Wêrelddag vir Kreatiwiteit en Innovasie is op 21 April gevier. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian, skryf prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, dat universiteite enjins vir innovasie en navorsing is waar kreatiewe idees na kennis en uitvindings omgeskakel word om die samelewing vorentoe te laat beweeg en ons mees dringendste uitdagings aan te spreek.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Universiteite is innovasie-enjins wat 'n positiewe invloed het
Sibusiso Moyo*
Wêrelddag vir Kreatiwiteit en Innovasie word jaarliks op 21 April gehou om bewustheid te skep oor die belangrikheid van kreatiwiteit en innovasie in probleemoplossing, ekonomiese ontwikkeling, die vooruitgang van die samelewing en om positiewe verandering in die wêreld te bewerkstellig.
Hoewel daar geen spesifieke manier is waarop 'n mens hierdie dag kan vier nie, dink ek dit is belangrik om erkenning te gee aan die rol wat universiteite, en spesifiek Afrika-universiteite, kan speel om knellende wêrelduitdagings op te los, lewens te verbeter en 'n positiewe verskil te maak. Talle belangrike deurbrake het vanuit universiteite gekom – van die ontwikkeling van die internet tot die ontwikkeling van nuwe entstowwe en behandelings vir siektes of oplossings vir klimaatsverandering.
As Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies by die Universiteit Stellenbosch (US) is ek ten volle bewus van hoe belangrik voorlopernavorsing en innovasie, uitstaande infrastruktuur en hoë-gehalte opleiding is om nuwe kennis te lewer wat nodig is om ons omgewings- en samelewingprobleme op te los.
Ek redeneer dat universiteite as die enjins vir innovasie en navorsing beskou kan word. Net soos 'n enjin brandstof in energie omsit om 'n masjien – soos 'n voertuig – te laat beweeg, skakel universiteite innoverende idees om na kennis en uitvindings om die samelewing vorentoe te laat beweeg en ons uitdagings in die samelewing aan te spreek.
En net soos die enjin uit verskillende onderdele bestaan (die silinderkop, silinderblok en oliebak), beskik 'n universiteit gewoonlik oor 'n kombinasie van hulpbronne wat innoverende denke en navorsing toelaat.
Dit sluit onder meer in talentvolle en gemotiveerde navorsers en studente wat voortdurend saamwerk om met nuwe idees en nuwe metodes vorendag te kom; goedtoegeruste laboratoriums, biblioteke en ander geriewe wat navorsing- en ontwikkelingsaktiwiteite kan ondersteun; ʼn netwerk van bedryfs-, regerings- en ander organisasies wat die ondersteuning en finansiering kan verskaf wat nodig is vir navorsings- en ontwikkelingsaktiwiteite; en 'n kultuur wat daarna strewe om in diens van die samelewing te werk en ook na uitnemendheid strewe.
Navorsing en innovasie in Afrika
Aangesien ek in Afrika werk en woon, kan ek nie die geleentheid laat verbygaan om te besin oor hoe belangrik navorsing en innovasie vir die vasteland is en oor die rol wat Afrika-universiteite in hierdie verband speel nie.
Ons het innoverende en kreatiewe oplossings vir Afrika se unieke uitdagings nodig wat met onder meer water, skoon energie, siektes, voedselsekerheid, onderwys en opleiding, grondeienaarskap en -gebruik, transformasie, tegnologie, gesondheid en behuising verband hou. Dit is hier waar tersiêre instellings in Suid-Afrika en die res van die vasteland deur medewerkende vennootskappe 'n waardevolle bydrae kan lewer deur die ontdekkings en uitvindings van hulle wetenskaplikes te gebruik om die samelewing ten goede te verander.
Daar is baie voorbeelde van hoe universiteite dit al gedoen het. Een onlangse voorbeeld is hoe ons land se wetenskaplikes in die Covid-19-pandemie innoverende metodes gebruik het om belangrike SARS-CoV-2-variante op te spoor.
Nog 'n voorbeeld is die nuwe Biomediese Navorsingsinstituut wat aan die voorpunt van biomediese navorsing staan en wat vandeesweek by ons Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ingewy is.
Hier kom van die voorste navorsers en studente in Suid-Afrika en die res van Afrika met kreatiewe maniere vorendag om siektes te ondersoek wat die grootste impak op die land en die res van die vasteland het. Hulle kan deur innovasie hulle ontdekkings gebruik om die diagnose, voorkoming en behandeling van siektes soos tuberkulose, kardio-metaboliese siekte, MIV, diabetes en neurologiese siektes te verbeter.
Indien universiteite plaaslik relevant, maar ook wêreldwyd mededingend wil wees, sal hulle kreatief moet wees in die manier waarop hulle help om uitdagings in die samelewing aan te spreek.
Hulle sal deurlopend op die unieke gebiede moet fokus waarin hulle met die verloop van tyd kundigheid ontwikkel en medewerkende netwerke met kennisvennote opgebou het. Dit sal hulle help om innovasie-enjins te bly waar kreatiewe breine se samewerking verder strek as vakkundige silo's ten einde oplossings vir van die dringendste uitdagings te vind.
Oor die algemeen speel universiteite 'n uiters belangrike rol in die kweek van kreatiwiteit en innovasie deur hulle navorsing, onderwys, medewerking, entrepreneurskap en openheid. Hulle bied 'n omgewing wat verkenning, proefneming en die ontwikkeling van nuwe idees aanmoedig wat 'n betekenisvolle uitwerking op die samelewing kan hê.
Net soos 'n enjin brandstof nodig het om te werk, het universiteite finansiering nodig om navorsingaktiwiteite in werking te stel en te ondersteun en om innovasie in samewerking met gemeenskappe, munisipaliteite, regerings en die private en openbare sektore tot voordeel van die samelewing as 'n geheel aan te dryf.
- Foto: Professor Sibusiso Moyo voor die Departement Joernalistiek-gebou. Fotograaf: Stefan Els
*Professor Sibusiso Moyo is die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die Universiteit Stellenbosch.