Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'US wil rektor aanstel sonder bespiegelings'
Outeur: Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 02/11/2014

"Die Universiteit Stellenbosch behoort die geleentheid gegun te word om die proses vir die aanstelling van 'n nuwe Rektor en Visekanselier te voltooi sonder bespiegelings oor moontlike kandidate en genuanseerde kommentare oor individue in die media," sê​ mnr George Steyn, Voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch nadat daar in Rapport van 26 Oktober 2014 'n berig verskyn het oor potensiële kandidate.

"Die berig in Rapport is deurspek van feitefoute wat die keurkomitee vanweë 'n verbintenis tot vertroulikheid nie op 'n openbare platform kan regstel nie. Dit is ook nie die plek van 'n keurkomitee om kandidate in die media te bespreek nie. Die berig is nie net onbillik teenoor individue nie, maar ook vir hulle 'n verleentheid, veral vir persone wat tans nog aan ander instellings verbonde is," sê mnr Steyn.

Hy het sy kommer uitgespreek oor die moontlikheid dat daar lede van die keurkomitee of universiteitspersoneel kan wees wat nie die vertroulikheid van so 'n proses eerbiedig nie. "Dit is betreurenswaardig en 'n mens kan net wonder oor die motiewe vir sulke optrede. Die media behoort omsigtig en verantwoordelik te werk met sulke inligting sodat hulle nie onbewustelik as 'n platform misbruik word deur individue of groepe wat of 'n bepaalde kandidaat wil bevoordeel of, deur genuanseerde opmerkings, bedenkinge oor 'n kandidaat wil aanvuur nie."     

Die Universiteit Stellenbosch moes na die onverwagse dood van prof Russel Botman in Junie vanjaar die aanstellingsproses vir 'n nuwe Rektor en Visekanselier inisieer. Die oogmerk is om die proses by die laaste Raadsvergadering op 1 Desember 2014 af te handel, en nadat die suksesvolle kandidaat kans gehad het om die aanbod te oorweeg, die naam van die nuwe Rektor en Visekanselier bekend te maak. Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het soos die Statuut bepaal, ʼn keurkomitee van 17 lede saamgestel waarin die Raad, ander statutêre liggame en verskeie belangegroepe verteenwoordig word.

Volgens mnr Steyn is die proses vir die aanstelling van 'n Rektor en Visekanselier, en die verteenwoordigende samestelling van die keurkomitee juis daarop gemik om wye konsultasie en inspraak te verseker. 'n Voorlopige kortlys word saamgestel en daarna voorsien die keurkomitee die Senaat en Institusionele Forum van 'n finale kortlys nadat die keurkomitee met hierdie kandidate onderhoude gevoer het. Die kandidate op die finale kortlys sal aan 'n spesiale, gesamentlike sitting van die Senaat en die Institusionele Forum (IF) aanbiedings maak oor hul visie vir die US en die rol wat hulle vir hulself in die vooruitsig stel. Die Senaat en die IF sal hulle daarna formeel uitspreek oor die aanstelbaarheid van elk van die kandidate en ook 'n aanbeveling aan die Raad maak oor hul voorkeurkandidaat. Op 1 Desember sal raadslede die geleentheid kry om op grond van 'n aanbieding en 'n onderhoud die kandidate te evalueer.

"Soos met alle aanstellingsprosesse kan kandidate in enige van die rondes uitgeskakel word. Uit respek vir individue se privaatheid en toekomstige loopbaanvooruitsigte wil ek graag 'n ernstige beroep doen op alle betrokkenes en die media om die Universiteitsraad 'n billike geleentheid te bied om die aanstellingsproses sonder bespiegelings of gerugte af te handel. Ons is dit ook aan die kandidate verskuldig," het mnr Steyn gesê.  

*'n Verkorte weergawe van hierdie mediavrystelling het as 'n brief in Rapport van 2 November verskyn.