Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
QS Ranglys: US landbou- en bosboukundiges mees invloedrykes in SA
Outeur: Engela Duvenhage
Gepubliseer: 18/05/2015

As dit kom by studies en navorsing in landbou en bosbou is die Universiteit Stellenbosch (US) die mees gesogte en invloedryke instelling in Suid-Afrika. Daarby tel dit ook onder die top 100 instellings ter wêreld in hierdie velde. Dit blyk uit die QS World University Rankings by Subject vir 2015.

Daarvolgens tel die US onder die wêreld se elite instellings in 10 van 36 vakke. Dié gesaghebbende jaarlikse ranglys is 'n nuttige riglyn vir voornemende studente wêreldwyd oor watter universiteite die mees gesogte en invloedryke instellings in hul gekose studieveld is. Instellings word gemeet aan hul akademiese reputasie, hoe hoog hulle deur werkgewers geag word en hul navorsingsimpak.

Volgens prof. Danie Brink, waarnemende dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, is die resultate 'n aanduiding van die gehalte en toegepaste aard van navorsing wat in die fakulteit gedoen word.

Hy het personeel, medewerkers, bedryfsvenote en nagraadse studente bedank vir hul bydrae om Stellenbosch aan die voorpunt van landbounavorsing te plaas.

"Ons wil toenemend 'n rol in die landbou speel in Suid-Afrika en in Afrika. Deur ons navorsing en opleiding wil ons bydra tot die ontwikkeling van toepaslike tegnologie, menslike hulpbronne en beleid om die beskikbare potensiaal op 'n volhoubare wyse te ontsluit tot voordeel van die breë samelewing," verduidelik prof. Brink.

Die oorgrote meerderheid landbouverwante studies en navorsing aan die US word binne die elf departemente van die Fakulteit AgriWetenskappe gedoen. Dit sluit in die Departemente van Agronomie, Bos- en Houtkunde, Bewaringsekologie, Genetika, Grondkunde, Hortologie, Landbou-Ekonomie, Plantpatologie, Veekundige Wetenskappe, Voedselwetenskap en Wingerd- en Wynkunde. Daarby is navorsingsinstellings soos die Instituut vir Wynbiotegnologie en die Instituut vir Plantbiotegnologie, asook vier Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoele in vleiskunde, geïntegreerde wynkunde, biotegnologie en na-oes tegnologie ook in die fakulteit gesetel. 

Die Departement Bos- en Houtkunde in die Fakulteit AgriWetenskappe is die enigste tersiêre instelling in Suid-Afrika wat albei voor- nagraadse kursusse in houtprodukkunde, boskunde sowel as natuurlikehulpbronbestuur aanbied. Daarby trek dit ook heelwat studente veral op nagraadse vlak vanuit ander Afrikalande.

Volgens dr. Pierre Ackermann, voorsitter van Bos- en Houtkunde berus die Departement se sukses op die feit dat hul bedrywighede op die volle waardeketting binne bos- en houtkunde fokus, en nie slegs gedeeltes daarvan nie.

"Die Department is ook in 'n unieke posisie om met 'n klein maar talentvolle groep dosente en navorsers bos- en verwerkinsgbedrywe plaaslik en in die res van Afrika kosteeffektief te bedien danksy kapasiteitsbouprogramme en navorsing," reken hy. "Ons voortgesette samewerking met Europese en Noord-Amerikaanse instellings dui op die Departement se internasionale kredietwaardigheid."

Sewe Suid-Afrikaanse instellings (die Universiteite van Kaapstad, Witwatersrand, Pretoria, KwaZulu-Natal, Rhodes en Johannesburg) het aan die jongste QS ranglys deelgeneem. Die US verskyn konsekwent onder die top vyf in die land. Benewens die eerste posisies in Landbou en Bosbou, beklee dit ook 'n tweede plek in Biologiese Wetenskappe, Chemie en Wiskunde. Dit is in die derde posisie in terme van Medies, Omgewingswetenskappe, Ontwikkelingstudies en Geografie, en vierde in Engelse Taal en Letterkunde sowel as Regsgeleerdheid.

Op ʼn algehele internasionale vlak, het die US goed gevaar in Ontwikkelingstudies (no 46); gevolg deur Landbou en Bosbou (tussen no 51 en 100); Engelse Taal en Letterkunde (tussen no 151 en 200), Geografie (tussen no 151 en 200); Regsgeleerdheid (tussen no 151 en 200), Biologiese Wetenskappe (tussen no 251 en 300); Medies (tussen no 251 en 300); Omgewingswetenskappe (tussen no 251 en 300); Chemie (tussen no 301 en 350); en Wiskunde (tussen no 301 en 350).

"Ranglyste kan problematies wees in sekere opsigte, maar dit is die globale akademiese geldeenheid van ons tyd. Die prestasie is egter ʼn duidelike aanduiding dat die Universiteit Stellenbosch inderdaad ʼn wêreldklas-instelling is wat met die bestes in die internasionale arena kan meeding. Ek sou so ver gaan as om te sê dat die US handelsmerk steeds onderwaardeer word. Die prestasie is ook ʼn bevestiging van die akademiese en navorsingsuitnemendheid van ʼn instelling wat homself onderskei as ʼn aktiewe en relevante rolspeler in ʼn globale konteks," het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, gesê.


Bykomende inligting:

Klik hier vir 'n oorsig van die US se prestasie.
Vir meer inligting oor die QS World University Rankings besoek www.topuniversities.com

 

Media navrae

Prof Danie Brink

Waarnemende dekaan: Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch

db@sun.ac.za of jer@sun.ac.za

+27 21 808 4792