Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Helen Zille op kampus om Year Beyond te bemark
Outeur: Stephanie Nieuwoudt
Gepubliseer: 17/10/2014

Die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, het Vrydag (17 Oktober 2014) pamflette op die Rooiplein van die Universiteit Stellenbosch (US) uitgedeel om studente te werf wat wil deelneem aan die Year Beyond (YeBo) program en om die program te help bemark.

Uiteindelik het sy nie net pamflette uitgedeel nie, maar ook minute lank met groepies studente gesels oor hul toekomsplanne en hul studies.

Sy het selfs na op ʼn selfoon na foto's van juweliersware wat deur die student Uté Francke ontwerp is, gekyk en aan MFM92.6 se JM Henning ʼn onderhoud toegestaan. En sy het ʼn groepie buitelandse studente verras deur in Duits met hulle te gesels.

YeBo is ʼn inisiatief van die Wes-Kaapse regering om kwesbare kinders na skoolure besig te hou en om te help om aan hulle lewens rigting te gee. Dit sal gedoen word deur onder meer leiding en hulp in vakke soos wiskunde en wetenskap te bied.

Universiteitstudente sowel as jongmense wat vanjaar matriek skryf en wat ʼn gapingsjaar wil neem terwyl hulle "aan die gemeenskap teruggee", kan vir hierdie program aansoek doen.

Die jong vrywilligers sal werk met leerders by onderpresterende skole waar MOD-sentrums (Mass Participation, Opportunity and Access, Development and Growth) gevestig sal word.

Die US se Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling (FVZS Instituut) sal ʼn opleidingsgeleenthede aanbied waardeur hierdie jong vrywilligers se leierskapsvaardighede geslyp sal word. Die opleiding sal geskied deur 40 kontaksessies wat in drie afsonderlike kortkursusse verdeel word.

"Die deelnemers sal toegerus word met bepaalde vaardighede wat hulle sal toerus om as tutors by die skole op te tree," verduidelik dr Leslie van Rooi, hoof van die FVZS Instituut.

"Die deelnemers sal pas gegradueerdes wees wat nog nie gereed is om die werkplek te betree nie, asook jong mense wat pas matriek geskryf het."

Die kursusse sal elemente van bestaande kortkursusse van die FVZS Instituut bevat.

YeBo is in September 2014 bekend gestel en vier skole is reeds by die loodsprojek betrek.

"Ons beoog om hierdie program na 24 skole en 100 vrywilligers in 2015 uit te brei," het Zille Vrydag gesê.

"Aansoekers moet ten minste 60% in wiskunde behaal het."

Volgens Michael Mpofu, skakelpersoon van die premier, sal sowel leerders as vrywilligers by hierdie program baat. Leerders sal hul vaardighede in vakke soos wiskunde en wetenskappe kan verbeter terwyl die vrywilligers – wat ʼn toelae sal ontvang – waardevolle werkervaring sal opdoen.

Ander organisasies wat by die program betrokke is, is Better Together, Action Volunteers Africa (AVA), Ikamva Youth en The Shine Centre.

Foto: Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille het met groepe studente op die Rooiplein gesels. Hier is sy met Keagan de Kock, Sharice Matthee en Uté Francke. Foto: Stefan Els.