Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voor hul tyd gesterf: Stellenbosch-kenner voeg stem by beroep vir optrede om geestes-gesondheidsverwante sterftes te voorkom
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 12/05/2023

​ʼn Bekende psigiater van die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van ʼn internasionale groep kenners wat ʼn beroep vir radikale optrede doen om ʼn einde aan geestesgesondheidsverwante sterftes te bring.

Prof Soraya Seedat, hoof van die Departement Psigiatrie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is een van 40 kenners wêreldwyd wat ʼn navorsingsartikel in die toonaangewende vaktydskrif Lancet Psychiatry gepubliseer het waarin die faktore wat die risiko van die voortydige dood van mense met geestesgesondheidstoestande verhoog, uitgestippel word​. Oplossings word ook aangebied om hierdie uitdagings te bowe te kom.

“Een uit elke drie Suid-Afrikaners het ʼn geestesgesondheidstoestand en geestesversteurings tel onder die toptien oorsake van die siektelas in Suid-Afrika," sê Seedat. Sy is ook die mede-direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Eenheid oor Angs- en Stresversteurings.

“Die twee belangrikste redes hoekom mense met geestessiektes baie vroeër as mense daarsonder sterf, is liggaamlike gesondheidstoestande en selfmoord. Albei is voorkombaar en moet geprioritiseer word, net soos ander faktore wat tot die risiko van voortydige dood bydra, soos traumablootstelling, werkloosheid, inkomste-onsekerheid, sosiale uitsluiting, stigma en swak toegang tot gesondheidsorg," sê sy.

ʼn Vernuwende benadering is met die navorsing gevolg deurdat gesondheidsorgklinici, navorsers, mense wat met geestessiektes geleef het of steeds daarmee leef, beleidsbeplanners en versorgers byeen gebring is om oorsake te identifiseer en oplossings te vind om die kwessie aan te pak. “Daar is baie algemene, tasbare oplossings waarvan die inwerkingstelling die risiko dat mense met geestessiektes voortydig sterf, aansienlik kan verminder," sê Seedat.

ʼn Mediaverklaring deur MQ Mental Health met die besonderhede van die navorsing en die voorgestelde oplossing is in Engels beskikbaar.