Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitstalling jaag Woordfeesgangers vroeg uit die vere
Outeur: Stephanie Niewoudt
Gepubliseer: 18/02/2015

Ses uitstallings deur verskillende kunstenaars in ses dae. En boonop kan die uitstallings soggens al om 6:00 besoek word.

"Ek is seker die enigste kurator in die land wat gek genoeg is om so iets aan te pak," sê Alex Hamilton, die man agter die Opskiete tentoonstellings wat tydens die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees van 9 Maart tot 14 Maart in die Universiteit se Kunsmuseum (US Museum) te sien is.

"Daardie tyd van die oggend is daar al mense wat na die regstreekse uitsendings van RSG by die Plataankafee agter die Museum kom kyk en luister," sê Hamilton, wat ook ʼn galery by sy ateljee in Woodstock, Kaapstad, bedryf. "Ek het gedink dis ʼn goeie plan om vir hulle iets ekstra te gee waarna hulle so vroeg al kan gaan kyk."

Die werke wat by Opskiet uitgestal en te koop aangebied word, is divers: van potloodsketse tot keramiekbeelde. Daar is ook verskeie kunstenaars wat oor die ses dae aan drie groep- en drie solotentoonstellings deelneem.

Die temas is 'O…FAK!', 'Op-Sessie', 'Opgradeer', 'Oop Boek – Frida Kahlo', 'Op dees aarde' en 'Die sondes van ons vaders'. Maar wie die kunstenaars is wat deelneem, bly ʼn geheim.

Uiteraard is hierdie soort eksperiment  ʼn waagstuk want ʼn mens weet nooit vooraf hoe suksesvol dit sal wees nie. Maar dit is ook hierdie onsekerheid en speelsheid wat aanloklik is.

"Ondanks die onsekerheid is dit steeds lekker om aan hierdie uitstallings te werk. Elke uitstalling sal iets interessants bied," sê Hamilton. "Die kunstenaars kom van oraloor en van hulle is reeds gevestig terwyl ander aan die begin van hul loopbane is."

Hier is ook iets vir elke sak te koop met pryse wat by sowat R200 begin. En as jy baie meer wil en kan betaal, is daar werke wat etlike duisende rande kos.

"Ek glo nie in elitisme nie. Kuns moet vir almal toeganklik wees en mense moet na galerye toe wil kom," sê Hamilton.

Feesgangers het presies 12 ure om na die werk by elke Opskiet te sien – om 18:00 word die kunswerke van die bepaalde uitstalling afgehaal.

Hamilton is ook die kurator van Die Alfabeter. Die titel is reeds ʼn spel met woorde. En vir hierdie uitstalling het kunstenaars een van die 26 letters van die alfabet gekies. Met die bepaalde letter as vertrekpunt word gewilde, historiese en nostalgiese woorde en sêgoed ingespan om visuele kunswerke te skep.

Anders as met Opskiete word die name van die kunstenaars wat aan hierdie uitstalling by die PJ Olivier-kunssentrum deelneem, wel bekend gemaak. Van hulle is Hannelie Tante wat byvoorbeeld die letter "R" gebruik om ʼn kunswerk rondom rugby en rubber te skep terwyl Stephen Rosin "S" gebruik om die konsep 'staat' te verhelder, of dalk te verduister. Wees egter gewaarsku, hierdie woorde en kunswerke sal nie gebruik word om kinders op skool die alfabet te leer nie.

Hamilton wat ʼn ywerige gebruiker van sosiale media is, sê mense wat nie die uitstallings kan bywoon nie omdat hulle in ʼn ander stad of selfs land is, sal steeds op ʼn manier kan deel in die pret.

"Ek sal gereeld boodskappe op sosiale media uitstuur en sodoende ook mense wat ver is, betrek."

Nog opwindende Woordfeesgebeure is die opveiling van die bankies wat die afgelope jaar op verskeie plekke in Stellenbosch gesien is. Die bankies, skeppings vir die Kom sit Stellenbosch-projek, en geskep deur bekende kunstenaars asook lede van gemeenskapsprojekte, sal tydens die Lang Tafel op 6 Maart opgeveil word. Die afslaer is Lizz Meiring, aktrise, skrywer en regisseur.

By hierdie geleentheid sal ook die volgende openbare kunsprojek, Reflections, onder leiding van die Stellenbosse Opelug-beeldetrust (Stellenbosch Outdoor Sculpture Trust – SOST), bekend gestel word. Kunstenaars soos onder andere Jaco Sieberhagen, Strydom van der Merwe en Roelien Smit neem aan hierdie projek deel.

"Visuele kuns by ʼn fees is noodsaaklik,' sê Dirkie Offringa, van SOST. "Kuns is nie net Afrikaans nie. Dit strek oor grense en mense van verskillende gemeenskappe en taalgroepe kan dit beoefen en waardeer."

Vir haar is openbare kuns belangrik want dit laat mense toe om daaraan te vat en kinders kan daarop klim. Daar is dus interaksie tussen die werk en die gemeenskap.

"Openbare kuns dra by daartoe om die idee van ontoeganklikheid van kuns te vernietig. Dit maak mense ook bewus van die beboude omgewing," sê Offringa.

Sy is ook die kurator van Woordfeeskunstenaar Herman van Nazareth se uitstalling in die US Museum.

 

  • ​Foto: Blinkvosperd deur die kunstenaar Juanette Smuts wat op die Opskiet-kunsuitstalling by die Woordfees te sien is. 

 

Ander kunsuitstallings sluit in:

  • 16 X 16: Ons – ʼn potretfoto-uitstalling deur die fotograaf Erhardt Thiel (US Museum).
  • Ligvangers ʼn konseptuele foto-uitstalling en ligvertoning waarin Chris van Niekerk die evokatiewe en emosionele effek van lig ondersoek. Dit bestaan uit 20 digitale foto's en ʼn ligprojeksie (Drostdy-teater).
  • Cobus van Bosch se The Trouble with Money waarin die veranderende Suid-Afrikaanse samelewing oor 100 jaar bekyk word (PJ Olivier-kunssentrum).
  • Filmverse is ʼn reeks kort animasiefilms gerond op 12 klassieke en eietydse Afrikaanse gedigte (US Museum).
  • Met Wanvoorstelling ondersoek Olaf Bisschoff die verwantskap tussen titel en uitbeelding aan die hand van Afrikaanse en Suid-Afrikaanse plekname (PJ Olivier-kunssentrum).
  • Museum: Van Been en As is Sandra Hanekom se eerste solouitstalling na drie jaar as kurator van die ABSA KKNK. Sy onderskoek die verhouding tussen skoonheid en verganklikheid (PJ Olivier-kunssentrum).
  • Untold Stories is die fotograaf Tony Mac (Maake) se fotografie-uitstalling (PJ Olivier-kunssentrum).
  • Die kunstenaar Colbert Mashile se werk is in die SMAC-galery.
  • Towerwoorde roep my: werke van Clare Menck, Shany van den Bergh, Strijdom van der Merwe, Peter van Straten en Anton Smit word in die galery D-Street uitgestal.
  • Juweliersware van Lilly Friedlaender, Juria le Roux, Carine Terblanche, Angela Tolken en Erica du Plessis word in die Lilly Friedlaender-galery uitgestal.