Deur digitisering te omarm kan tersiêre instellings toegang tot inligting aanvul, samewerking en kommunikasie bevorder, leerervarings verpersoonlik, buigbaarheid in onderrig verskaf, en studente op ʼn digitale toekoms voorberei. Só skryf prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch, in ʼn meningsartikel vir University World News (29 Junie 2023).
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Deresh Ramjugernath*
Ons leef in 'n tyd van ongekende evolusie en transformasie in die mens se geskiedenis. Daar was die afgelope 50 jaar meer innovasies, tegnologiese vooruitgang en evolusie in alle sektore van die ekonomie en samelewing as wat daar gesamentlik in die duisende jare van die mens se geskiedenis vóór ons hedendaagse tyd was. Dit blyk ook dat die koers van evolusie in alle sektore, insluitende hoër onderwys en spesifiek in onderrig en leer, al hoe vinniger plaasvind. Ons het 'n digitale transformasie in alle fasette van ons lewe beleef en digitisering is een van die talle veranderinge wat 'n groot invloed op onderrig en leer gehad het. Dit het ook noodsaaklik geword om digitaal geletterd te wees ten einde aktief aan die immerontwikkelende sektore van die ekonomie deel te neem.
Gedurende die Covid-19-pandemie moes baie universiteite wêreldwyd baie vinnig 'n ommekeer na afstand- of hibridiese en digitale leer-en-onderrig-modelle maak om die verspreiding van die virus te help verstadig terwyl hulle nog steeds hoë-gehalte onderrig aan studente verskaf. Dit het vereis dat dosente en studente vinnig by nuwe kommunikasie- en leertegnologieë en -platforms moes aanpas.
Hoewel digitisering op daardie tydstip nie 'n nuwe konsep was nie, was hoër onderwys toe nog besig om vir nuwe, geoutomatiseerde werkswyse voor te berei. Maar toe kom die pandemie wat die behoefte aan die gebruik van tegnologie versnel het sodat leer en onderrig kon voortgaan. Hierdie deurslaggewende oomblik in ons geskiedenis het tot veranderinge gelei wat nog lank in die toekoms sal voortduur. Digitisering het ongetwyfeld 'n baie groot invloed op onderrig en leer gehad deur tradisionele onderrigpraktyke te transformeer en nuwe geleenthede te skep.
Ter voorbereiding van die digitale era het die Universiteit Stellenbosch (US) nuwe, pasgemaakte leeromgewings geskep om voorsiening te maak vir die interaktiewe en hibridiese leer-pedagogies van 'n wêreld waarin digitale praktyke voorkeur geniet.
Ons Jan Mouton-leersentrum is só 'n kontemporêre, veeldoelige leer-en-onderrig-gerief op ons Stellenbosch-kampus. Dit beskik oor van die heel nuutste tegnologie vir toekomsgerigte lesings, regstreekse stroomuitsendings, konferensies en groepswerk en stel die standaard vir toekomstige leer-en-onderriggeboue op ons kampusse.
Aangevulde leer maak ook deel uit van ons akademiese vernuwingstrategie. Die uitgebreide leerruimtes- (ELS-) projek maak aangevulde leer 'n werklikheid. Deur ELS rus ons alle skeduleerbare lesingslokale oudiovisuele toerusting en -stelsels toe wat dosente in staat stel om hulle lesings per stroomuitsending aan aanlyn studente beskikbaar te maak terwyl hulle ook terselfdertyd studente in die klas onderrig. Die bedoeling is om aan aanlyn studente 'n interaktiewe leerervaring te bied wat vergelykbaar is met persoonlike klasbywoning en ook om nuwe studentemarkte te bereik.
Dit is egter belangrik om te noem dat digitisering ook uitdagings bied soos die digitale skeiding, inligtingsoorlading en die behoefte aan digitale geletterdheidsvaardighede in 'n ontwikkelende land soos Suid-Afrika. Dit is noodsaaklik om billike toegang tot tegnologie te verseker en om digitale geletterdheid te kweek ten einde die volle potensiaal van digitisering in die onderwys te benut. Om studente vir 'n werk in 'n digitale toekoms te onderrig vereis kombinasie van tegniese vaardighede, kritiese denkvermoë, aanpasbaarheid en 'n sterk grondslagkennis.
Voortgesette beurtkrag bemoeilik die situasie in Suid-Afrika, want dit het 'n invloed op ons vermoë om te werk, te leer en te onderrig. Dit dwing ons om weer eens nog beter en meer volhoubare werkswyses te soek wat nie die bestaande groot skeiding vergroot tussen diegene wat toegang tot krag en tegnologie en dié wat dit nie het nie.
Ten slotte …
Universiteite wêreldwyd het groot aanpassings gemaak om digitisering te omarm en die potensiaal daarvan as hefboom te gebruik om onderrig en leer te transformeer. Die vinnige vooruitgang van tegnologie en die beskikbaarheid van aanlyn hulpbronne het universiteite aangespoor om tradisionele onderwyspraktyke te heroorweeg en om hulle tot innoverende benaderings te wend. Deur die krag van digitisering in te span, kon tersiêre instellings toegang tot inligting aanvul, samewerking en kommunikasie bevorder, leerervarings verpersoonlik en buigbaarheid in onderrig verskaf.
Deur digitisering te omarm, het universiteite die opvoedkundige landskap getransformeer en innovasie, samewerking en lewenslange leergeleenthede vir studente bevorder, terwyl hulle ook die studente op die digitale toekoms voorberei wat vir hulle wag wanneer hulle die akademie verlaat.
- Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.
*Professor Deresh Ramjugernath is die Universiteit Stellenbosch se Viserektor: Leer en Onderrig.