Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldomgewingsdag: Burgerlike ongehoorsaamheid en die klimaatsaktivistebeweging
Outeur: Oliver C. Ruppel
Gepubliseer: 05/06/2023

Wêreldomgewingsdag word jaarliks op 5 Junie gevier. In ʼn meningsartikel vir News24, skryf prof Oliver Ruppel van die Department Handelsreg dat in die afwesigheid van wêreldwye en doelbewuste pogings om die klimaatskrisis aan te spreek, burgerlike ongehoorsaamheid en die klimaatsaktivistebeweging ʼn laaste uitweg vir sommige mense is.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Oliver C. Ruppel*

Klimaatsverandering verskerp konflik, al is dit op ʼn indirekte manier. En met die klimaatskrisis wat in die komende jare gaan vererger, sal al hoe meer mense gedwing word om hul huise te verlaat weens enigiets van woestynvorming tot stygende seevlakke.

Op Wêreldomgewingsdag (5 Junie) is dit billik om te sê ons is reeds midde-in ʼn ongeëwenaarde omgewingskrisis en staan voor ʼn klimaatsnoodtoestand. Die algemene gebrek aan of heeltemal ontoereikende staatsoptrede met betrekking tot klimaatsverandering en die korporatiewe oorsake daarvan, vererger die desperaatheid van ons tyd.

Dit het meegebring dat klimaatsaktiviste, veral in Europa en die VSA, hulle tot meer drastiese maatreëls wend, naamlik die doelbewuste skending van wette ter nastrewing van ʼn lewensbelangrike maatskaplike doelwit.

Volgens die onlangse verslag van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie is daar ʼn groot kans dat die jaarlikse gemiddelde wêreldtemperatuur iewers gedurende die volgende vyf jaar 1,5 ºC hoër as voorindustriële temperature sal wees. Dit is eenvoudig vreesaanjaend en is olie op die vuur van die klimaatsbeweging.

Die klimaatsbeweging is ʼn globale maatskaplike beweging wat druk op regerings en nywerhede vir optrede uit te oefen (ook bekend as klimaatsaksie) om die oorsake en impak van klimaatsverandering aan te pak. So ʼn beweging kan ʼn spelbreker wees wat klimaatsgeregtigheid betref deur druk op regerings (en die hele gemeenskap) uit te oefen om hul klimaatsverpligtinge en klimaatswette ernstiger op te neem en van fossielbrandstowwe weg te beweeg of ontbossing te staak.

Greta Thunberg en Fridays for Future het in 2018 ʼn studente-klimaatsbeweging begin – in dieselfde jaar as wat Extinction Rebellion (XR) gestig is. Net soos Last Generation, is XR se doelwit om burgerlike ongehoorsaamheid te gebruik om klimaatsaksie aan te moedig.

Burgerlike ongehoorsaamheid is ʼn term wat gebruik word om ʼn vorm van doelbewuste, maar dikwels nie-gewelddadige oortreding van wette te beskryf.

Veel is al gesê en geskryf oor die rol wat burgerlike ongehoorsaamheid in maatskaplike geregtigheidsbewegings wêreldwyd gespeel het en daar is geen twyfel dat talle sulke bewegings geïnspireer word om dit takties te gebruik nie.

Ek neem aan dat almal wat aan burgerlike ongehoorsaamheid deelneem nie presies dieselfde filosofie oor die gebruik daarvan handhaaf nie, maar daar word allerweë aanvaar dat burgerlike ongehoorsaamheid beteken om die wet doelbewus te oortree om aandag op ʼn waargenome ongeregtigheid te vestig – byvoorbeeld in die regstelsel.

Dit beteken burgerlike ongehoorsaamheid is gewoonlik onwettig, omdat dit gewoonlik behels dat die wet vir ʼn ideologiese of politieke doelwit oortree word. Dit beteken voorts dat mense wat aan burgerlike ongehoorsaamheid deelneem, gewoonlik die regsgevolge van hul optrede moet aanvaar. Hulle glo moontlik dat wettige straf deur ʼn onregverdige regime deel van die proses is om openbare bewustheid te skep en simpatie vir hul saak te ontlok.

Ek wil dit duidelik stel dat ek nóg burgerlike ongehoorsaamheid aanmoedig nóg die moontlike regsgevolge daarvan onderspeel. Ek wil inteendeel daarop wys dat klimaatsprotesaktiwiteite tot inhegtenisneming en strafregtelike of siviele regsoptrede kan lei en dat dit belangrik is om te onderskei tussen beskermde protesaktiwiteite en aktiwiteite wat die protesteerder aan die gevaar van regsoptrede kan blootstel (bv. die risiko om in hegtenis geneem, aangehou, vervolg, aangekla of gedagvaar te word).

Weens die verskerping van die klimaatskrisis word die verantwoordelikheid vir klimaatsverandering en die gevolglike klimaatskade toenemend die fokus van (wêreldwye) openbare belangstelling. Tegelyk het dit die vraag laat ontstaan watter rol ʼn (strafregtelike) verbod en sanksies in die konteks van ʼn doeltreffende klimaatsbeleid kan speel. In hierdie verband moet nie net die moontlikheid van die straf van gedrag wat die klimaat skaad van nader bekyk word nie, maar dalk ook die (moontlike geregtelike) vrystelling van straf van optrede in die naam van klimaatsbeskerming wat in beginsel strafbaar is.

Ofskoon die reg op vryheid van spraak en op vreedsame byeenkomste grondwetlike regte is, kan dit vanselfsprekend beperk word deur redelike perke soos deur die wet voorgeskryf en wat aantoonbaar in ʼn vry en demokratiese gemeenskap geregverdig kan word. Klimaatsverandering moet vanselfsprekend as ʼn bestaansbedreiging erken word, maar wat van drastiese optrede daarteen deur burgerlike ongehoorsaamheid wat chaos en onrus kan veroorsaak?

Aktiviste is dikwels gewillig om hul vryheid vir ʼn waargenome goeie doel te verruil, omdat drastiese tye drastiese ingrypings noodsaak. Politieke aksies van burgerlike ongehoorsaamheid kom dwarsdeur die geskiedenis voor waar regerings nie daarin geslaag het om dringende maatskaplike probleme aan te pak en op te los nie.

Ofskoon aktiviste gewoonlik beweer dat hul onwettige optrede wettig of moreel geregverdig is omdat dit nodig is om ʼn groter doel te beskerm, het sulke pleidooie nog bitter selde in die hof geslaag. Litigasie is al lankal ʼn belangrike instrument vir maatskaplike bewegings en dit is ook die geval in die klimaatskonteks. Vir normatiewe verandering om plaas te vind sal dit belangrik wees dat beleidmakers ʼn normatiewe raamwerk aanvaar.

ʼn Britse hof het onlangs twee omgewingsaktiviste van Just Stop Oil tot tronkstraf van onderskeidelik drie jaar en twee jaar en sewe maande gevonnis. Die regter het aangevoer hulle moet gestraf word vir die chaos wat hulle veroorsaak het en die straf moes ander aktiviste ontmoedig om hulle na te aap. 

Protesoprede word toegelaat, maar in ʼn funksionerende gemeenskap kan daar geen blanko tjeks vir chaos wees nie. Ons kan nie talle jong mense se realistiese vrees vir die toekoms ontken nie, maar die manier waarop protesoptredes uitgevoer word, is polities verkeerd. Dialoog maak deel van die wese van demokrasie uit. En maatskaplike konsensus blyk belangriker as maatskaplike verdeeldheid te wees as ons die klimaatsdoelwitte van die Parys-ooreenkoms wil bereik. Derhalwe sluit ek af met die vraag: Moet so ʼn konsensus demokraties bereik word, of is geweld ʼn gepaste metode?

Die einddoel om die gemiddelde globale temperatuur ver benede 2 ºC onder voorindustriële vlakke te hou, verkieslik met ʼn perk van 1,5 ºC soos wat Artikel 2(1)(a) van die Parys-ooreenkoms lui, kan net bereik word as ʼn wêreldwye en doelbewuste poging aangewend word. In die afwesigheid daarvan lyk burgerlike ongehoorsaamheid en die klimaatsaktivistebeweging na ʼn laaste uitweg – minstens vir sommige mense.

*Oliver C. Ruppel is ʼn regsprofessor en Direkteur van die Ontwikkeling van en Oppergesag van die Reg-program in die Fakulteit Regte aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is ook Direkteur van die Research Centre for Climate Law (Clim:Law Graz) aan die Universiteit van Graz in Oostenryk. Hy spesialiseer in internasionale omgewingsreg, wêreldhandelsreg, volhoubare ontwikkelingsreg en klimaatsreg.