Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuutste inligting oor beurtkrag
Outeur: Martin Viljoen
Gepubliseer: 02/11/2014

Die Universiteit laai die nuutste inligting oor beurtkrag hier.

​Noodkrag is beskikbaar in die meeste akademiese geboue en eksamens gaan voort soos geskeduleer.

Lokale wat moontlik saans deur beurtkrag geraak kan word, is die GG Cillié-gebou (Opvoedkunde) en die Wilcocks-gebou. Fasiliteitsbestuurpersoneel is tans besig om moontlikhede te ondersoek om noodkrag vir dié geboue te installeer.

Die Universiteit skakel deurlopend met Eskom en die Stellenbosch Munisipaliteit om sovêr moontlik opgedateerde inligting te ontvang en aan die universiteitsgemeenskap deur te gee.

Op die Tygerberg-kampus is daar kragopwekkers in die lesingslokale, studieareas, eksamenlokale, biblioteek en rekenaargebruikersarea. Die koshuise het nie kragopwekkers nie, maar die lesingslokale word beskikbaar gestel vir studente wat daar wil leer indien die krag af is.

Wat eksamenvoorbereiding betref is die US se Studiesentrum (op die Stellenbosch-kampus in die JC Smuts-gebou) beskikbaar terwyl die JS Gericke-biblioteek ook verlengde ure sal hê in geval van kragonderbrekings. Fasiliteitsbestuurpersoneel ondersoek tans die moontlikheid om sekere geboue waar daar tans opgraderings gedoen word – en nie nou as eksamenlokale dien nie – saans oop te stel.

Kampussekuriteit ontplooi tans die maksimum aantal sekuriteitsbeamptes per skof en in geval van kragonderbrekings sal beamptes aan diens bly, selfs nadat hul skofte voltooi is, totdat die onderbreking verby is.

Personeel en studente word versoek om ten tye van beurtkrag ekstra versigtig op kampus te wees, snags nooit alleen te stap nie en die Kampussekuriteit se Noodnommers – 021 808 2333 vir die Stellenbosch-kampus en  021 939 9507 vir die Tygerberg-kampus – byderhand te hou. Die kampusgemeenskap word ook aangemoedig om ʼn koplampie of flits saam te dra.