Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontwikkeling van SA se aardwaarnemingsindustrie is sy passie
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 14/01/2016

Nadat hy sy honneurs-graad in Geologie by die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het Zipho Tyoda 'n taxi na die Raad vir Geowetenskappe se gebou geneem en vir opleiding gevra.

Gelukkig vir hom, was die Raad juis op soek na studente om deel te neem aan 'n projek om 'n Georisiko Atlas vir Suid-Afrika saam te stel deur gebruik te maak van Geografiese Inligtingstelsels (GIS) en afstandwaarneming. Hy het ook die geleentheid aangegryp om vir 'n MSc in GIS en afstandwaarneming by die US te registreer as deel van die projek.

Vandag is Zipho adjunk-direkteur: aardwaarneming by die Departement van Wetenskap en Tegnologie. Hy het ingestem om 'n paar vrae te beantwoord oor sy studies en daaropvolgende loopbaan.

Waarom en wanneer het jy besluit om vir 'n BSc-graad in te skryf?

Ek het reeds in Graad 12 geweet dat ek 'n loopbaan in die natuurwetenskappe wil volg, maar ek was nie seker watter rigting nie. My liefde vir biologie en wiskunde was die hoofrede waarom ek uiteindelik vir 'n BSc geregistreer het.

Watter graad/grade het jy tot dusver behaal en waar?

Ek het my finale graad, 'n MSc in Geografiese Inligtingstelsels (GIS) en afstandwaarneming, in Maart 2013 verwerf.

Het jy reeds 'n goeie idee gehad van wat jy eendag wil word toe jy vir die BSc-graad ingeskryf het?

Nee, glad nie. In 2004 het ek vir die BSc Biologiese Wetenskappe by die Universiteit van Transkei (nou Walter Sisulu Universiteit) geregistreer. Die jaar daarna het ek oorbeweeg na die US en vir 'n BSc in Geologie geregistreer.

Wat was jou eerste werk en hoe het jy dit gekry?

My eerste werk was 'n internskap by die Raad vir Geowetenskappe. Ek het basies 'n taxi na hul geboue geneem en vir opleiding gevra. Gelukkig was hulle juis op soek na studente om te werk op 'n projek om 'n Georisiko Atlas vir Suid-Afrika saam te stel deur die gebruik van geografiese inligtingstelsels en afstandwaarneming. Ek het myself heeltemal verdiep in die projek en het ook die geleentheid gebruik om 'n MSc in die vakgebied te doen.

Waar werk jy nou? Beskryf 'n tipiese dag in jou lewe?

Ek werk nou as 'n adjunk-direkteur: aardwaarneming by die Departement van Wetenskap en Tegnologie. Die werk is meer beleidsgeoriënteerd. Ons doel is om 'n lewendige en kompeterende ruimtewetenskap (en toepassing) industrie in Suid-Afrika te ontwikkel. My verantwoordelikheid is om strategieë saam te stel vir die ontwikkeling van Suid-Afrika se aardwaarnemingsindustrie, om met nasionale en internasionale insethours te vergader en om strategieë te ontwikkel vir menslike hulpbronontwikkeling in ruimtewetenskap en die toepassing daarvan.

Wat is opwindend omtrent jou werk?

Ek geniet dit om al die verskillende produkte afkomstig van satelliete te ervaar. Dié produkte is van groot waarde vir Suid-Afrika en die res van die wêreld. Ons werk nou saam met navorsingsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (SANSA) en dit bied ons die geleentheid om Suid-Afrika se top rolspelers in Aardwaarneming en ruimtewetenskap te ontmoet. Ons reis gereeld en ontmoet internasionale insethours soos die Group on Earth Observation (GEO) wat in Switserland gebaseer is. Dit is regtig opwindend om deel te wees van hierdie wêreldwye inisiatief. Elke jaar hou ons 'n nasionale ruimteweek en ontmoet leerders vanoor die hele land. Ons probeer hulle inspireer om 'n loopbaan in die ruimtewetenskap en aardwaarneming te oorweeg en wys vir hulle die menige voordele van ruimtewetenskap.

Jou raad aan leerders wat 'n loopbaan in die natuurwetenskappe oorweeg?

Ons leef in 'n tegnologiese era. Die meeste wetenskaplike vakgebiede pas modern tegnologieë toe, soos satellite-gedrewe data en rekenaarmodellering. Dit sou wys wees om inleidende modules in sagteware ontwikkeling, programmering, modellering, afstandwaarneming en geografiese inligtingstelsels by jou kurrikulum te voeg. Die meeste industrieë vereis 'n basiese kennis van hierdie vakgebiede.

Enige raad vir studente wat die arbeidsmark betree?

Die arbeidsmark is baie wedywerend. Probeer altyd jou beste. Wees innoverend wanneer jy vir 'n werk aansoek doen: moenie net jou CV instuur nie, nader die maatskappye direk en verkoop jou vaardighede.

Wat sou jy anders gedoen het tydens jou studiejare?

Met die kennis wat ek tydens my studies opgedoen het, sou ek graag meer wou gefokus het op die oplossing van omgewings- en samelewingsprobleme op wêreldwye skaal, eerder as om net my graad te behaal.