Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe model werp lig op oorsprong van mense in Afrika
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 18/05/2023

Twee wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn deurslaggewende rol gespeel in die ontwikkeling van ʼn evolusiemodel wat nuwe lig werp op vrae oor die oorsprong van die mens in Afrika.

Volgens hierdie nuwe model, wat onlangs in die toonaangewende vaktydskrif Nature gepubliseer is, word beweer minstens twee evolusietakke van Homo sapiens het oor honderdduisende jare heen van mekaar geskei (maar aangehou om te meng). Daar word aangevoer dat hierdie sogenaamde “swak gestruktureerde stam" (ʼn mengsel van hierdie twee takke) het tot die ontstaan van ʼn voorouerlike Afrika-mensegroep bygedra, wat daarna in hedendaagse Afrika-populasies vertak het, asook in populasies wat buite Afrika woon.

“Al word wyd aanvaar dat Homo sapiens sy oorsprong in Afrika het, bestaan onsekerheid oor hoe takke van menslike evolusie van mekaar geskei en oor die kontinent heen migreer het," sê Marlo Möller, professor in molekulêre biologie en mensgenetika aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). “Hierdie onsekerheid is te wyte aan beperkte fossieldata en genomiese data uit die oertyd, asook die feit dat die fossielrekord nie altyd ooreenkom met verwagtings van modelle wat met behulp van moderne DNS saamgestel is nie."

Möller en prof Eileen Hoal, albei US-wetenskaplikes wat by die DSI-NRF se Sentrum van Uitnemendheid in Biomediese Tuberkulosenavorsing en die SAMNR se Sentrum vir Tuberkulosenavorsing geaffilieer is, het met prof Brenna Henn, ʼn populasiegenetikus van die Universiteit van Kalifornië, Davis, asook die evolusiegenetikus prof Aaron Ragsdale en sy kollegas van die Universiteit van Wisconsin-Madison aan hierdie navorsing saamgewerk.

Vir die studie het hulle die volgordebepaling van die genoom van 44 hedendaagse Nama-individue gedoen. (Die Nama is ʼn inheemse populasie van Suider-Afrika wat bekend is vir hul uitsonderlike vlakke van genetiese diversiteit vergeleke met ander hedendaagse groepe). Daarna het hulle ʼn reeks mededingende modelle van evolusie en migrasie regoor Afrika wat in die paleoantropologiese en genetika-literatuur voorkom, getoets en populasie-genoomdata van Suider-, Oos- en Wes-Afrika geïnkorporeer.

Die model wat hulle ontwikkel het, doen aan die hand dat die eerste populasieskeiding onder vroeë mense wat in hedendaagse populasies waarneembaar is, 120 000 tot 135 000 jaar gelede plaasgevind het nadat twee of meer Homo-populasies met ʼn swak genetiese differensiasie vir honderdduisende jare gemeng het. Ná die skeiding het oeroue mensagtige spesies (hominiene) steeds tussen die stampopulasies gemigreer en ʼn swak gestruktureerde stam geskep.

“Hierdie model bied ʼn beter verklaring van genetiese variasie tussen individuele mense as vorige modelle," sê Möller.

Die outeurs bereken dat 1-4% van genetiese differensiasie onder hedendaagse menslike populasies volgens hierdie model aan variasie in die stampopulasies toegeskryf kan word.

Hierdie model kan baie belangrike gevolge vir die interpretasie van die fossielrekord hê – weens die migrasie tussen die takke was hierdie veelvuldige stambome waarskynlik morfologies eenders, wat beteken dit is onwaarskynlik dat morfologies divergente hominiedfossiele (soos Homo naledi) takke verteenwoordig wat tot die evolusie van Homo sapiens bygedra het.  

Onderskrif: Proff Eileen Hoal en Marlo Möller.