Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opwindende MAD²-program skop af met 5000 ballonne
Outeur: Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 21/01/2015

Studente, personeel en die publiek kan weer vanjaar uitsien na ʼn opwindende MAD²-program. Dít sluit in die gewilde Vensters (30 Jan) en ʼn Pretloop (7 Feb.)

Die Universiteit Stellenbosch se Verwelkomingsgeleentheid op Donderdag 22 Januarie dien as afskop vir die MAD²-program. MAD² (Making A Decision 2 Make A Difference), oftewel MAL² (Maak Ander Lewens Makliker viA Liefdadigheid) is ʼn prettige studente-gedrewe fondsinsamelingspoging ten bate van Maties Gemeenskapsdiens (MGD). Vanjaar se tema is Challenge accepted.

Die MAD²-afskopgeleentheid behels dat elke nuwelingstudent sy of haar drome op ʼn ballonne  neerskryf en dat die duisende Maties dit dan saam loslaat om só simbolies vlerke aan hul drome te gee. (Die ballonne is volledig bioafbreekbaar.)

Vir die publiek

Die publiek kan na veral twee geleenthede op die MAD²-program uitsien. Die immergewilde Vensters word op Vrydag 30 Januarie gehou en beloof om groot vermaak te verskaf.

Vir dié kleurryke geleentheid span koshuispare saam om toeskouers en beoordelaars te beïndruk met innoverende en kreatiewe storielyne en oorspronklike danspassies in vertonings van 10 minute elk. Die produksies word heel aand herhaal sodat toeskouers verskeie produksies kan bywoon. Dit begin om 18:00 en duur tot 23:00. Toegangsbandjies kos R20 en kan by enige van die vertonings gekoop word.

Op Saterdag 7 Februarie vanaf 09:00 kan die publiek kom deelneem aan die MAL² Pretloop – ʼn nuutjie op die MAL²-kalender. Die pretloop van 5km volg die Coetzenburg-bergpad. Inskrywings beloop R30 per persoon en kan by die geleentheid gedoen word.

  • Skakel met James de Villiers by tel 021 808 3637 vir meer inligting oor die MAL²-program