Oproep om voorstelle – RW Wilcocks-gebou

Personeel van die Universiteit Stellenbosch (US), studente en lede van die gemeenskap (soos verteenwoordig in die strukture wat lidmaatskap het in die US se Institusionele Forum – IF) het die geleentheid om ’n nuwe naam vir die huidige RW Wilcocks-gebou voor te stel. Die Universiteit gee toe dat visuele simbole verskillende emosies en ervarings by mense ontlok, veral in ’n diverse en histories verdeelde land soos Suid-Afrika. Ons hoop dat die langverwagte hernoemingsproses van hierdie prominente gebou, wat ook die ingang na die Stellenbosch-kampus op die hoek van Ryneveld- en Victoriastraat is, voorsiening sal maak vir breë deelname ten einde hierdie instelling en die omliggende gemeenskap se reis te weerspieël.

U word hiermee uitgenooi om ’n nuwe naam vir die RW Wilcocks-gebou voor te stel. Vind hierby aangeheg die Riglyne vir nominasies en hernoemingsproses1 vir die hernoeming van die RW Wilcocks-gebou, asook ’n nominasievorm wat deur ten minste tien US-studente, -permanente of voltydse personeel, en/of lede van die verteenwoordigende gemeenskapstrukture op die IF geteken en ondersteun moet word.

Voltooide nominasievorms moet per e-pos gestuur word na: tarien@sun.ac.za.

Die sluitingsdatum vir nominasies is Woensdag, 26 Augustus 2020.

Verwys asb na die aangehegde riglyne vir die tydlyn en besonderhede rakende die hernoemingsproses.

Vriendelike groete
Dr Ronel Retief
Registrateur

[1] Ingevolge paragraaf 3.17 van die Beleid oor naamgewing en vernoeming van geboue, lokale en ander fasiliteite en persele (hierna die Beleid oor Naamgewing), keur die Rektoraat die prosedure vir die toepassing van die Beleid goed. Die huidige Prosedures vir die naamgewing van geboue en lokale maak voorsiening vir ’n spesifieke omgewing wat ’n gebou beset om die hernoemingsproses te fasiliteer; die RW Wilcocks-gebou huisves egter tans verskillende afdelings en akademiese departemente, en met verloop van tyd het dit ook duidelik geword dat die hernoeming van hierdie gebou ’n diep en inklusiewe proses sou vereis wat verder gaan as die grense van die mure van die RW Wilcocks-gebou. Na ’n uitgebreide en gedokumenteerde konsultasieproses met belanghebbendes uit die omgewings wat tans in die gebou gesetel is, het die Rektoraat spesifieke institusionele riglyne vir die herbenoeming van die RW Wilcocks-gebou goedgekeur.