Daar is 'n hoë voorkoms van paar- en verhoudingsprobleme in Uganda wat 'n negatiewe invloed uitoefen op die geestelike en interpersoonlike welsyn van individue, pare en gesinne. Ten spyte van bewyse dat verhoudingsterapie verhoudingsprobleme doeltreffend kan aanspreek, is daar beperkte opleiding geleenthede vir geestesgesondheid praktisyns in Uganda en vele ander Afrika lande om die kennis en vaardighede te bekom om sodanige bewys-gebaseerde terapieë te implementeer. Dit kan toegeskryf word aan faktore soos 'n gebrek aan opleiding in verhoudingsterapie op die opvoedkundige institusionele vlak, ontoereikende bronne om opleiding aan te bied of by te woon, en geestesgesondheid sisteme en beleide wat nie sistemiese of verhouding ingrypings prioritiseer nie.
Emosioneel-Gefokusde Verhoudingsterapie is een van slegs 'n paar verhoudingsterapie modelle met bewyse van doeltreffendheid in verskeie kulturele omgewings. Die meeste van hierdie uitkoms-gebaseerde navorsing is egter in Noord-Amerikaanse en Europese kontekste gedoen. Slegs een klein loodstudie, wat die kulturele relevansie van die model ondersoek het, is tot op hede in Afrika gedoen. In hierdie studie het Prof. Elmien Lesch en kollegas ondersoek ingestel na 'n groep Suid-Afikaanse pare se identifisering met die beginsels van die model, en hul belewenis van 'n verhouding psigo-opleiding program gebaseer of die Emotioneel-gefokusde Verhoudingsterapie model. Daar is gevind dat die pare kon identifiseer met die model se beginsels en dat hul gerapporteer het dat die program bygedra het tot die verdieping van hul verhoudings. Veel meer werk moet egter gedoen word om die model se doeltreffendheid en kulturele relevansie in die verskillende kulturele kontekste in Afrika te verken.
Ten einde hierdie leemte aan te spreek, het die Uganda EFT projekspan die opleiding van 80 Ugandanese geestesgesondheid praktisyns in Emosioneel-gefokusde Verhoudingsterapie georganiseer en ondersteun. Die opleiding is gelei deur Prof. Elmien Lesch en het vanaf 4-7 Julie 2023 in Kampala plaasgevind. Ons is tans besig om die deelnemers se belewenis van die opleiding, hulle opvattinge oor die toepaslikheid van die model in hul werkomgewings, asook hul verdere behoeftes aan opleiding en ondersteuning te ondersoek. Die Uganda EFT projek word moontlik gemaak deur die samewerking van verskeie persone en organisasies, onder andere: Ronald Asiimwe, ‘n doktorale student in die Verhouding en Gesinsterapie Program, Michigan State University, USA; Prof. Elmien Lesch, mede-professor en gesertifieerde Emosioneel-Gefokusde Terapie Opleier, Sielkunde Departement, Stellenbosch Universiteit; Dr. Mark Maxwell, San Diego State University, USA; die Uganda Counseling Association, die professionele organisasie wat toesig hou oor professionele berading in Uganda; en Dr Rosco Kasujja, Department of Mental Health and Community Psychology, Makere University, Uganda.