Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Wesaal Khan help verseker almal het toegang tot veilige, bekostigbare drinkwater
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 05/07/2023

Prof Wesaal Khan, verbonde aan die Departement Mikrobiologie in die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs haar professorale intreerede, getiteld “Veilige water is 'n mensereg: Oorkom die laaste struikelblok op pad na watersekerheid vir almal" gelewer.  

Khan het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe haar werk daartoe bydra dat alle Suid-Afrikaners toegang tot veilige en bekostigbare drinkwater het.

Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.

Ons stel kostedoeltreffende watersuiweringstelsels in werking om te verseker laer sosio-ekonomiese gemeenskappe word van volhoubare en bekostigbare drink- en huishoudelike waterbronne voorsien. Om dít te kan doen, moet ons verseker dat ons navorsing innoverend bly. Ons fokus tans op:

  • die ontwerp en opgradering van biologiese (roofbakterieë en bakteriofae – virusse wat bakterieë aansteek en binne-in hulle repliseer) en fisieke (pasteurisasie en ontsmetting met behulp van sonkrag) watersuiweringstelsels;
  • die vermoë van mikro-organismes in water om siektes te veroorsaak en die meganismes wat hulle gebruik om voort te bestaan;
  • innovasie in die monitering van watergehalte vir akkurate risikobepaling; en
  • sekondêre metaboliete (klein molekules wat by verskeie biochemiese prosesse in lewende organismes betrokke is) wat antimikrobiese (doodmaak of groeistuiting van verskillende mikro-organismes) en aanwaswerende (voorkom die groei van ongewensde organismes op oppervlakke wat aan water blootgestel is) potensiaal toon.

My groot liefde vir waternavorsing het gedurende my PhD-studiejare – wat 'n medewerking tussen die US en Stadtwerke Düsseldorf in Duitsland was – vlam gevat. Ek was vir twee jaar in Duitsland gesetel. Duitsland het van die beste waterverskaffings- en sanitasie-infrastruktuurstelsels in die wêreld. Toe ek dus vas aangestel is as akademikus, het ek geweet ek moet my basiese vaardighede aanwend om voordelige en tasbare verandering in die Suid-Afrikaanse samelewing mee te bring.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Ons navorsing is van toepassing op lande met 'n lae- en middelklasinkomste en spesifiek op die nagenoeg 55% van die Suid-Afrikaanse bevolking wat nie toegang tot watertoevoer na hulle huise het nie. Die multidissiplinêre aard (sosiaal en toegepaste wetenskap) van ons navorsing verseker ook dat gemeenskapslede aan verskeie fases van die projek deelneem. Voordat ons dus die watersuiweringstelsels in die praktyk toets en monitor, voer ons toetse oor sosiale persepsie uit om die gemeenskapslede se kennis oor alternatiewe waterbronne, asook hulle primêre gebruike van water en infrastruktuurbehoeftes, te bepaal. Verder bied ons kort nadat die suiweringstelsels in werking gestel is, gemeenskapswerksessies aan om die beginsel en eenvoudige gebruik van die suiweringstelsels en die basiese onderhoud en primêre gebruik van die gesuiwerde water te verduidelik.

Hoe help jou navorsing om te verseker dat Suid-Afrikaners toegang tot veilige en bekostigbare drinkwater het?

Ons navorsing skakel direk in by die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD'e), aangesien die primêre doel is om goeie gesondheid en welstand (VOD 3) vir al die burgers van Suid-Afrika deur universele toegang tot veilige en bekostigbare drinkwater (VOD 6) te verseker. Ons probeer om dit te bereik deur aan gemeenskappe in stedelike informele nedersettings en aan landelike gemeenskappe 'n volhoubare oplossing tot waterbeskikbaarheid te bied deur die ontwerp, bou en monitering van volhoubare, lae-koste watersuiweringstelsels.

Jy is reeds baie jare in die uitdagende hoëronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

Hoewel ek 'n mikrobioloog van beroep is, beskou ek myself hoofsaaklik as 'n onderwyser. So, hetsy ek klasgee vir meer as 300 tweedejaarstudente, en of ek besig is om studieleiding aan my nagraadse studente te bied, beskou ek dit as my verantwoordelikheid om tot hulle onderrig en persoonlike ontwikkeling by te dra. Bowenal wil ek my studente aanmoedig om by my lesingskamer en navorsingslaboratorium uit te stap as individue met 'n passie vir wetenskap en leer.

Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.

Ek het 'n identiese tweelingsuster, Sehaam Khan, wat die Viserektor: Akademie aan die Universiteit van Johannesburg is.

Wat is jou boodskap aan jongmeisies wat van 'n loopbaan in die wetenskap droom?

My ma was in ons kinderdae op die Kaapse Vlakte 'n onderwyser en het altyd die belangrikheid van 'n opvoeding beklemtoon. Wanneer iemand haar met ons prestasies gelukgewens het, was haar antwoord altyd dat haar dogters slim genoeg is om te weet hulle moet hard werk.

Ek sal dus aan die jongmeisies (of enige jong leerder) wat van 'n loopbaan in die wetenskap droom, sê: “Werk hard, want die opofferings wat jy moet maak, is die moeite werd. Bowenal moet jy glo jy is daartoe in staat en dat jy enigiets kan bereik wat jy jouself voorneem!"

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek vergryp my aan misdaad- en speurrolprente of -reekse en probeer altyd om vóór die einde van die rolprent of die episode uit te werk wie die skuldige is! ​