Die skrywer en professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), Marlene van Niekerk, tel onder die tien skrywers wat finaliste is vir vanjaar se Man Booker Internasionale Prys.
Dié prys is een van die gesogste internasionale pryse vir letterkunde en word aan 'n skrywer toegeken vir uitsonderlike prestasie in die skryf van fiksie. Benewens dié prys is daar ook die jaarlikse Man Booker-prys wat aan 'n spesifieke roman toegeken word.
Die Man Booker Internasionale Prys word elke twee jaar aan 'n lewende skrywer toegeken vir werk wat in Engels beskikbaar is (oorspronklik of vertaal). Die wenner word op diskresie van 'n paneel beoordelaars gekies en uitgewers mag nie werk inskryf nie.
Vanjaar word die sesde Man Booker Internasionale Prys toegeken, en die prysgeld beloop £60 000 (net oor die R1 miljoen).
Tien skrywers van tien verskillende lande het vanjaar die beoordelaars se lys van finaliste gehaal. Dit is die eerste keer dat 'n Suid-Afrikaner vir die Man Booker Internasionale Prys benoem is, hoewel daar al voorheen Suid-Afrikaners op die Man Booker-prys was.
Prof Van Niekerk, bekend as digter en romansier, doseer Afrikaanse Letterkunde en Kreatiewe Skryfkuns aan die US.
Die Booker-benoeming is vir haar werk as fiksie-skrywer en vir die romans Triomf (1994) en Agaat (2004). Dit was vir Triomf waarvoor sy aanvanklik bekend geword het – 'n verhaal oor 'n arm Afrikaner-gesin in Johannesburg. Agaat vertel van die verhouding tussen 'n wit vrou, Milla, en haar swart huiswerker, Agaat.
Die wenner van die 2015 Man Booker Internasionale Prys sal op 19 Mei by die Victoria & Albert Museum in Londen aangekondig word.
Lees meer by http://www.themanbookerprize.com/man-booker-international-prize-2015.
Fotograaf: Naomi Bruwer