Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US onderteken MvV met Statebond-Afrika-Teenkorrupsiesentrum
Outeur: Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
Gepubliseer: 11/07/2023

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Publieke Leierskap het onlangs 'n memorandum van verstandhouding (MvV) met die Statebond-Afrika-Teenkorrupsiesentrum (CAACC) in Gaborone in Botswana onderteken. Die CAACC het danksy 'n vennootskap tussen die regering van Botswana, die Vereniging van Teenkorrupsie-agentskappe en die Statebond-sekretariaat tot stand gekom.

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies by die US, het saam met prof Michael Graham, Visedekaan: Navorsing by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en prof Zwelinzima Ndevu, Direkteur: Skool vir Publieke Leierskap, mev Erica Ndlovu van die Direktoraat oor Korrupsie en Ekonomiese Misdaad (DCEC) in Botswana, mnr Mogolodi Sonic Rantsetse, sentrumbestuurder van die CAACC, en mev Lerato Dube, die CAACC se koördineerder vir kommunikasie en politieke sake, ontvang.

Die vennootskap, onder leiding van prof Pregala Solosh Pillay namens die Teenkorrupsiesentrum vir Onderrig en Navorsing (ACCERUS) binne die Skool vir Publieke Leierskap, fokus op verskeie strategiese prioriteite, insluitende die deel van goeie praktyke en kennisuitbreiding in die stryd teen korrupsie, reël van gesamentlike konferensies en werksessie, uitruil van professionele publikasies, fasilitering om vakkundiges te identifiseer, ontwerp van opleidingsaktiwiteite oor teenkorrupsie en om ander akademiese en navorsingspogings van gemeenskaplike belang te ondersoek.

Moyo het die Universiteit se verbintenis tot die bevordering van 'n korrupsievrye samelewing deur onderrig, navorsing en sosiale impak beklemtoon en het verduidelik hoe hierdie vennootskap met die US se missie en visie ooreenstem. Graham het die belangrikheid van baanbrekersnavorsing oor teenkorrupsie en die ondersteuning van nuwe Afrika-kennisstelsels uitgelig, terwyl Ndevu op die potensiaal van die samewerking gefokus het om tot 'n voorspoedige toekoms vir lande in Afrika en vir die vasteland in ooreenstemming met Agenda 2063 en die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte by te dra.

ACCERUS strewe daarna om 'n streekssentrum van uitnemendheid in teenkorrupsie te word en is aktief by die Afrika-teenkorrupsienavorsingsnetwerk van die Afrika-unie se adviesraad teen korrupsie betrokke.