Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
A-gradering vir Universiteit Stellenbosch se bekroonde klimaat-veranderingskenner, Guy Midgley
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 19/04/2023

Professor Guy Midgley, tussentydse direkteur van die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Klimaatstudie, het 'n A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang wat eweknie-erkenning van sy internasionale leierskap in die aardstelselwetenskap weerspieël. ​

​Midgley is internasionaal bekend as 'n wêreldkenner op die gebied van veranderingwetenskap met 'n primêre navorsingsbelangstelling in biodivdersiteit en ekosisteemfunksionering, koolstofdinamika en spesie-aanpassing en uitwissingsrisiko. 

 “Ek is dankbaar vir die harde werk wat die NNS doen om hul individuele graderingstelsel te handhaaf wat deur ons universiteite erken word en Suid-Afrika se wetenskapstelsel se uitnemendheid en impak ondersteun," sê Midgley. 

 Die NNS-graderingstelsel is 'n maatstafstelsel wat navorsers met behulp van 'n uitgebreide netwerk van Suid-Afrikaanse en internasionale portuurbeoordelaars volgens navorsingsuitnemendheid en impak klassifiseer. 

 Graderings word op die gehalte en impak van onlangse navorsingsuitsette (oor 'n tydperk van agt jaar) gegrond. 'n A-gradering beteken Midgley word deur sy eweknieë as 'n vooraanstaande vakkundige op sy gebied beskou en dat hy internasionaal bekend is vir die hoë gehalte en impak van sy onlangse navorsingsuitsette. 

 Hierdie A-gradering van die NNS is die jongste op 'n lang lys toekennings in Midgley se loopbaan van byna vier dekades. Toekennings sluit die Humboldt-stigting se navorsingstoekenning vir 'n lewenslange bydrae tot die wetenskap en die Koninklike Vereniging van Suid-Afrika se Marloth-medalje vir uitstaande bydraes in en hy was 'n lid van die tussenregeringspaneel vir klimaatsverandering (IPCC) wat in 2007 die Nobelprys vir vrede ontvang het.

Hy het in 2014 op Thomson Reuters se lys van hoog aangehaalde navorsers verskyn en was in 2022 in die 180ste plek op die lys van die top 1 000 invloedrykste klimaatwetenskaplikes ter wêreld. Midgley is ook onlangs as president van die VSA-gebaseerde JRS Biodiversiteitstigting verkies wat 'n skenking van $50 miljoen gebruik om navorsing oor biodiversiteit-informatika in Suider-Afrika te ondersteun. 

 Hy is die skrywer en medeskrywer van meer as 200 wetenskaplike en populêre publikasies en is onlangs as hoofredakteur van die African Journal of Climate Studies aangewys.