Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-student vaardigste met mikroskoop
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 26/01/2015

'n Fisiologie-student van die Universiteit Stellenbosch, Yigael Powrie (22), het die prys ontvang vir die mees belowende opkomende mikroskopis tydens die jaarlikse konferensie van die Mikroskopie Vereniging van Suid-Afrika wat onlangs in Stellenbosch plaasgevind het.

Yigael, wat in 2010 aan die Hoërskool Hottentots-Holland in Somerset-Wes gematrikuleer het, het ook R25 000 ontvang om sy navorsing later vanjaar in Manchester, Engeland te gaan aanbied by die Microscience Microscopy -konferensie

"Ek was nog nooit by 'n konferensie nie en het nie geweet wat om te verwag nie. Ek het geweet daar is prestasietoekennings, maar het in my wildste drome nie verwag om iets te wen nie," sê hy.

"Ek is tegelykertyd ongelooflik opgewonde én doodbang. Die internasionale konferensie gaan deur invloedryke wetenskaplikes vanoor die hele Europa ‒ sommige selfs leiers op hulle vakgebied ‒ bygewoon word," voeg hy by.

Dr Ben Loos, hoof van die DSG-Neuro Lab by die US en Yigael se studieleier, sê hulle is baie trots op sy prestasie. Vir sy honneursprojek het Yigael ondersoek ingestel na wat met 'n proteïen, genaamd Tau, in 'n senuweesel gebeur met die aanvang van Alzheimer se siekte. Dr Loos sê neurodegeneratiewe siektes soos Alzheimer-siekte is ongelooflik kompleks, wat dit moeilik maak om doeltreffende behandeling daarvoor te ontwikkel: "Die grootste probleem met Alzheimer-siekte is dat die meeste senuweeselle reeds afgesterf het teen die tyd wat die persoon simptome begin toon. Ons moet derhalwe die probleem identifiseer lank voordat dit tot die afsterf van neurone kan lei."

Navorsers is dus op soek na die vroegste moontlike tekens van neuronale stres deur te bestudeer wat binne-in die senuweeselle gebeur terwyl dit blootgestel word aan omstandighede soortgelyk as dié in Alzheimer-siekte.

Deur gebruik te maak van die nuutste mikroskopiese tegnieke het Yigael vasgestel dat die proteïen Tau homself losmaak van die tubulêre netwerk in die sel vóórdat seldood intree: "Dit beteken dat daar moontlik 'n vensterperiode kan wees waartydens spesifiek geteikende terapeutiese intervensie kan help om seldood te voorkom en miskien neurodegenerasie kan verlig," verduidelik hy.

Die Universiteit Stellenbosch beskik oor die enigste fasiliteit in die land wat navorsers kan help om die aktiwiteite binne-in die sel waar te neem teen so hoë resolusie. Dit sluit byvoorbeeld die bewegings van die mitochondria, die tubulêre netwerk en die proteïene in die sel in. Gespesialiseerde mikroskopiese tegnieke word gebruik om die komponente van die sel met 'n fluruochroom te "verf" wat dan gloei wanneer dit met 'n spesifieke laserlig geprikkel word.

Yigael sê hy was bevoorreg om toegang tot hierdie fasiliteite te hê: "Dr. Loos het my gedurig aangemoedig om nuwe eksperimente en tegnieke te probeer. Ek was veral gefassineerd deur die Superresolusie Gestruktureerde Illuminasie Mikroskoop. Dit is 'n wonderlike instrument wat ons toelaat om dit wat binne-in 'n sel gebeur te bestudeer teen ongelooflike resolusies en vergrotings

Yigael is tans as MSc-student ingeskryf en beplan om sy navorsing oor Alzheimer se siekte onder dr. Loos as studieleier voort te sit.

Foto: Yigael Powrie by die Superresolusie Gestruktureerde Illuminasie Mikroskoop waarop hy die meeste van sy navorsing gedoen het. By hom is sy studieleier, dr Ben Loos, van die Departement Fisiologiese Wetenskappe. Foto: Wiida Fourie-Basson