Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Passie vir transformasie inspireer Prof Fataar se leierskap
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 10/05/2023

​Die eerste ding wat 'n mens van prof Aslam Fataar tref wanneer jy by sy kantoor instap, is sy energie. Hy praat vinnig en vurig en verander seepglad van Afrikaans na Engels. Hy is duidelik 'n man met 'n missie terwyl hy passievol oor sy leidende rol in die transformasieproses by die Universiteit Stellenbosch (US) gesels.

Fataar se nuwe kantoor vanwaar hy die Komitee vir die Institusionele Reaksie op die Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe) koördineer, is letterlik in die hart van die Stellenbosch-kampus geleë in 'n kantoor wat tans opgeknap word op die onderste valk van die US Biblioteek. Die US Rektoraat het in reaksie op die Khampepe-verslag wat in November 2022 deur die Khampepe-kommissie vrygestel is, 'n struktuur gevestig om implementeerbare voorstelle te ontwikkel wat op die bevindings en aanbevelings in die verslag gegrond is. Hierdie struktuur staan as CIRCoRe bekend.

Fataar se akademiese loopbaan het by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) begin waar hy in 1999 'n PhD voltooi en tot die pos van Adjunkdekaan (Navorsing) in die Fakulteit Opvoedkunde gevorder het voordat hy in 2009 by die US aangesluit het.

Die eertydse hoërskoolonderwyser se nuwe verantwoordelikhede beteken hy is so half en half tussen rolle, aangesien hy ook navorsings- en ontwikkelingsprofessor van transformasie by die US se Departement Opvoedingsbeleidstudie is. Hy was ook by die Fakulteit Opvoedkunde hoof van die departement en Vise-dekaan (Navorsing) en hy het van 2010 tot 2017 'n B-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en tussen 2016 en 2020 'n uitgelese professorskap aan die US beklee.

Fataar is as akademikus die trotsste op sy bydrae tot die onderwys en nagraadse studieleiding. “Ek is in wese 'n tipe onderwyser-mentor vir vakkundiges, dosente en studente. Navorsing en publikasie is uiters belangrik, maar my werk en invloed moet die lewens van my studente en jonger kollegas raak."

Sy betrokkenheid by transformasie aan die US was aanvanklik as “ 'n stem buite die universiteitsbestuur-sfeer", maar in 2015 het die gesprek oor transformasie by die US verander, verduidelik Fataar, en is 'n opening geskep vir “'n meer gesamentlike stem vanuit die binnekant". Die US het vir die eerste keer 'n koherente institusionele reaksie op transformasie ontwikkel en Fataar is gevra om 'n vakkundige ondersteuningsrol te spel deur navorsingsnetwerke en prosesse vir transformasie te ontwikkel.

“Ek het met groepe mense gewerk wat transformasiewerk op kampus doen, het werkswinkels en seminare gereël en as studieleier vir tesisse oor universiteitstransformasie opgetree. Ek het uit al hierdie skakeling 'n beter begrip van die metodologie van transformasie ontwikkel en het beweeg van hoe om oor transformasie te dink na hoe om dit te implementeer," sê Fataar.

Die proses het ook aanleiding gegee tot verskeie akademiese artikels en publikasies, asook 'n boek, getiteld Evoking Transformation: Visual redress at Stellenbosch University, wat hy saam met prof Elmarie Constandius, 'n medeprofessor in Beeldende Kunste en koördineerder van die MA in Beeldende Kunste by die US, geskryf het. Costandius en Fataar is albei lid van die Universiteit se Visuele Regstellingskomitee.

Aangesien hy vir twee jaar ingegrawe was in die vele dimensies van transformasie, was Fataar in die perfekte posisie om die Universiteit se reaksie op die Khampepe-verslag te lei. Die verslag, wat in November verlede jaar vrygestel is, het op 'n ondersoek na bewerings van rassisme by die US gevolg en is saamgestel deur oudregter Sisi Khampepe.

Fataar is versoek om saam met drr Leslie van Rooi en Zethu Mkhize en prof Nico Koopman 'n reaksie op die Khampepe-verslag te ontwikkel. Dit het hom gelanseer om die hoof van die CIRCoRe-proses te word. Fataar en sy span het die afgelope paar maande baie hard gewerk om die opdrag te finaliseer en hulle het wyd met belanghebbendes gekonsulteer. “Ons moes die gesprek lei, die aanbiedings doen, die terugvoer kry, die konsep aanpas en die konseptuele voorwaardes en die struktuur van ons reaksie opstel."

Fataar sê daar was algemene eenstemmigheid by die US dat die aanbevelings van die Khampepe-verslag voorrang moes geniet sodat dit nie net nog 'n verslag sou word wat iewers op 'n rak lê en stof vergader nadat die aanvanklike ophef oorgewaai het nie.

Hy maak dit duidelik dat die CIRCoRe-proses nie die US se bestaande transformasiestrukture vervang nie, maar dat dit gesamentlik sal loop om stukrag aan die transformasie-agenda te gee ten einde die uitkomste te verbeter. “Die Khampepe-CIRCoRe-kantoor is 'n projek wat deur die US Transformasiekantoor en die Rektoraat gevorm word. Ons sal ook gereeld aan die Senaat, Raad en die Institusionele Forum verslag doen," verduidelik hy.

Die bevindings en aanbevelings van die Khampepe-verslag word in vyf werkstrome verdeel wat op 'n geïntegreerde manier deur die CIRCoRe-koordineringskantoor bymekaargehou word. Altesame 75 Universiteitslede het die Rektoraat se aanbod aanvaar om in die onderskeie werkstrome te dien.

Fataar se rol is om die werkstrome te koördineer deur baie nou saam te werk aan verskeie dimensies van hulle reaksies, asook om gesprekke en konsultasies met belanghebbendes van die Universiteit regoor en buite die Universiteit te stuur.

Die vyf werkstrome is:

  • ​Studentelewe/-gemeenskappe;
  • Die moontlikhede van 'n verpligte kernkurrikulumaanbieding wat ons studente doelbewus die Grondwetlike waardes van menseregte, nierassigheid, waardigheid en respek leer;
  • Die belyning van die US se institusionele kultuur met 'n etos van demokratiese menseregte;
  • Ras, menslike kategorisering en wetenskap; en
  • Vereenvoudiging en belyning van die Universiteit se strukture, beleide en regulasies ten opsigte van transformasie.

     

“Elke werkstroom sal hulle eie mandaat opstel en wat ons die 'model vir inklusiewe gemeenskap van praktyk' noem, moet vestig. Die werk sal eerstens behels dat die probleem behoorlik verstaan moet word. Dit sal navorsing, insameling van inligting en stel van scenario's beteken. Dan sal die onderskeie werkstrome begin beraadslaag oor hoe om die kwessies op te los. Elke groep sal met implementeerbare aanbevelings vorendag moet kom ten einde op die aanbevelings van die Khampepe-verslag te reageer."

Volgens Fataar is 'n voorbeeld hiervan die aanbeveling om 'n verpligte kernkurrikulum bekend te stel sodat alle studente die Grondwetlike waardes van menseregte, nierassigheid, waardigheid en respek kan leer.

“Ons sal ons dus moet afvra wat dit in kurrikulumterme beteken. Dit sal waarskynlik maklik wees om dit by die geesteswetenskappe, opvoedkunde en regsgeleerdheid in te sluit, maar hoe doen jy dit in ingenieurswese en rekeningkunde? Gelukkig bestaan daar reeds demokratiese burgerskap-georiënteerde kurrikulums in sommige fakulteite, so die uitdaging is om dit as 'n grondslag te gebruik en dan insette te kry en konsensus te bereik oor hoe om dit behoorlik op elke akademiese vakgebied toe te pas."

Die proses moet so inklusief as moontlik wees en moet 'n wye verskeidenheid uiteenlopende menings insluit, beklemtoon Fataar. “Ons het belowe dat ons die gesprekke in die werkstrome na die verskillende groepe en al die belanghebbendes sal terugneem. Die kuns gaan wees om almal aan die praat te kry en om die kommunikasiekanale oop te hou."

Fataar beskryf die proses 'n soort “luisterveldtog". “Dit gaan ook daaroor om 'n wedersydse kultuur van gesprek, respek en verdraagsaamheid te kweek."

Die kern van die Khampepe-verslag is die Grondwetlike verpligting, gewortel in menseregte, om die Universiteit te stuur om waarlik inklusief te word. “Ons moet in hierdie proses lewe blaas in die Suid-Afrikaanse Grondwet. Ek sien my rol as die skepper van eenstemmigheid en nie as die aandrywer van harde retoriek rondom transformasie nie."

Fataar is eerste om te erken dat transformasie 'n ingewikkelde proses is en dit sal uiteraard diepgesetelde gevoelens van pyn en woede in sommige hoeke te ontbloot. “Daar is plek-plek vervreemding op kampus en verskillende soorte wrokke wat ons te bowe sal moet kom. Dit sal dalk baie uitdagend wees om die uitsluitingsdinamika wat steeds bestaan, oop te breek."

Hoewel die CIRCoRe-kantoor bedoel is om vir twee jaar besig te wees, het Fataar 'n langtermynvisie vir die transformasieproses. “Jy kan nie 'n organisasie wat so kompleks en enorm soos die US is, binne twee jaar omkeer nie, maar kan sterk boustene vestig wat die Universiteit vorentoe sal neem na die volgende dekade."

Fataar erken hy was nog nooit iemand wat 'n aanmatigende morele houding ingeneem het en op die kantlyn bly sit nie.

“Ek volg 'n tipe aktivis-benadering tot my lewe en werk waaruit ek energie en motivering put om probleme en uitdagings stelselmatig aan te spreek. Ek wil my hande vuil maak en strategies dink oor transformasie in die ingewikkelde konteks van die universiteitslewe. My rol by CIRCoRe stel my in staat om my etiese onderneming na te kom deur strategies en konkreet te wees in die 'regte lewe' van institusionele uitbouing."

Fataar se gesin is almal US-alumni en sal ongetwyfeld 'n ondersteunende rol oor die volgende twee jaar speel. Sy vrou, dr Najwa Norodien-Fataar, het in 2016 haar PhD onder leiding van prof Doria Daniels in die US se Departement Opvoedkundige Sielkunde behaal. Najwa is tans 'n senior dosent en Hoof: Kurrikulumontwikkeling by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie. Sy dogter, 'Imadah, het by die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe afstudeer en werk tans by UWK. En sy seun, Sa'eed, wat in Desember 2022 sy graad by die US se Fakulteit Ingenieurswese behaal het, is tans met sy meestersgraad in Megatroniese Ingenieurswese by die Universiteit besig.

Danksy sy wye ondervinding in middelvlakbestuur by 'n universiteit, beskik Fataar oor uitgebreide mens- en prosesbestuursvaardighede. Hy beskryf homself as 'n “gewillige student en aanpasser by die vereistes van die taak wat verrig moet word". Sy werk as 'n akademikus wat op hoëronderwysbeleid en kwalitatiewe navorsing oor studente fokus, plaas hom 'n gunstige teoretiese posisie om sukses te behaal met die taak wat vir hom voorlê in die CIRCoRe-kantoor.

Om so 'n veelvlakkige inisiatief te lei, beteken daar bestaan nie iets soos 'n tipiese werksdag vir die besige professor nie.

“My werksdag begin vroeg en hou tot laat aan. Ek moet daagliks baie vergaderings bywoon, beplanning doen en konsulteer oor die CIRCoRe-proses. Ek lees baie op en skryf oor die verskillende vlakke van die proses. Ek is ook steeds die studieleier vir 12 studente wat met hulle tesis besig is en doen navorsing en skryf. Die bywoning van konferensies en werkswinkels is ook deurlopend deel van my werk."

So tussen sy werksverpligtinge deur stap hy om fiks te bly en probeer ten minste drie of vier keer per week oefen. Tuis ontspan Fataar deur na stroomuitsendings van TV-programme en sport saam met sy gesin te kyk. En elke nou en dan hou hy daarvan om terug te keer na 'n liefde wat in sy jongdae onstaan het – lekeprediking en mentorskap vir jongmense.

  • 'n Daglange CIRCoRe- en werkstroomwerkswinkel word 13 Mei 2023 gehou waar 'n omvattende roetekaart en lewerbare doelwitte vir elke werkstroom die proses oor die algemeen ontwikkel sal word.