Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sleutelvaardighede wat skoolhoofde benodig vir goeie onderwysuitkomste
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 30/05/2023

Bykans drie dekades ná die aanvang van Suid-Afrika se demokrasie word die skoolstelsel steeds deur ongelyke leergeleenthede geteister. ʼn Gekombineerde benadering van billike toewysing van hulpbronne en doeltreffende skoolleierskap wat hierdie hulpbronne in onderwysuitkomste omskep, is nodig om die land se skoolstelsel te verbeter en seker te maak dat alle leerlinge onderwys van gehalte ontvang.

Só meen Jaco Janse van Vuuren van Credens People Solutions en dr Francois van der Bank van die Departement Bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.  

In ʼn studie wat onlangs in die South African Journal of Industrial Psychology gepubliseer is, het die navorsers ʼn gedragsbevoegdheidsraamwerk vir skoolhoofde ontwikkel. Hulle wou die gedrag verstaan van skoolhoofde wat ondanks vele uitdagings daarin geslaag het om mislukkende skole om te keer. Daarvoor het hulle onderhoude met Wes-Kaapse skoolhoofde gevoer wat goed presteer het.

Die navorsers sê al lê vorige studies groot klem op skoolleierskap en -bestuur as deurslaggewend in die vestiging en instandhouding van skole wat goed presteer, is min bekend oor die gedragsbevoegdhede wat van skoolhoofde vereis word.

“Baie van die navorsing oor skoolleierskap fokus op werkervaring, kwalifikasies of ander eienskappe om sukses te voorspel, eerder as op akkurate, gekontekstualiseerde beskrywings van die vereiste gedrag of bevoegdhede. Werk oor suksesvolle skoolleierskap gee ook nie voldoende rekenskap van die verskeie intermediêre uitkomste soos onderwysvermoë, gehalte van onderrig, interaksie met leerlinge, asook bande met ouers en die gemeenskap wat bevorderlik vir akademiese prestasie is nie."

Hulle voeg by dat die gehalte van leierskap die krag is wat skoolsukses op die lange duur aandryf.

Sleutelvaardighede

Gegrond op hul literatuuroorsig en onderhoude met skoolhoofde, het die navorsers die volgende 11 sleutelvaardighede geïdentifiseer wat nodig is om goeie onderwysuitkomste te verseker: die skep van ʼn skoolvisie en die bepaling van ʼn strategiese rigting; die stel van doelwitte en verwagtinge; ontwikkeling van skoolpersoneel; om personeel te beïnvloed en met hulle te kommunikeer; strategiese voorsiening; om met deernis te lei; om ʼn leerlinggesentreerde omgewing in stand te hou; besluitneming; selfbestuur; die bestuur van onderrig en leer; en om oor skoolgrense heen te lei.

Volgens die navorsers is doeltreffende skoolhoofde in staat om die interne skoolomgewing  (personeelvermoë, die skoolkultuur, die skoolbestuurspan, die gehalte van onderrig, infrastruktuur en finansiële hulpbronne) en die eksterne skoolomgewing (tendense in die onderwys, die makro-ekonomiese landskap, politieke realiteite en tegnologiese vooruitgang) te ontleed en om ʼn inspirerende skoolvisie te formuleer, asook daaropvolgende strategieë om daardie visie te verwesenlik.

“Doeltreffende skoolhoofde stel en kommunikeer strategies belynde en uitdagende akademiese doelwitte en verwagtinge aan onderwys- en ander personeel op so ʼn wyse dat daar duidelikheid en konsenus oor hierdie doelwitte is.

“Hulle toon persoonlike belangstelling in die ontwikkeling van onderwysers deur formele en informele leergeleenthede te inisieer, asook deur skoolpersoneel te bemagtig om probleme onafhanklik en kreatief op te los. Hulle bou sterk spanne en ouer-gemeenskapsbande deur ʼn inspirerende visie, doeltreffende kommunikasie en die vermoë om by kritiese besprekings en debatte betrokke te raak sonder om kompromieë oor die gehalte van onderrig aan te gaan.

“Suksesvolle skoolhoofde is ook in staat om hulpbronne in ooreenstemming met onderrig en leer te selekteer, toe te wys en optimaal te benut."

Die navorsers voeg by dat suksesvolle skoolhoofde begrip en besorgdheid vir die strewes en gevoelens van onderwysers en leerlinge tydens die bestuur van skoolverhoudings toon, wat die doeltreffende hantering van interpersoonlike en groepkonflikte insluit.

“Hulle is in staat om eksterne druk en ontwrigtinge te verminder en ʼn omgewing te koester wat liggaamlike en sielkundige veiligheid, orde en dissipline, asook inklusiwiteit en eenheid vestig.  

“Hulle fokus op doeltreffende besluitneming in belang van die skoolvisie deur oorlegpleging, beslistheid en onverskrokkenheid, aanpasbaarheid, toewyding en veerkragtigheid, die bou van vertroue en innoverendheid gedurende die besluitnemingsproses.

“Hulle bestuur, monitor en beloon voorts die elemente van onderrig en leer deur organisatoriese doeltreffendheid, die kurrikulum, asook onderwyser- en leerlingprestasie te assesseer en evalueer."

Volgens die navorsers verskaf die bevoegdhede wat hulle geïdentifiseer het ʼn bloudruk om bestuursingrypings in menslike hulpbronne wat ten doel het om doeltreffende skoolleierskap te vestig, te rig.

“Die Nasionale Ontwikkelingsplan kan uit die bevindings van ons studie put deur ʼn tasbare stel waarneembare en meetbare bevoegdhede in te sluit in sy beleid vir die aanstelling, ontwikkeling en opvolgingsbestuur van skoolhoofde en ander skoolleierskapsposte, met inbegrip van adjunk-skoolhoofde en departementshoofde.

“Die Departement van Onderwys, openbare en private skole, asook ander private onderwysinstellings kan die opbrengs op hul belegging in mense verhoog deur hul assessering vir keuring, ontwikkeling en opvolgingsbestuur in ooreenstemming met die skoolhoof se bevoegdhede te doen.

Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat hierdie instellings die bevoegdheidsraamwerk kan gebruik om hul prestasie rakende onderwysuitkomste en die demonstrasie van leierskapsvaardigheid te evalueer.

  • Bron: Janse van Vuuren, J., & Van der Bank, F. (2023). The development of a behavioural competency framework for school principals. SA Journal of Industrial Psychology/SA Tydskrif vir Bedryfsielkunde, 49(0): doi: org/10.4102/sajip.v49i0.2050.

​Foto deur WOKANDAPIX van Pixabay.