Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verklaring: Eendrag-insident en dissiplinêre prosesse

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy diepe kommer oor alkoholmisbruik op en rondom die kampus herbeklemtoon. Dit is nadat die Universiteit se uitvoerende bestuur kennis geneem het van nog ʼn urineringsvoorval by 'n koshuis op de Stellenbosch-kampus waarby 'n erg besope student betrokke was.   

Die Universiteit moet weer beklemtoon dat menswaardigheid ononderhandelbaar vir die Universiteit is en dat dit gerespekteer en gehandhaaf moet word. Indien sodanige waardigheid aangetas is, moet dit op geregtelike wyse herstel word soos daar daarvoor voorsiening gemaak word in die Universiteit se dissiplinêre raamwerk.  

Die US is as goedbestuurde instelling daarvan oortuig dat geregtigheid en die wet sy loop moet neem en reëls moet te alle tye nagekom word om die belange en regte te beskerm van beide die studente wat geraak en geïmpliseer word. Dit maak verdedigbare en volhoubare uitkomste moontlik.  

'n Voorval waarin 'n erg besope student in die vroeë oggendure van Saterdag (22 Oktober) in die kamer van twee koshuismaats geürineer het, is onder die aandag van die bestuur van die Eendrag-koshuis gebring. Die saak is by die toepaslike Universiteitstrukture aangemeld vir verwysing na die US se uitvoerende bestuur verwys en sodat 'n onmiddellike ondersoek geloods kan word.  

Die geïmpliseerde student is Saterdag (22 Oktober) uit die koshuis geskors, hangende die uitkoms van 'n ondersoek. Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, sal verdere stappe oorweeg en oor skorsing uit die Universiteit besluit nadat hy al die feite in die saak bestudeer het.  

"Ons sal voortgaan om al die hulpbronne tot ons beskikking te gebruik om die plaag van onverantwoordelike alkoholverbruik deur sommige van ons studente te bekamp," het prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, gesê. “Ondanks uitgebreide ingrypings en die jongste hersiene koshuisreëls wat alkoholgebruik in koshuise streng reguleer, is dit duidelik dat meer drastiese optrede en regulasies nodig is. Daar moet met die munisipaliteit en sakegemeenskap geskakel word oor hoe ons kan saamwerk om onverantwoordelike alkoholgebruik te beperk. Ons kan geen steen onaangeroer laat om hierdie verwoestende gedrag aan te spreek nie."  

Die saak sal deur die Universiteit se Kantoor vir Studentedissipline ondersoek word in ooreenstemming met die nuutste weergawe van die Dissiplinêre Gedragskode vir Studente.  

“Dit is nou baie belangrik dat alle studente die geleentheid gegun word om vir die eksamens wat vandeesweek begin, voor te berei. Dit was ook die duidelike versoek van die twee studente wat geraak is dat hul identiteit sowel as dié van die geïmpliseerde student vertroulik bly.  

Die US sal soos en wanneer nodig, dadelik verdere inligting verskaf oor die uitkoms van die ondersoeke en die prosesse wat aan die gang is.