Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika kan sy eie ontwikkeling finansier, en doen inderwaarheid reeds
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 08/06/2023

​Afrika kan sy eie ontwikkeling finansier, en is inderwaarheid reeds besig om dit te doen. Ongelukkig is te veel beleidmakers daarop ingestel om armoede te bestuur, eerder as om ontwikkeling te bevorder. Die kontinent se voedselsisteemparadoks is nie bloot net gesetel in 'n gebrek aan landbouhulpbronne nie. Die grondslag daarvan lê eerder in Afrika se geopolitieke, finansiële en energiekwessies. So het Christina Duarte, die Verenigde Nasies (VN) se spesiale raadgewer oor Afrika, en onder-sekretaris van die Kantoor van die Spesiale Adviseur oor Afrika (OSAA) uitgewys tydens 'n onlangse African Food-dialoog in Stellenbosch.

Die geleentheid is aangebied deur die Southern African Food Lab en die Fakulteit AgriWetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (SU).

Duarte het voor haar aanstelling by die VN gedien as Minister van Finansies en Beplanning van die eilandnasie Cape Verde. Sy was ook vise-president van Citibank, en direkteur van 'n Wêreldbank herontwikkelingsprogram.

Gedurende haar besoek van drie dae aan Stellenbosch het sy gedurende verskeie sessies kans gekry om te gesels met akademici en studente van die US, asook andere van die Universiteit van die Wes-Kaap en die Universiteit van die Vrystaat.

Die US visekanselier, prof Wim de Villiers, het Duarte as gasspreker by die African Food-dialoog verwelkom en genoem dat haar praatjie 'n gepaste afronding is van Afrikamaand-vieringe aan die Universiteit. Hy het uitgewys dat die dialoogreeks 'n belangrike platform bied sodat verskillende invloedryke stemme om op 'n kreatiewe wyse kan beraadslaag oor sistemiese kwessies in die Suider-Afrikaanse voedselsisteem. So kan mense saam inspirerende verandering nastreef in die manier waarop komplekse sosiale uitdagings aangespreek en hanteer word.

Duarte het uit die staanspoor benadruk dat Afrika se voedselsisteemparadoks langdurig en kronies is, en selfs verder onder druk geplaas is deur die COVID-19 pandemie. Dié paradoks bestaan ten spyte daarvan dat die vasteland oor bykans 60% van die wêreld se onbenutte moontlike landbougrond beskik.

Afrika was nie in staat om teen 2015 mikpunte rondom die Millennium Ontwikkelingsdoelwitte (die sogenaamde MDG's) te bereik nie. Duarte was geensins optimisties dat die vasteland in staat sou wees om teen 2030 die VN se Volhoubaarheidontwikkelingsdoelstellings (SDG's) te kan bereik nie. Die SDG's is 'n gedeelte bloudruk oor hoe om vrede en vooruitgang tot voordeel van mense en die planeet te behaal.

“Om die waarheid te sê, ons het agteruit gegaan sedert die SDG's sewe jaar gelede in plek gestel is. Die gaping is baie groot, indien nie kosmies nie," het sy benadruk. “Selfs al groei ons ekonomieë met 7%, wat geensins die geval is nie, sal meer as 400 miljoen mense steeds teen 2030 in armoede leef."

Duarte het haar stelling onderstreep deur die volgende uit te wys:  

  • In 2021 was 270 miljoen mense in Afrika ondervoed – 'n 42% toename sedert 2000.
  • Rondom 60% van mense in Afrika geniet nie voedselsekuriteit nie, op 'n matige of 'n ernstige vlak. Dis dubbel soveel as die wêreldgemiddelde van 30%.
  • Ernstige gebrekkige voedselsekuriteit het sedert 2014 van 16% tot 25% gestyg.
  • Kleinskaalse boere sorg vir tussen 80% tot 90% van alle voedsel wat geproduseer word.
  • 70% van alle mense in Afrika is op 'n manier vir hul inkomste afhanklik van die landbousektor.
  • Afrikalande spandeer rondom $100 miljard aan die invoer van kos, voer net sowat $50 miljard se voedselprodukte uit.
  • Na verwagting sal die wêreldbevolking teen 2050 met nog 2,4 miljard mense styg.
  • Om al hierdie mense te kan voed sal voedselproduksie teen 2050 met meer as 70% moet styg.

'n Gebrek aan bewerkbare grond is wêreldwyd 'n beperkende faktor. Daarom is 'n toename in voedselproduksie toenemend afhanklik van verbeterde, geoptimaliseerde boerderypraktyke en maniere waarop meer waarde uit dieselfde hoeveelheid landbougrond onttrek kan word.

“Die sisteem verstaan reeds iets baie eenvoudigs: dat Afrika deel van die oplossing moet wees om daardie ekstra 2,4 miljard mense te voed. Daar is geen manier waarop dit gedoen kan word sonder dat Afrika deel is van die pakkie nie. Ons het die hulpbronne, soos genoeg grond, sonlig, markte en 'n jong werksmag.

“Ongelukkig is Afrika reeds besig om duisende en duisende hektare grondgebied te verkoop. Ons is besig om ons jong werksmag te verloor. Afrika se groeiende middelklas is nie besig om die vasteland se eie produksiemag te ondersteun nie. Groot volumes word ingevoer. In die proses word produksievlakke en die ekonomiese groei van ander streke bloot net verbeter, en nie Afrika s'n nie."

Om 'n beter toekoms te verseker moet Afrikanasies hoogs produktiewe, arbeidsintensiewe ekonomieë verseker wat jaarliks kan sorg vir 18 miljoen werksgeleenthede.

“Die landbousektor is die mees aangewese sektor om dit te doen," het Duarte gesê.

Sy het bygevoeg dat gegewe geopolitieke invloede die landbousektor steeds sal groei, ongeag of Afrika besluit om 'n aktiewe deel van die proses te wees of nie.

“Die vraag is nie of dit sal gebeur nie, maar hoe dit gaan gebeur. Om die waarheid te sê, dit is klaar aan die gebeur. En ons kan besluit of ons gaan toelaat dat dit op 'hulle' manier gebeur, en of dit op 'ons' manier gaan gebeur," was haar uitdaging. “Ons het beter leierskap en meer eienaarskap nodig om die groot tekort tussen ons eie ekonomieë en geldvloei beter te kan beheer."

Sy was van mening dat dit “bloot onmoontlik" is om die waarde wat in Afrika se voedselsisteem opgesluit is te ontsluit as kwessies rondom die verskaffing van genoegsame elektrisiteit  en infrastruktuur, en groter energieverbruik, nie aangespreek word nie.

“Die kontinent gebruik tans slegs 3% van die wêreld se elektrisiteit. Om dit in konteks te stel: in 2019 het lande in die Europese Unie drie keer meer energie as die hele Afrika gebruik. Duitsland en Frankryk saam het meer krag verbruik as alle Afrikalande saam."

Die landbouvoedselsektor is bes moontlik die enigste segment van die ekonomie wat kan help om die SDG-doelstellings te bereik. Ongelukkig is dit nie die persepsie van vennote en beleidmakers in Afrika nie. Moontlike ontwikkeling word geremskoen deur te veel ekonomiese beleide met botsende belange.

Duarte het gesê die meeste VN-verslae oor die afgelope 10 jaar wys uit dat Afrika gestriem word deur lae opbrengste, klein markte, min beleggings en 'n gebrek aan toegang tot markte, finansiering en kwaliteit goedere. Die eng beskouing van tradisionele ekonomiese beleide, wat sedert die 1960's beïnvloed word deur neo-liberale denkskole, word in wese gedomineer deur 'n monetêre ingesteldheid. Dit is nie geskik om al die verskillende paradokse wat Afrika ervaar te verstaan nie.

“Ons moet verstaan hoedat die geopolitieke ekonomie, wat fokus op die staat, die samelewing, individue en markte, 'n impak het op die voedselparadoks in die breë. 'n Beter verstaan van die finansieringsparadoks sal ons help om die voedselsisteemparadoks beter te verstaan," het sy genoem.

Duarte het benadruk dat Afrika reeds besig is om sy eie ontwikkeling te finansier, maar dat dit geensins die persepsie is van leiers regoor die vasteland nie.

“Ons word nie deur derde partye gefinansier nie. Ons kan dit self doen," het sy uitgedaag.

Slegs 65% van alle nasionale begrotings word uit belastinginkomstes befonds. Volgens 2021 data wat deur die Afrika Unie se Kommissie en Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) oor die vasteland se ontwikkelingsdinamikas vrygestel is, kom driekwart van fondse in Afrika uit plaaslike bronne. Hiervan kan 38% aan private spaargeleenthede toegeskryf word, en 'n verdere 43% aan openbare inkomste (toekennings uitgesluit).

Eksterne geldvloei speel 'n eksterne maar bloot komplimenterende rol:

  • 4% word verskaf deur internasionale ontwikkelingsagentskappe (IDE's)
  • 3% kom uit portfoliobeleggings  
  • 7% word verkry uit oorbetalings  
  • en 5% word verkry uit amptelike ontwikkelingshulp (sogenaamde ODA's).

Die feite dat Afrika jaarliks $70 miljard verloor weens oneffektiewe openbare besteding en $46 miljard weens verlore geleentheidskoste weens oneffektiewe belastingvrystellingsisteme belemmer hierdie potensieel positiewe scenario egter wesenlik.  Tussen 1970 en 2018 het onwettige finansiële vloei die kontinent $2 triljoen gekos. Dié syfer, asook Afrika se skuldlas, is steeds aan die styg.

Daarom het Duarte Afrika beskryf as 'n “netto uitvoerder van kapitaal aan die res van die wêreld". Dié syfer staan tans jaarliks rondom $300 miljard.

Ten spyte daarvan dat Afrika potensieel oor die nodige finansiële hulpbronne beskik, bly sy leiers pleit vir skuldverligting en die afskryf van swak skuld.

“Hulle ingesteldheid is dié van armoede, eerder as ontwikkeling," het Duarte Afrika se leierskorps tereggewys. “Mens gebruik nie dieselfde beleidsraamwerk in beide gevalle nie."

Sterk sisteme en instellings ontbreek volgens me. Duarte. Finansiering wat intern gedryf word moet binne die volgende tien jaar aansienlik versterk word om plaaslike hulpbronne genoegsaam te kan mobiliseer. Gebeur dit nie, sal dit te laat wees om doelwitte rondom volhoubare finansiering of volhoubare ontwikkelingsdoelstellings te bereik.

Sy het verduidelik hoe die groter mobilisering van plaaslike hulpbronne gebruik kan word om lande se geopolitieke posisies te versterk. Dit sal hulle toelaat om groter inspraak te kan hê in hoe hulle tekorte in hul openbare sektor kan finansier. Daardeur sal lande hul eie risikoprofiele kan herontwerp en ontwikkel, sodat hulle gebruik kan maak van internasionale markte en kapitaalmarkte. Dit sal hul posisie in die wêreld versterk. Die uitdaging is om robuuste plaaslike sisteme rondom die mobilisering van hulpbronne in plek te stel sodat Afrika se politieke impak versterk kan word. Dit is op sy beurt weer nodig sodat Afrika se ekonomiese en finansiële voetspoor vergroot kan word.

“Deur plaaslike hulpbronsisteme te mobiliseer kan jy jou eie land op 'n trajek plaas van voorspelbare geldvloei. Dis 'n aspek waarna kredietgraderingsagentskappe kyk," het Duarte genoem.

Ongelukkig kelder gebrekkige infrastruktuur, 'n swak openbare waardeketting rondom finansieringsbestuur en 'n gebrek aan staatsintervensie Afrika se voedselsisteme.

“Dis onmoontlik om Afrika se voedselsisteme te ontsluit sonder genoeg elektrisiteit en water," het sy ter afsluiting genoem. “Ons het veel eerder 'n omgewing nodig wat ingestel is daarop om dit te ontsluit."