet vergesel wees van 'n beknopte bio van die kunstenaar en 'n bondige beskrywing van die voorgestelde kunswerke. Die voorstel moet verder aandui of die werk reeds bestaan en of dit nog geskep moet word; en die afleweringskoste na en vanaf Stellenbosch moet daarby ingesluit word.

Die Museum sal die aflewering en installering van die werke befonds. Daar is geen befondsing vir materiale nie.

Die voorlegging van voorstelle is nou oop, eindig 16 Julie 2018

Sperdatum vir die aflewering van gekose kunswerke: 28 September 2018