Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Waardevolle insig in doktorale studieleiding deur Australiese navorser gedeel
Outeur: E Els
Gepubliseer: 26/04/2023

​Ervare opvoeder en navorser Prof Elke Stracke van die Universiteit van Canberra in Australië het in April twee navorsingseminare by Fakulteit Opvoedkunde aangebied. "Terugvoer is die kern van enige leerervaring, en die gee en ontvang van terugvoer is 'n belangrike en integrale deel van nagraadse studieleidingspraktyk," het Prof Stracke gesê.

In die eerste seminaar, 'Terugvoer as dialoog in doktorale studieleiding' het sy bespreek wat terugvoer is, taalgebruik van studieleiers en kandidate se reaksies. Die Feedback Expectation Tool (FET) is verduidelik asook strategieë om effektiewe en dialogiese terugvoer te verskaf en te ontvang.

Delecia Davids, dosent in die Departement Kurrikulumstudie by Fakulteit Opvoedkunde, het gesê dat sy Prof Stracke se beskrywing van die verskillende tipes terugvoer baie nuttig gevind het. Dit het haar laat besin oor die maniere waarop sy terugvoer gee aan die studente wat sy onderrig. “Dit het my in staat gestel om die standaard tipe terugvoer wat ek gee te identifiseer en dit in gedagte te hou vir die toekoms. Die Feedback Expectation Tool was ook baie nuttig, en in die werkswinkel het dit my toegelaat om te sien wat my sienings en voorkeure met betrekking tot terugvoer is. Dit was waardevol aangesien ek nou bemagtig is om my studieleier te vra vir spesifieke soorte terugvoer, regdeur my doktorale reis. Die belangrikste deel was om terugvoer te beskou as 'n saamgekonstrueerde dialoog tussen student en studieleier, iets wat my studieleier vir my gemodelleer het, en wat ek sekerlik in die toekoms sal probeer navolg."

Prof Rule, medeprofessor in die Departement Kurrikulumstudies, het die seminaar waardevol gevind, nie net oor die Feedback Expectation Tool nie, maar ook oor die herinnering dat terugvoer daaroor gaan om studente te help om van hul huidige vlak van prestasie na die vereiste vlak te beweeg – om hul leer en ontwikkeling te fasiliteer. "Terugvoer behels ook studente se gevoelens en gevoel van eiewaarde – ons moet dit oorweeg in watter soort terugvoer ons gee en hoe ons dit gee," het prof Rule gesê.

Dr Feldman, 'n dosent in Opvoedingsbeleidstudies, het gesê dat 'n belangrike konsep vir haar is om daaraan herinner te word dat terugvoer in nagraadse studie daarop gemik moet wees om 'die gaping tussen die huidige en verlangde terugvoer te verklein'.

Die tweede seminaar, 'Leer uit mislukking in doktorale leer' het mislukking in die akademie en die kreatiewe veld ondersoek. Stracke het gesê dat mislukking in doktorale leer wel gebeur en dat sulke mislukking 'n groot uitdaging vir studieleiers en kandidate is. Daar is 'n behoefte om strategieë te ontwikkel vir suksesvolle kommunikasie rondom mislukking. Deelnemers het vertel van hul eie akademiese mislukkings en hoe dit hulle laat voel het. Stracke het vertel van 'n artikel wat sy jare gelede gesukkel het om gepubliseer te kry. Sy moes 'n geruime tyd daaraan werk voordat sy dit uiteindelik gepubliseer het. Ervarings soos hierdie kan 'n gevoel van mislukking skep terwyl jy in die proses is, maar jare later kan dit dalk as 'n leerproses beskou word. "Om mislukking te normaliseer kan persoonlike groei bevorder," het Stracke gesê. Prof Frick, visedekaan navorsing by die Fakulteit Opvoedkunde het bygevoeg dat wanneer mislukking gekommunikeer word, dit oor die werk gaan, maar dat die betrokke persoon ook geraak word daardeur en dat dit in ag geneem moet word.

Professor Stracke is betrokke by navorserontwikkeling oor alle stadiums van die navorsingsloopbaan aan die Universiteit van Canberra. Sy is die president van die Australian Linguistics Association of Australia (ALAA), wat leierskap verskaf in toegepaste linguistiek en die ontwikkeling van onderrig, leer en navorsing in die veld ondersteun. Sy is 'n toegepaste taalkundige wat haar kundigheid gebruik om taalverwante probleme op te los in kontekste soos nagraadse studieleiding en assesseringspraktyk, taalonderrig en kruiskulturele kurrikulumontwikkeling.

​Foto: Prof Liezel Frick (Visedekaan Navorsing, Fakulteit Opvoedkunde) en Prof Elke Stracke.​