Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
”Ek is in my element in die natuur”
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 27/10/2015

Dewidine van der Colff het reeds in graad 10 besluit dat sy in die natuur wou werk, selfs al was sy onseker oor watter kursus om te volg.

Na voltooiing van haar meestersgraad (cum laude) in plant- en dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch, werk sy nou as 'n Rooi Data Lys-wetenskaplike vir die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut.

Sy het ingestem om 'n paar vrae oor haar studie- en loopbaankeuses te beantwoord:

Wanneer en waar het jy besulit om vir 'n BSc-graad in te skryf?

Ek het in graad 10 besluit dat ek iets wou doen waar ek in en met die natuur kan werk. Ek het nie regtig geweet  watter kursus om te volg nie, maar ek het geweet dat ek 'n graad in natuurwetenskappe sou nodig hê.

Daar was 'n baie spesifieke rede vir hierdie  loopbaankeuse. Ek moes toekyk hoe 'n vleiland heeltemal vernietig is om plek te maak vir laekostebehuising. Entoe gewonder: "Wie maak die besluite oor waar gebou mag word, en wie besluit watter natuurlike omgewings belangriker is as ander?"

Ek het toe my familie gevra om meer inligting te kry oor loopbane en graadkursusse wat fokus op die natuurlike omgewing. Dit is hoe ek uiteindelik vir 'n BSc-graad by die US ingeskryf het.

Wat is jou kwalifikasies?

Ek het in 2014  'n MSc-graad (cum laude) aan die US voltooi. Ek beplan om binne die volgende twee jaar met 'n doktorsgraad te begin en is tans op die uitkyk na 'n projek wat my in staat sal stel om internasionale navorsingservaring op te doen.

Het jy reeds 'n goeie idee gehad van wat jy wil word toe jy die dag vir 'n BSc-graad ingeskryf het?

Nie regtig nie. Ek het geweet ek wil fokus of plante (botanie). Ek is baie lief vir diere, maar ek wou nie daaroor navorsing doen nie. My belangstelling in botanie het baie deure vir my oopgemaak: in my derdejaar het my dosent my die geleentheid gegee om haar nagraadse studente as veld-assistent by te staan. Daardeur het ek vrywillige werkers leer ken, soos die vrywilligergroep wat plante monitor as deel van die Custodians of Rare and Endangered Wildflowers (CREW). Dit is toevallig dieselfde projek waarby ek tans betrokke is.

Wat was jou eerste werk en hoe het jy dit gekry?

Ek was 'n omgewingsbeampte by Rheinmetall Denel Munitions. As deel van my beursverpligtinge moes ek 'n jaar daar werk nadat ek my HonneursBSc-graad voltooi het.

Waar werk jy tans? Beskryf 'n tipiese werksdag.

Ek is tans 'n Rooi Data Lys-wetenskaplike by die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika, maar is gesekondeer na die Suid-Afrikaanse Nasionale Botaniese Instituut (SANBI). Binne SANBI is ek spesifiek betrokke by die Custodians of Rare and Endangered Wildflowers (CREW) program wat op sy beurt weer onder die Bedreigde Spesies Program val. Dit mag alles baie ingewikkeld klink, maar al hierdie entiteite werk saam om die Suid-Afrikaanse Rooi Data Lys vir Plante en Diere op datum te hou.

Op 'n tipiese werksdag is ek gewoonlik in die veld iewers in Suid-Afrika op soek na spesifieke plantspesies en om data in te samel oor die bevolkingsgrootte en bedreigings wat plantspesies se risiko op uitwissing bepaal.

Terug in die kantoor moet ek die data prosesseer. Die Internasionale Vereniging vir Natuurbewaring (IUCN) se Rooi Data Lys skryf 'n spesifieke prosedure voor waarvolgens spesies geassesseer word. Dit behels 'n wetenskaplike proses waartydens jy alle beskikbare inligting oor 'n spesies gebruik om sy risiko op uitwissing te bepaal. Hierdie inligting word in omgewingsimpakstudies gebruik en vir bewaringsprojekte op provinsiale en nasionale vlak. My werk is dus 'n kombinasie van veldwerk, data-analise en rapportering.

Wat is opwindend en uitdagend omtrent jou werk?

Ek reis baie en dit is beide opwindend en uitdagend. My werk neem my na verafgeleë plekke om spesiale plante op te spoor en waardevolle data oor hierdie spesies in te samel ten einde hul toekoms te verseker. Dit plaas egter stremming op persoonlike verhoudings om so lank van die huis af weg te wees. Maar dit is wonderlik om plekke te sien waar ek nooit andersins sou uitgekom het nie. My werk gee my ook die kans om te netwerk en baie geleenthede vir persoonlike ontwikkeling. Ek is ook aanhoudend besig om nuwe vaardighede aan te leer.

Jou advies aan leerders wat 'n loopbaan in die natuurwetenskappe oorweeg?

Kry inligting oor loopbaanopsies deur verskillende mense vanuit 'n verskeidenheid van werke en leefstyle te ondervra. Gebruik die beskikbare inligtingsbronne om meer oor verskillende loopbaanopsies uit te vind – Google dit! Probeer om dit te doen voor jy jou vakkeuses in Graad 10 moet uitoefen.

Moenie bang wees om wiskunde en fisiese wetenskappe as skoolvakke te neem nie. Ek is 'n botanis en hou nie eintlik van wiskunde nie, maar dit is noodsaaklik. Ek het hard gewerk en dit deurgekom.

Wenke vir studente wat nou die arbeidsmark moet betree?

Wees altyd pro-aktief, moenie wag vir dinge om met jou te gebeur nie. Daar is baie Jannies en Sannies daar buite, so jy moet die mense om jou bewus maak van jou waarde. Gebruik elke moontlike geleentheid om jou vaardighede te gebruik en moenie bang wees om uitdagings aan te pak nie. So leer 'n mens uit jou foute.

Moet ook nie in stilte swaarkry nie. Dit is beter om jou studieleier reeds vroeg in te lig dat jy nie weet wat aangaan nie, eerder as 'n dag voor die inhandigingsdatum. Moenie bang wees om van die begin af vrae te vra nie. Mense onthou diegene wat die werk korrek klaargekry het, nie die een wat dit die vinnigste gedoen het nie. Ek het dit op die harde manier geleer.

Sou jy iets anders gedoen het tydens jou jare op universiteit?

Ek sou aan meer sosiale aktiwiteite deelgeneem het en meer vrywilligerwerk gedoen het. Die verbreed jou manier van dink – om te studeer gaan nie net oor die akademie nie, maar ook oor mense en hoe om jou gedagtes te kommunikeer. Dit is ook belangrik om te leer dat ander mense anders dink oor dinge, en dat jy ook nie-natuurwetenskaplikes moet leer ken en dinge buite jou akademiese departement doen.

Enigiets anders wat jy wil byvoeg?

Moet nooit sê jy kon nie verder studeer weens 'n gebrek aan fondse nie.  Vandag is daar soveel inligting en soveel geleenthede om vir studiebeurse aansoek te doen – om te sê jy het nie geweet nie is nie meer 'n verskoning nie.

Vir nog profiele oor BSc alumni en hul loopbane, klik op Natuurwetenskappe Alumni Nuus

Indien jy graag jou studie- en loopbaanervaring wil deel, kontak ons by science@sun.ac.za