Dr Nicky Newton-King* is op 17 April 2023 as die 14de voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch verkies – die eerste vrou om hierdie amp in die Universiteit se 105 jaar te beklee. Sy het met Desmond Thompson in 'n onderhoud vir Korporatiewe Kommunikasie gesels.
DT: Baie geluk. Hoe voel jy oor jou nuwe amp?
NNK: Baie dankie. Eerstens het ons 'n baie groot verlies gely met die skielike heengaan van my voorganger, Ainsley Moos, aan die einde van Januarie. Hy was baie geliefd en almal het hom gerespekteer. Ek het in daardie stadium as sy adjunk maar al te goed besef hoe groot die leemte was wat hy gelaat het wat ek as waarnemende voorsitter sou moes vul.
Ek voel geëerd dat die Raad my amptelik verkies het. Ek aanvaar die verantwoordelik met groot nederigheid en pligsbesef.
DT: Jy het by die Raadsvergadering lede versoek om mekaar op hulle voorname aan te spreek, eerder as om titels te gebruik. Waarom?
NNK: Ek vind titels staan partykeer in die pad van kommunikasie. Die Raad het die mees uitsonderlike lede wat almal ongelooflike groot hoogtes bereik het. En wat jy genoem word, moet in elk geval minder belangrik wees as die verskil wat jy vir ander maak. Maar dit is persoonlik en waarmee mense ook al gemaklik is, is reg. Ek is tevrede om “Nicky" genoem te word.
DT: Wie is Nicky Newton-King?
NNK: 'n Dogter, suster, vrou en ma. 'n Trotse Matie en Suid-Afrikaner.
Ek is baie lief vir stap en is altyd op die uitkyk vir 'n nuwe staproete. Ek is ook baie lief vir kosmaak, maar my twee seuns oortref my heeltemal. Ek is lief vir nuwe plekke, maar haat dit om te vlieg. Ek hou ook daarvan om individueel met mense te gesels, maar is baie skaam in 'n groot groep.
DT: Wat en wanneer het jy aan die US gestudeer?
NNK: Ek het in 1989 my BA LLB voltooi.
DT: Waar kom jou belangstelling in die regte vandaan en waarom Maties?
NNK: Ek dink ek is 'n gebore regsgeleerde. My pa was 'n passievolle regsgeleerde en ek het gereeld in my kinderjare na sy stories geluister oor die Ou Hoofgebou en die regsreuse wat daar klas gegee het. Van my beste herinneringe is eindelose besprekings rondom die eetkamertafel oor die reg en die politiek, maatskaplike geregtigheid en voorreg, asook die verantwoordelikhede wat dit meebring. Toe ek dus moes besluit waar ek wou gaan studeer, was Stellenbosch my outomatiese keuse.
DT: Vertel ons meer oor jou studentejare.
NNK: Dit was vyf van die mees stimulerende jare van my lewe en het met die laaste dae van Apartheid oorvleuel. Onafhanklike kandidate het op daardie tydstip vir die eerste keer op Stellenbosch en in die Helderberg ernstig in die verkiesings geveg. Vriende en professors het buite ons landsgrense met die ANC, wat toe nog verban was, vergader. Stellenbosse politici was miskien op die oog af baie mak, maar die seismiese golwe was besig om diegene met die mag in die hand te bereik.
Ons het in die lesingsaal die gevestigde reg geleer, maar die land was besig om te verander.
Ons het Stellenbosch verlaat met die wete dat die land aan die verander was, dat alles uitgedaag sou word en dat ons daardie verandering kon bewerkstellig. En ek is uiters dankbaar vir die krag van daardie boodskap.
Ons sal die sappige deeltjies op 'n ander keer deel …
DT: Wat het jy gedoen nadat jy by Maties afstudeer het?
NNK: My pa is die Saterdag voordat ek my LLB-graad sou ontvang, in 'n ongeluk op die plaas oorlede, maar ek weet hy was bly dat ek gekies het om by sy alma mater in sy voetspore te volg. Ek het ná my gradeplegtigheid 'n jaar lank saam met my toekomstige man oorsee gaan reis en werk.
DT: Hoe het jou ma jou beïnvloed?
NNK: Ek het by my ma geleer hoe belangrik dit is om hard te werk. Sy is nou afgetree, maar was 'n professionele boer. Sy het elke oggend douvoordag opgestaan om vrugte te pluk, die trekker te bestuur, vrugtepryse te beding en die bestuur van die plaas te behartig.
Ek het al van jongs af besef vroue het 'n plek by die tafel. Ek het nooit gevoel ek moet myself bewys nie. Ek het met die wete grootgeword dat jy enigiets kan doen as jy bereid is om hard te werk.
DT: Wat doen jou seuns?
NNK: Ons oudste is besig met sy honneurs in Antieke Kulture en ons jongste seun doen liefdadigheidswerk in Afrika.
DT: Hoe het jy by die JSE beland?
NNK: Ek het my klerkskap by die regsfirma Webber Wentzel gedoen en my eerste kliënt op my heel eerste dag was die JSE aangesien die persoon saam met wie ek gewerk het, hulle buiteprokureur was. Ek het ná afloop van my klerkskap my meestersgraad in effektereg aan Cambridge-Universiteit voltooi, waarna ek 'n vennoot by Webber Wentzel geword en toe by die JSE aangesluit het.
DT: Vertel ons van jou tyd by die JSE.
NNK: Dit het alles daaroor gegaan om die JSE se DNS te herskep. Ten tye van my aankoms was die JSE bleek, manlik en verouderd. Ek het die week begin toe ons die JSE-vloer gesluit het. Ek het saam met my baas van daardie tyd en sommige van my uitvoerende kollegas die plek getransformeer. Teen die tyd dat ek die JSE verlaat het, het ons twee Suid-Afrikaanse beurse gekoop, drie keer van sleutelhandeltegnologie verander en was 60% van ons personeel swart en 52% vroue. Dit was ekonomies 'n moeilike tyd, maar ons het goed gevaar. Ek was gek daaroor.
DT: Hoe het jy op die Raad beland?
NNK: Ek het nooit gedink ek sou by die oorsigbestuur van die Universiteit betrokke raak nie en toe donateurs my vra, het ek nie kon droom dat dit op 'n senior vlak sou wees nie, want daar was ander wat voor my in die tou was. Maar die lewe gebeur en ek het in die besluitnemingsposisie beland.
Dit is egter 'n voorreg om betrokke te wees en leiding van die Raad se kant af te verskaf. Ja, daar is 'n bietjie geraas op die oomblik en dit moet ernstig opgeneem word. Maar ek is opgewonde oor die potensiaal van die Universiteit se visie om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word, en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder".
DT: Hoe vergelyk die US van 2023 met die een van 1989.
NNK: Dit is baie anders. Die pragtige ou geboue is steeds hier en indrukwekkende nuwes het bygekom, maar wanneer jy nou op die kampus rondstap, is dit gevul met diversiteit, met mense wat 'n positiewe verskil wil maak. Die US het 'n nasionale bate van belang vir die hele land geword, terwyl dit ook intens fokus op wêreldwye skakeling en navorsing wat relevant is vir die wêreld.
DT: Aan wie behoort die Universiteit Stellenbosch?
NNK: Stellenbosch het 'n lang en gekoesterde geskiedenis as 'n Afrikaanse universiteit, en dit sal altyd deel van ons storie bly. Maar soos alle groot universiteite is dit 'n instelling vir die eeue wat saam met die tyd aanbeweeg. So ons moet gemaklik wees daarmee.
Stellenbosch is Suid-Afrika se universiteit en dit behoort aan ons almal – die stigters, die alumni wat hier afstudeer het, die huidige studente, die personeel en die gemeenskappe rondom ons kampusse.
Stellenbosch is 'n florerende, lewendige, transformerende en sistemies volhoubare universiteit met 'n kultuur van innovasie en entrepreneurskap wat behendig reageer op die behoeftes van die samelewing en die gemeenskappe wat ons dien.
DT: Hoe sien jy die spanning wat soms in die Universiteitsgemeenskap ontstaan?
NNK: Universiteite gaan oor die stryd van idees. So daar sal spanning wees, maar wat ons nie moet doen nie, is om op mekaar te skree. Ons sal nooit op daardie manier kan saamstem nie. Ons moet eerder met 'n oop gemoed met mekaar praat en na mekaar luister.
'n Universiteit sal nooit alle dinge vir almal kan wees nie. Ek is gemaklik daarmee. Maar jy wil verseker almal voel hulle word gehoor.
DT: Hoe voel jy oor transformasie?
NNK: Transformasie is 'n uiters belangrike opdrag aan elke instelling in die land. Dit raak die DNS van 'n instelling en die belanghebbendes wat dit uniek maak. Dit gaan met vrees en hoop, asook met geleefde teleurstellings en toekomstige geleenthede gepaard.
Ons moenie verbaas wees dat gebeure op ons kampusse somtyds 'n instelling vertoon wat nog 'n pad het om te stap vir alle belanghebbendes om te voel hulle behoort, hulle word gerespekteer en dat hulle hulleself kan wees nie.
Ons rol as leiers is om ons transformasiereis met volwassenheid en moed te rig, terwyl ons erken dat wanneer ons kwessies oor nalatenskap en billikheid moet hanteer, dit die beste vir ons belanghebbendes sal wees om uiteenlopende stemme in te span om ons moeilikste probleme op te los. En daardie prosesse vind met die robuustheid en intellektuele fokus plaas wat 'n mens van 'n hoëronderwysinrigting sou verwag.
Daar sal ongelukkig pynlike oomblik op die reis wees. Maar volwasse leiers sal vra wat ons uit daardie oomblikke kan leer. So, laat ons al die dinge verstaan wat ons moet verander, ten einde te verseker dat mense se geleefde ervarings met die goeie bedoelings ooreenstem wat die Universiteite in sy beleids- en strategiese dokumente uiteensit.
DT: Wat is die Raad se rol ten opsigte van bestuur?
NNK: Die Raad is 'n nie-uitvoerende liggaam en speel geen bedryfsrol nie. Dit is die bestuurspan se verantwoordelikheid om die Universiteit te bestuur.
Hoewel 'n universiteit aansienlik van 'n korporatiewe maatskappy verskil, voel die US Raad se sleutelverantwoordelikhede tog vir my bekend en moet dit in die beste belang van die instelling uitgevoer word. Ons s'n is om te verseker die Universiteit is op die regte strategiese koers, dat dit volhoubaar bly, dat die bestuur stabiel en uitstekend is en dat ons sy reputasie beskerm.
Die Raad het 'n oorsigtelike en raadgewende rol. En ons kompas is dít wat in die beste belang van die Universiteit is.
Die Khampepe-kommissie is 'n goeie voorbeeld. Die Universiteitsbestuur het verlede jaar oudregter Sisi Khampepe aangestel om na aanleiding van spesifieke voorvalle die stand van rasseverhoudings by die Universiteit te ondersoek. Die verslag wat gevolg het, dui aan dat sommige studente en personeel se geleefde ervarings was dat hulle onwelkom voel by wat veronderstel is om ook hulle universiteit te wees.
Dit is nie iets wat jy wil hê nie. So, die verantwoordelikheid om iets daaraan te doen, lê eerstens by die bestuur. En hulle het gereageer – deur 'n struktuur en proses vir die hele Universiteit in plek te stel om deur die implikasies van die Kommissie se verslag te werk.
Die Raad se rol is om te verseker daar is vordering in die ontwikkeling en inwerkingstelling van remediërende aksies.
DT: Wat van spanning binne die Raad?
NNK: Om op die Raad te dien is nie 'n oppervlakkige vredespoging nie. Ons is gelukkig om by die US 'n uiters diverse Raad te hê ten opsigte van onder meer ouderdom, geslag, ras, taal en agtergrond. Ondanks die feit dat die Raad relatief groot is (24 lede), strewe ons na robuuste, maar tog altyd eerbiedige gesprekke oor die kwessies wat saak maak.
Soos jy jouself kan indink, is ons besluite tipies ingewikkeld en moeilik omdat daar so baie op die spel is as 'n mens na uitnemendheid strewe. Maar ons moet bereid wees om hierdie besluite te neem. Daarom is ek gemaklik daarmee om verskillende perspektiewe rondom die tafel te hê. Ons moet in staat wees om die moeilike gesprekke te voer en dan oor 'n pad vorentoe ooreen te kom.
Die feit dat al die Raadslede hulle verantwoordelikheide só ernstig opneem dat hulle ons daglange vergadering bywoon, dat ons robuuste gesprekke oor moeilike kwessies soos transformasie en taal en 'n mosie teen die Visekanselier alles in een sessie kan hê, en dan op die ou einde op 'n pad vorentoe vir elke kwessie kan ooreenkom, is 'n teken dat ons 'n hoogs funksionele oorsigbestuursomgewing het. En dit is iets waarop die Raad kan trots wees.
DT: Jy is die eerste vrou om die Raad te lei. Hoe voel jy daaroor?
NNK: Ek was nogal verbaas daaroor toe ek dit uitvind. Ek was al dikwels in my lewe die eerste vrou in 'n spesifieke rol, maar dit was nog nooit my motivering om enigiets te doen nie. Ek het mettertyd die simboliese belangrikheid daarvan begin verstaan om deur die glasplafon te breek. Dit wys vir ander vroue dat hulle ook daarna kan strewe om enigiets te doen en enige pos of amp te beklee.
DT: Wat is jou boodskap aan die personeel en studente?
NNK: Ons instelling is goed geplaas om plaaslik, op die vasteland en internasionaal te presteer en ons moenie dit as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is uiters belangrik vir die land dat die Universiteit Stellenbosch as 'n baken van uitnemendheid en inklusiwiteit slaag. Ons het almal 'n rol om te speel om dit te bereik. Hoe ons dit doen, maak saak. So, ons moet die model wees van dít wat ons in ons land wil sien. Wat 'n voorreg om dit te kan doen.
* Dr Newton-King dien sedert 2 April 2022 in die Raad as 'n lid wat deur die donateurs van die Universiteit verkies is. Afgesien van haar BA LLB-grade van die US, het sy in 2021 'n eredoktorsgraad van haar alma mater ontvang en sy het ook 'n LLM-graad aan Cambridge-Universiteit behaal. Sy is 'n voormalige HUB van die JSE en dien in die groepsdireksies van Investec en MTN.