Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vennootskappe help universiteite om ontwrigters in hoër onderwys te hanteer – Prof Hester Klopper
Outeur: Hester Klopper
Gepubliseer: 02/05/2023

Globale verskuiwings in die demografie van bevolkings en versnelde digitalisering is van die grootste ontwrigters wat die hoëronderwyslandskap vinnig laat verander. Medewerkende vennootskappe kan universiteite help om hierdie en ander ontwrigters op 'n behendige manier te hanteer, skryf Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, in ʼn meningsartikel vir University World News.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Hester Klopper*

Universiteite wêreldwyd staar wydverspreide uitdagings in die gesig te midde van die onsekerheid van geopolitieke spanninge. Globale verskuiwings in die demografie van bevolkings en versnelde digitalisering is van die grootste ontwrigters wat die hoëronderwyslandskap vinnig laat verander. 

Instellings moet maniere vind om hierdie ontwrigters op 'n behendige manier te hanteer ten einde meer toeganklik en toekomsgerig in 'n mededingende globale hoëronderwysomgewing te wees. Universiteite wat hulle voete sleep om dit te doen, loop die gevaar om irrelevant en stagnant te word.

Demografiese veranderinge

Die wêreldbevolking is vinnig aan die toeneem, veral in Afrika, waar daar teen die middel van hierdie eeu een miljard kinders op die vasteland sal wees. Teen 2050 sal twee uit elke vyf kinders wat in die wêreld gebore word, van 'n land in Afrika afkomstig wees. Afrika steek nie net Suid-Amerika, Europa en Asië ten opsigte van bevolkingsgroei verby nie, maar sy bevolking raak ook al hoe jonger. Nagenoeg 77% van die Afrika-bevolking is reeds jonger as 35 en die gemiddelde ouderdom is 19 en raak steeds jonger.

'n Jonger bevolking beteken meer studente en teen 2050 sal daar 'n bykomende twee miljard meer universiteits- en alternatiewe post-sekondêre gegradueerdes wêreldwyd wees. Sowat 'n driekwart van die een miljard post-sekondêre studente wat oor die volgende 30 jaar sal gradueer, sal uit Afrika en Asië kom.

Met hierdie verbysterende demografiese verskuiwing in gedagte, moet ons oplossing vind oor hoe ons huidige onderwysmodelle toegang sal lewer teen die skaal, gehalte en spoed wat nodig is om aan hierdie ontluikende vraag te voldoen. Studente moet nuwe vaardighede vir globale bevoegdhede aanleer sodat hulle wêreldburgers kan word wat kennis deel, die nuwe wêreld van werk omarm en aan navorsing vir impak kan deelneem wat die lewens van hulle plaaslike gemeenskappe kan help verbeter. 'n Uitbreiding van ons digitaliseringspogings sal hier baie belangrik wees.

Digitalisering

Dit is drie jaar sedert die pandemie wat as die katalisator vir groter digitalisering en innovasie gedien het en wat universiteite genoop het om nuwe en alternatiewe maniere van onderrig en navorsing te ondersoek.

Met ChatGPT en kunsmatige intelligensie (KI) wat al hoe algemener word, moet ons die vooruitgang in digitalisering en tegnologie in die onderwys onder die loep neem. Hierdie innovasies moet ingebed wees in onderwyslewering en leer-onderrig-prosesse. Ons sien reeds virtuele en gesimuleerde opleiding in volwasse opleiding en vaardigheidsontwikkeling, asook in formele onderwysomgewings. Daar is wêreldwyd 'n voorwaartse poging om aanlyn programme en opleiding in digitale vaardighede te versnel om hierdie programme aan te bied. Aanlyn, hibridiese en hyfleks (elke klassessie en leeraktiwiteit word persoonlik, asook gelyktydig en ongelyktydig aanlyn aangebied) leer sal al hoe algemener word na mate instellings hulle globale reikwydte vergroot.

Hoewel die onderwys nog steeds ernstig ondergedigitaliseer is, sal die globale besteding op opvoedkundige tegnologie volgens vooruitskatting van $152 miljard in 2018 tot $342 miljard in 2025 groei.

Maar daar lê nog vir ons 'n lang pad voor. 

Volgens PwC se Suid-Afrikaanse Visekanselier-opname (2022) glo meer as 70% respondente dat die hoëronderwyssektor agter die korporatiewe sektor is ten opsigte van digitale transformasie. Die helfte van die visekanseliers het egter gesê hulle begroting vir innovasie is hoër as in vorige jare. Dit dui op vordering wat gemaak word, maar meer moet gedoen word om digitale toegang te verbeter.

Die verslag noem ook dat universiteite 'n unieke geleentheid het om nuwe onderrigmodelle te skep in reaksie op veranderende onderwysbehoeftes. Dit dui op nuwe universiteitsmodelle.

Ons sien reeds die vermenigvuldiging van mikro- en alternatiewe sertifikate wat deur aanlyn platforms of lewenslange onderwyseenhede behaal is. Daar is 'n toenemende vraag na leer in die werklike praktyk, met deurlopende opleiding regdeur 'n loopbaan. Werk-geïntegreerde leer en die deurlopende behoefte aan vaardigheidsontwikkeling en heropleiding sal profiele van volwasse leerders verander.

Medewerkende vennootskappe

Ten einde hulle pad deur 'n snelveranderende landskap te vind met verskuiwings in die demografie van bevolkings en versnelde digitalisering, moet universiteite verder as hulle grense kyk om met vennote en netwerke te skakel ten einde die groter voordeel vir hoër onderwys wêreldwyd te verseker. Vennootskappe is noodsaaklik om universiteite te ondersteun in die versnelling van hulle institusionele doelwitte en oogmerke en om transformasie deur tegnologie aan te dryf. So sal hulle in staat wees om aan te pas en saam te werk om aan die veranderende eise van 'n groterwordende poel studente te voldoen wat die toekomstige werksmag gaan word.

Dit is dus bemoedigend dat daar volgens die ontledingsplatform HolonIQ in 2021 meer as 340 nuwe universiteitsvennootskappe wêreldwyd gesmee is ten einde aanlyn programme te versnel en meer as 200 nuwe universiteitsvennootskappe met kort, intensiewe opleidingskursusse gevestig is om versnelde digitale vaardighede te bied. Digitale innovasie het dit vir universiteite makliker gemaak om kennis te deel en om saamskepping oor grense heen aan te moedig.

Wat transformatiewe vennootskappe en internasionale medewerking met netwerke aan betref, gee die Universiteit Stellenbosch die pas aan. Met een van die grootste internasionale voetspore van alle Suid-Afrikaanse universiteite het die US vennootskappe met meer as 450 instellings in meer as 70 lande. Die Universiteit is lid van 36 netwerke wêreldwyd, waarvan 13 in Afrika en 23 elders in die wêreld is. Sy studente neem gereeld aan uitwaartse mobiliteitsgeleenthede deel en die US het vanjaar n rekordgetal van 650 internasionale semesterstudente van regoor die wêreld verwelkom. Die Universiteit het tot op hede meer as 40 gesamentlike doktorsgraadprogramme saam met internasionale vennootuniversiteite opgelewer.

Hoewel die US 30 jaar gelede sy internasionaliseringspogings geformaliseer het met die bekendstelling van 'n toegewyde kantoor vir internasionale verhoudings – bekend as US Internasionaal, werk akademici al vir baie langer regoor nasionale en kontinentale grense heen om wetenskap te bevorder en nuwe kennis aan te moedig. Danksy hierdie verbintenisse is die US nou deel van die Globale Alliansie van Universiteite oor Klimaat (GAUC), die Konsortium van Universiteite vir Globale Gesondheid (CUGH), die Alliansie van Afrika-navorsingsuniversiteite (ARUA), asook onder meer EUTOPIA, INU en SGROUP.

Op hierdie kritieke oomblik in hoër onderwys, kan die waarde en belangrikheid van hierdie soort vennootskappe om sleutelontwrigtings te hanteer, nie genoeg beklemtoon word nie. Universiteite sal vorentoe hulle vennootskappe moet gebruik om die seismiese verskuiwings in hoër onderwys te identifiseer en as hefboomkrag te gebruik sodat hulle die maniere kan optimaliseer waarop studente en personeel met groter betekenis wêreldwyd deelneem. Ons is by die Universiteit Stellenbosch gereed om ons portefeulje van omvattende vennootskappe met universiteite en netwerke van al die uithoeke van die aarde uit te bou en uit te brei ten einde te verseker dat ons toekomsgereed is en om navorsing met impak in diens van die samelewing uit te voer.

*Prof Hester Klopper is Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake by die Universiteit Stellenbosch.