Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Met dié werk sal jy nooit verveeld wees nie sê BSc alumnus
Outeur: Media & communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 30/07/2015

Verbeel jou jy werk vir 'n internasionale maatskappy met meer as twee biljoen verbruikers!

Dit is wat met Roxanne Dode gebeur het nadat sy in 2013 'n BSc-graad in chemie en polimeerwetenskap van die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Ons het haar uitgevra oor haar werk by Unilever – 'n multinasionale verbruikersgoedere-maatskappy met hoofkantore in Rotterdam en Londen. Unilever het wêreldwyd meer as 172 000 werknemers in diens.

Het jy enige werkservaring gehad voordat jy vir hierdie posisie aansoek gedoen het?

Ek het geen werkservaring in hierdie wetenskaplike vakgebied gehad nie.

Waar werk jy tans?

Ek werk tans by Unilever in die navorsing- en ontwikkelingsafdeling as 'n produkontwikkelingstegnoloog vir waspoeiers.

Hoe het jy die werk gekry?

Ek het deur hul program vir gegradueerders aansoek gedoen – die Unilever Future Leaders (UFLP) programme. Hulle het 'n keuringsproses met vyf vlakke en, indien jy suksesvol is, het jy die geleentheid om óf via die UFLP program by die maatskappy aan te sluit óf direk aangestel te word.

Wat is opwindend van jou werk?

Die werksomgewing is uitdagend en dinge gebeur teen 'n vinnige pas – jy sal nooit verveeld wees nie! Selfs binne die navorsing- en ontwikkelingsafdeling leer jy vining om wyer te dink aangesien jy saam met kruis-funksionele spanne werk wat elke aspek van die projek dek, van finansies en bemarking tot die voorsieningskettingbestuur. Dit is ook baie bevredigend om die vrug van jou arbeid in die vorm van produkte op die winkelrakke te sien en te verstaan hoe dit inpas by Unilever se veldtog vir wêreldwye volhoubaarheid en 'n beter toekoms vir almal.

Jou advies vir studente wat op die punt staan om die arbeidsmark te betree?

Raak betrokke en wees proaktief in die uittrap van jou eie loopbaan, want niemand gaan jou voorsê wat om te doen of watter benadering om te volg nie. Jou toekoms is geheel en al in jou eie hande, so maak 'n plan! Doen vir so veel as moontlik programme vir gegradueerders aansoek, want dit is gemik op afgestudeerde studente met geen ervaring nie. Raak betrokke net waar jy kan en begin om geleenthede aan te gryp waar jy jou leierskapsvaardighede kan ontwikkel terwyl jy nog studeer.

Wat sou jy anders gedoen het tydens jou studiejare?

Ek sou meer betrokke geraak het by die kampus- en leierskapsaktiwiteite.