Nienke Osborne is op haar gelukkigste wanneer sy stories kan vertel en met mense kan omgaan, hetsy as 'n nuusleser vir die kampusradio, MFM, of in haar rol as 'n private akkommodasiebeampte. Sy leef, werk en studeer in Stellenbosch.
Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Hieronder verduidelik Nienke wat haar werk alles behels.
Wat behels jou rol by die US?
Ek is die private akkommodasiebeampte by die Studente-akkommodasiekantoor, derhalwe behels my rol die voortdurende monitering van die akkreditasieproses. Ek help met plasings by senior koshuise en Private Studente-organisasiehuise en hanteer navrae en klagtes van studente, ouers en huisbase. Ek streef daarna om positiewe verhoudings met interne en eksterne rolspelers te bou.
Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?
Dit hang van die dag af, maar daar is altyd baie koffie betrokke. My werk is kliëntgebaseerd, so die grootste deel van my dag behels om studente en huisbase met hulle navrae te help. Ek is ook by die akkreditasieproses van private huisvesting betrokke en 'n groot deel van my dag behels kommunikasie met huisbase, studente en ons Voorgraadse Beurskantoor, terreinbesoeke, vergaderings en administratiewe take wat met die prosessering van geakkrediteerde huivesting verband hou.
Ek probeer wel om oor etenstye uit die kantoor te kom – om 'n vriend vir koffie te ontmoet of in Victoriastraat of in die winkelsentrum te gaan stap. Donderdae lees ek van 5 nm. tot 6 nm. die nuus op MFM 92.6.
Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?
Ek het in Stellenbosch grootgeword en my voorgraadse studies en honneursgraad in geskiedenis aan die US voltooi. Mense se stories het my nog altyd gefassineer en dis hoekom ek mal oor geskiedenis is. Ek hou daarvan om in die argiewe rond te snuffel. My liefde vir radio het in graad 12 begin, toe ek aan een van MFM 92.6 se eerste Somerskole deelgeneem het. Ek het geweet dis iets wat ek wil doen. Ek het dwarsdeur my voorgraadse studies die nuus- en sportbulletins op MFM gelees. Ek geniet dit om terug by MFM te wees en die nuus te lees.
My opvoeding het my gehelp besef dat harde werk belangriker is as om slim te wees. Geduld en oop kommunikasie is noodsaaklik. Moenie bang wees om vir hulp te vra nie en wees nuuskierig terwyl jy jou kennis van die wêreld rondom jou probeer uitbrei. My voringe ervaring as 'n vliegtuigbemanningslid het my gehelp om kalm in spanningsvolle situasies te bly.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek is bevoorreg om 'n lid van 'n wonderlike span te wees en in 'n gesonde en produktiewe omgewing te werk waar ek die geleentheid het om te groei en te leer. En dan was radio nog altyd vir my 'n metgesel en 'n vriend en ek geniet dit om terug op die lug te wees.
Vertel ons iets opwindends of interessants oor jouself wat min mense sou verwag?
Ek het ses maande lank as 'n bemanningslid van Qatar Airlines gewerk. Dit het my die geleentheid gebied om die wêreld anderkant die US te verken en mense van verskillende lande en kulture te ontmoet. Ek het kort voor die aanvang van Covid-19 besluit om huis toe te kom en vir my meestersgraad in geskiedenis aansoek te doen. Ek gaan hopelik einde vanjaar graad vang.
Fotograaf: Stefan Els