Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Anatomie uit ʼn ander perspektief
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Engela Duvenage
Gepubliseer: 31/05/2023

Speelklei is nie ʼn item wat gereeld op rekwisisievorms van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) verskyn nie. Dis wel iets wat Janine Correia, dosent in anatomie, deesdae vir haar studente aankoop sodat hulle al spelende meer oor die menslike liggaam kan leer. 

Anatomie as vak is broodnodig vir die mediese professie. Van voornemende dokters en tandartse tot verpleegsters, fisioterapeute en studente uit ander aanvullende gesondheidsberoepe bestudeer dit.  

Aan die Universiteit Stellenbosch (US) kan BSc-studente ook menslike anatomie as vak neem. Dis juis vir hulle wat Correia sedert 2019 op derdejaarsvlak uitdaag om twee-twee ʼn kleimodel van ʼn deel van die menslike liggaam te bou. Hulle mag ook stukkies tou, wol, gaas of pypskoonmakers, asook ander herwinbare produkte wat in en om die huis lê, gebruik om meer detail en dimensie aan hul handewerk te verleen.    

So leer hulle speel-speel en meer sensories, asook om in groepsverband te werk en op mekaar staat te maak. 

Die oefening is deel van die groter toegepaste anatomiemodule wat studente op ʼn moontlike navorsingsloopbaan voorberei. Dit sluit ook die skryf van ʼn literatuuroorsig en navorsingsverslae in.  

Correia is nie die eerste dosent om klei as medium in die anatomieklas te gebruik nie. Sedert Ierse akademici in 1979 baanbrekerswerk daaroor gedoen het, word dit wêreldwyd ingespan.  

Maar sy is wel die eerste navorser wat al oor die gebruik daarvan binne die opset van anatomiestudies in Suid-Afrika én Afrika gepubliseer het.

Sy was die hoofskrywer van ʼn hoofstuk daaroor in die 2022-handboek Biomedical Visualisation (deel van die uitgewer Springer Cham se Advances in Experimental Medicine and Biology-reeks). Haar medeskrywers was prof Karin Baatjes, FGGW Vise-dekaan: Leer en Onderrig en Ilse Meyer, ʼn senior navorser van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys. Die werk is deur FINLO (die Fonds vir Innovasie en Navorsing in Leer en Onderrig) gefinansier.  

'Lewende anatomie' danksy ultraklank

Danksy haar MPhil-studies in gesondheidsberoepe-onderwys aan die US het Correia in 2020 nog ʼn nuutjie tot BSc-, mediese en fisioterapiestudente se kardiovaskulêre anatomie-kurrikulum gevoeg:  ultraklank-toerusting. Studente word tydens een klassessie aan die gebruik van handgrootte ultraklanktoestelle blootgestel.  

“As jy byvoorbeeld ʼn ultraklank op ʼn lewende mens se nek doen, sien jy hoe pols die arterie (slagaar). As jy hard daarop druk, kan jy sien hoe die vene (are) platval. Ons noem dit 'living anatomy'," vertel Correia, wat ook ʼn gekose lid van die US se Vroeë Loopbaan- Akademiese Program (ECAD) is.

“Dit gee ʼn ander element aan die anatomie wat studente leer as hulle iemand lewend, eerder as ʼn kadawer, bestudeer. Hulle leer dat ʼn spesifieke persoon se anatomie nie altyd so 'mooi' op ʼn sonogram lyk soos in die handboek se prentjies nie," verduidelik Correia, wat reeds in 2012 ʼn MMedSc-graad in anatomie en selmorfologie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het. 

Studente besef ook gou dat goeie hand-oog-koördinasie broodnodig is as mens gelyktydig die handtoestel moet beweeg én op ʼn skerm deursnitte moet bekyk en interpreteer.

Correia glo nie dat die nuwe tegnieke wat sy ingevoer het sedert sy in 2018 aan die US begin doseer het sommer die waarde van kadawerdisseksies sal troef nie. Sy bly daarom dankbaar dat mense hul liggame nadoods vir navorsing en studies skenk.

“Dis ongelooflik hoeveel mens uit ʼn kadawer kan leer. Dis so driedimensioneel. Dis as't ware die eerste pasiënt waarop mediese studente werk. Hulle is baie bevoorreg om dit te kan doen.

“Ja, nie alle studente geniet dit nie," erken sy. “Baie is veral aanvanklik angstig daaroor, maar die meeste navorsing hieroor toon dat kadawerdisseksies die beste manier is om anatomie te leer." 

Wat sê die anatomiestudente oor kleispeel? 

  • “Ek het geleer terwyl ek aktief gespeel het. Ek kon die spiere en hul oorsprong, hul hegtingsplekke en funksies vir my aanbieding en verslag onthou sonder om weer na my notas te kyk."  
  • “Ek leer beter as ek eers iets kan visualiseer. Die bou van die kleimodel het my kennis en in-diepte begrip verbeter. Ek glo dit sal my ook help om hierdie kennis in die toekoms te herroep."  
  • “Die taak het my uitgedaag om anatomie op ʼn ander, praktiese manier te leer. Ek het uitgevind dat ek dit meer geniet as om net uit die handboek te leer." 

      

Bron: Biomedical Visualisation, Volume 12: The Importance of Context in Image-Making (Springer Cham, 2022), Leonard Shapiro en Paul M. Rea (redakteurs). 


Foto-onderskrif: Janine Correia

Foto-erkenning: Damien Schumann