Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kweek ‘GRIT’ vir 'n lewe van sukses
Outeur: Tendani Tshauambea and Lide Janse Van Vuuren
Gepubliseer: 11/05/2023

Die Luister, Lewe en Leer (LLL)-program het onlangs 'n werkswinkel vir studente aangebied oor hoe om 'GRIT' vir sukses te bou. Met hierdie geleentheid het ongeveer 40 LLL'ers insigte oor hoe om “grit" (durf of vasberadenheid) te bou van die twee genooide sprekers te kry.

Die werkswinkel, wat in die Russel Botman-saal gehou is, is deur die LLL-bestuur aangebied en vorm deel van die LLL-program se ko-kurrikulêre aanbod. Lukhanyo Mgobozi, 'n LLL-intern, het gedeel dat die werkswinkel "'n geleentheid was om nagraadse studente beter toe te rus vir die werkswêreld".

Die eerste spreker was Mhlengi Ngcobo, 'n alumnus, entrepreneur en sake-eienaar van die Universiteit Stellenbosch (US) wat in 2022 die gesogte Forbes 30 Onder 30-lys gehaal het. Mhlengi is die stigter en uitvoerende hoof van CoffeeMM, 'n spesialis-koffiebrandery met 'n afsetpunt by die Co-Create Hub.

Mhlengi het 'n interessante dog prettige aspek na sy aanbieding gebring en openlik sy langer as beplande reis in die studie van ingenieurswese gedeel – 'n ervaring waarby baie van die teenwoordiges aanklank kon vind.

Mhlengi het “grit" beskryf as “die vermoë om oor tyd te volhard". Hy het gesels oor sy eie ervarings en hoe hy “grit" toegepas het om struikelblokke te oorkom en sy doelwitte te bereik. Tydens 2020 is hy van al sy besittings en besigheidstoerusting beroof, en het hy met niks anders as R2 000 in sy sak van Johannesburg na Kaapstad gereis nie, waar hy vir 'n paar maande bietjie “couch surfing" gedoen het, totday hy daarin geslaag het om CoffeeMM aan die gang te kry.

In die uitpak van die betekenis van “grit" het Mhlengi verskeie kenmerke bespreek wat gekweek kan word om 'n individu meer “gritty" te maak. Hy het ook gefokus op die belangrikheid van passie en volharding om jou doelwitte na te streef, selfs in die lig van struikelblokke en terugslae.

Sy ernstige dog persoonlike benadering het goed by die studente aanklank gevind. Nicolas Miso het gedeel dat "Mhlengi se getuienis vir my hoop gebring het om aan te hou werk en om doelgerig te bly, ongeag van swaarkry en mislukkings wat dalk langs die pad mag teëkom".

Mhlengi het die studente besig gehou met sy benadering tot die onderwerp en die waarde van uitdagings in die ontwikkeling van “grit" beklemtoon, deur 'n Afrika-spreekwoord aan te haal. Hy het gesê: "Dit is belangrik om die kind voor te berei vir die pad, en nie die pad vir die kind nie".

Die tweede spreker van die dag was prof Mamokgethi Phakeng, voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad (UK) en 'n bekende wiskundige, opvoeder, geleerde en gerespekteerde denkleier. Phakeng is met talle toekennings en eerbewyse erken vir haar bydraes tot navorsing, opvoeding en voorspraak vir die insluiting van onderverteenwoordigde groepe in die STEM-velde.

Phakeng se gesprek met die LLL'ers is gefasiliteer deur Kwenzokuhle Khumalo, Primaria van Irene-koshuis. Phakeng het uit haar uitgebreide ervaring as 'n opvoeder tydens en ná apartheid gespreek, en gefokus op die belangrikheid daarvan om jou doel te ken, wat sy geïllustreer het met 'n anekdotiese verwysing na die Notre Dame-katedraal.

As 'n ervare opvoeder was Phakeng se teenwoordigheid in die vertrek tasbaar, en sy het die LLL'ers in vervoering gehad het met haar vertelling van haar ervaring as 'n voorgraadse student aan die destydse Bophutatswana Universiteit (nou NWU) waar sy vir haar BSc studeer het.

Ter aanvulling van Mhlengi se vroeëre aanbieding het prof. Phakeng gedeel dat “dit nooit te laat is om doelgerig te wees nie, aangesien jou einddoel jou sal dra wanneer dinge moeilik raak". Oor “grit" gepraat het sy beklemtoon dat die ontwikkeling daarvan 'n vaardigheid is wat mettertyd aangeleer en ingeoefen kan word. Haar persoonlike ervarings en voorbeelde van hoe sy self dié soort volharding moes toepas om uitdagings te oorkom en haar sukses te bereik, het die LLL'ers laat nadink en 'n gepaste illustrasie geskets van haar oortuiging dat, “as jy 'n einddoel het, sal jy doen waarvoor jy lief is en suksesvol wees daarin".

Die werkswinkel was 'n groot sukses, met deelnemers wat nuwe insigte gekry het in die ontwikkeling van hul eie “grit" vir 'n lewe van sukses. Arshia Rumluckun het gedeel dat “die LLL-werkswinkel 'n hoogtepunt van my langnaweek was. Mhlengi se entrepreneuriese agtergrond het my toegelaat om te hoor hoe 'n werklike geval van 'grit' ontwikkel en gebruik word, terwyl prof. Phakeng se boodskap my doelbewus laat besef het hoe belangrik die “hoekom" agter die aksie is."

Die ontwikkeling van “grit" is 'n noodsaaklike vaardigheid vir sukses in enige veld, en die werkswinkel het 'n geleentheid gebied vir LLL'ers om meer uit te vind oor hoe om hierdie vaardighede te ontwikkel. Dit was ook 'n demonstrasie van die program se status as die vlagskip-residensiële aanbod by die US, en sy verbintenis om hulpbronne en geleenthede vir sy gemeenskap te verskaf om te groei en te floreer.

Foto: ​Mhlengi Ngcobo (links), 'n alumnus, entrepreneur en sake-eienaar van die Universiteit Stellenbosch (US), en prof Mamokgethi Phakeng, voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad (UK), was die gassprekers by 'n onlangse LLL-geleen​theid.