Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Sosiale Impak-toekennings: Nominasies ingewag

Beste kollegas  
 
Ek stel graag die Universiteit Stellenbosch se Sosiale Impak-toekennings bekend – 'n hoogstaande eerbetoon waardeur ons Universiteit merkwaardige prestasies van ons akademiese en professionele administratiewe steundienste-personeel (PASD) in sosiale impak erken.

Ons gee met hierdie toekennings erkenning aan ons kollegas se deurlopende bydraes tot die verbetering van ons samelewing. Dit vier die langdurige verbintenisse wat ons met eksterne belanghebbers buite die grense van ons Universiteit gesluit het. Dit getuig van die feit dat sosiale impak 'n gemeenskaplike onderneming van die Universiteit en sy vennote in verskillende omgewings van die samelewing is.
 
Ons verleen erkenning aan sosiale impak in twee afsonderlike kategorieë:

  1. Spantoekenning: In hierdie kategorie kan die US-personeellid of span personeellede die toekenning ontvang. Die finansiering wat met die toekenning gepaard gaan, kan vir die versterking van die betrokke inisiatief aangewend word. 
  2. Individuele toekenning: Hierdie toekenning is ontwerp om 'n buitengewone spanleier en hulle eksterne vennote, wat 'n kernrol in ʼn inisiatief gespeel het, te vereer. In hierdie kategorie kan die US-spanleier en die eksterne vennoot besluit oor die aanwending van die finansiering wat met die toekenning gepaard gaan.

 
Vir meer oor hierdie opwindende geleentheid en die benoemingsproses, raadpleeg asseblief die gedetailleerde inligting wat in die aangehegte versoek om benoemings voorsien word. Kandidate kan deur kollegas benoem word, of hulleself benoem. Die Sosiale Impak-komitee van die Senaat kan ook kandidate vir die onderskeie toekennings benoem.
 

Dien nominasies in deur die voltooide nominasie-templaat te e-pos na siawards@sun.ac.za met die onderwerplyn: “Sosiale Impak-toekennings Nominasie: [Nominee's Naam]". Dien enige stawende dokumente saam met die nominasie elektronies in nie later nie as 1 November 2024. Benoemings wat na hierdie datum ontvang word, sal nie oorweeg word nie.


Die Universiteit Stellenbosch se Sosiale Impak-toekenningsplegtigheid sal in die laaste kwartaal van 2024 plaasvind en benoemdes sal dienooreenkomstig ingelig word. 
 
 
BESIGTIG DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH SE REGULASIES VIR DIE SOSIALE IMPAK-TOEKENNINGS HIER

LAAI AF NOMINASIE TEMPLAAT

BENOEM HIER
 
Laat ons in hierdie uitdagende tyd steeds streef na die opheffing van ons samelewing en om 'n universiteit tot voordeel daarvan te wees.
 
In verbondenheid
 
Prof Nico Koopman

Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel​